Ware liefde verafsku wat God verafsku

liefde

Johannes 14:15:“As julle My liefhet sal julle My opdragte uitvoer.”

Soms sukkel mense om God en hulle eggenoot/eggenote voluit lief te hê soos wat God dit vereis. Hoekom? Die antwoord is eenvoudig. Mense verafsku nie wat God verafsku nie, daarom doen mense nie wat God van hulle vereis nie. Só kry die vyand vastrapplek in menseharte, wat uiteindelik wys in hulle lewe en liefde. Nodeloos om te sê, God, almal en alles behalwe hulself  word dan blameer vir hul eie mislikheid tesame met hul lewe en liefde wat ‘n mislukking is.

Wees gewaarsku, God verander jou persepktief voordat Hy jou omstandighede verander. God verander nie jou omstandighede nie omdat Hy jou hart eerste wil verander.

Ons moet elkeen leer om te verafsku dit wat God verafsku. Ons moet doelbewus kies om dan die “7 vrot eiers” uit ons eie harte se lewe- en liefdemandjie te gooi.

Spreuke 6:16-19. “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ‘n afsku het: oё wat straal van hoogmoed, ‘n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ‘n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook onder broers”

Waag dit om jouself aan hierdie woorde te meet. Gee jouself ‘n eerlike punt uit 7, ten opsigte van jou liefde vir God en jou liefde vir jou eggenoot/eggenote. Ondersoek jou eie hart se welstand rondom hierdie woord in God se teenwoordigheid.

  1. TROTS. “Oё wat straal van hoogmoed.” Trots is niks anders as selfsug nie. Selfsug beskadig onsself, ander en God. Dit is die sonde waaroor satan uit die hemel geskop is, onthou?!  Dit is die grond waarin alle sonde broei voor dit groei.
  2. LEUENS. “’n Tong wat lieg.” verwys na leuens in enige vorm. Jesus is die waarheid, terwyl satan die vader van leuens is. Waarheid en liefde is die hoekstene van God se karakter, dus daarom is enigiets wat die teenoorgestelede hiervan is die vyand van God.
  3. ONGEVRAAGDE GEWELD. “hande wat met bloed bevlek is” verwys na alle vorme van aanval, hetsy fisiek, verbaal of sielkundig. Hierdie tipe gedrag is nie die gedrag van ‘n vredemaker waartoe God ons roep nie.
  4. 4. ONSUIWER MOTIEWE. “gedagtes wat met komplotte besig is” verwys na alle duister en geheime motiewe wat ‘n persoon lei na sonde. God is nie bekommerd oor ons uiterlike voorkoms nie. God soek binne-in ons na ‘n hart wat rein en gevul is met suiwer motiewe. Ons hoef nie perfek te wees nie, ons moet net eg en opreg wees.
  5. REBELLIE. “voete wat vining in boosheid volg en net een koers ken” verwys na rebellie teenoor God en Sy Woord. Persone wat doelbewus kies om hul voete te rig in tree van boosheid, kies om ook doelbewus ‘n vyand van God te wees. Nogtans kan so ‘n persoon terugdraai na God wanneer hulle tot inkeer kom, hulle rebellie eg en opgreg bely voor God, en hulleself bekeer in Jesus Christus, deur daarvan weg te stap. Dit vra egter ‘n “gaan voort en sondig nie meer nie” om God se oop arms en genade te ontvang om vorentoe te kan beweeg met jouself, jou lewe en liefde.
  6. MISLEIDING. “’n getuie wat lieg” verwys na engiemand wat die waarheid verdraai, dit besoedel en mispresenteer om regverdigheid te ontken. God se liefde vir waarheid, reg en regverdigheid bring minagting vir ooneerlikheid en onregverdigheid.
  7. VERDEELDHEID. “iemand wat rusie stook tussen broers (en susters)” verwys na enigiemand wat dreig om vrede en eenheid te versteur. Ek kan nie anders as om te glo dat die rede hoekom God hierdie een heel laaste noem, is doodeenvoudig omdat Hy eenheid en vrede begeer terwyl satan baie hard probeer om verdeeldheid te bewerk om vrede te vernietig want dit het nie net krag nie, maar is kragtig.

Kyk ons hoekom God hierdie 7 dinge verafsku is dit baie duidelik dat dit niks anders in totaliteit is as ‘n hart wat vasgevang is in boosheid, wat lei na chaos. Dis nie ‘n hart wat gesetel is in liefde vir God en waarheid nie, maar ‘n hart gesetel in die vader van leuens, satan homself.

Die besef dat dood nie die einde van die pad vir ons lewe is nie, behoort die manier  van hoe ons lewe en liefhet te beïnvloed 24/7/365.

PS:  Wanneer mens leer om lief te hê in Jesus se voorbeeld, leer mens om te groei. Nie net verander en groei jy as mens nie,  maar ook die wêreld verander deur jou voorbeeld van ware liefde wat gesetel is IN JESUS CHRISTUS wat die Weg, die Waarheid , Lewe en Liefde is.

DEEL
Vorige artikelMamma moet nie vir haar ‘n pop koop…
Volgende artikelMaalstrome en storms
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag, het L-I-G in die dag geword. Haar lewe het vlerke gekry, dis tyd vir joune.