Warrelwind Sonskyn

waterval

Liewe lesers

Ek het die naam gekies vir hierdie rubriek, omdat ek dink dit is hoe ons meeste vroue kan beskryf. Ons is mos maar almal so bietjie warrelwind en so bietjie sonskyn. Ek gaan met julle gesels elke maand oor iets van alles. Meestal die lewe. Die Mamma-goed, die Werk-goed, die Kinder-goed, die Siel-goed.

Nou wil ek julle eers vertel hoekom ek vandag nie kan loop nie!

Ek en my vriendin Lizelle, is die naweek genooi om te gaan bedien by ‘n vroue konferensie in Lesotho. Ons het die fantastieste mense ontmoet en die wonderlikste mense bedien. Maar dit verduidelik nie my seer bo-bene nie. Om dit te verstaan, moet julle eers my verstaan. Ek is wat ons noem, die voller figuur. Met ander woorde, ek gaan gym toe omdat ek moet, nie vir ontspanning en gerief nie, maar geniet wel ‘n goeie cuppachino vir daardie doel. So die gevolgtrekking is, ek is redelik onfiks….

En hier volg die storie van die seer bo-bene. Die ywerige gym groepie saam met wie ek in Lesotho is, besluit dat hulle graag die waterval vir my en Lizelle wil gaan wys. Ons ry deur kronkels en draaie, oor klippe en hobbels. Ek kom skielik agter dat Lizelle ‘n kombinasie van hoogtevrees en kar-siek het, toe ek na haar kyk en sien sy het so groen-wit kleur hier om die mond hoeke.

Na kilometers van niks behalwe stof, grond erosie en afgronde, word ons tot ‘n halt gebring met die nuus dat ons van hier af verder gaan stap.  Die marathon-groepie begin toe hulle draf stap af na die waterval. Ek aan die ander kant, probeer toe net my bes om nie my nek te breek by die los klippe af nie.

Loop ‘n paar tree, skuur ‘n paar tree, land op jou boude ‘n keer of 2 en so gaan ek aan vir die hele, wat voel soos 10km af na die waterval. Onder gekom, het die ander al vergeet hulle was moeg en neem ons ‘n selfie en durf ons die pad terug weer aan. Die 3 vrouens spoed natuurlik toe voor uit.

En alhoewel ek my bes doen om by te hou, werk dit toe net GLAD NIE. So tussen die sweet wat uit my stroom soos die waterval waar ons sopas was, hyg ek na my asem en kry ek halfpad op ‘n paniek aanval en voel ek of ek die dood in die oe staar. Die 3 manne wat saam was, het my van agter ingehaal. Barend, een van die manne, het blykbaar die dood in my oe gesien, en beveel toe ‘n kort vakansie net daar op die klippe aan.

Nie dat ek veel van ‘n keuse gehad het nie, want my bene veraai my toe, en gee net daar onder my mee en slaan ek neer soos ‘n vrot vel. Eintlik weet ek nie of dit my bene of my ego was, of ‘n kombinasie van die twee nie.

Na die kort klippe vakansie skraap ek toe maar asem en moed bymekaar, en daar durf ons toe die bult verder aan. Bo gekom is dit ‘n gejuig deur die ander, maar ek is eenvoudig te moeg en die trane rol, net om my vernedering so bietjie te vermeerder. Maar wat het ek geleer? Wel, eerstens, ek is fisies tot meer instaat as wat ek gedink het. Tweedens, dat ek steeds oefening verpes, en derdens, mens gaan nie so maklik dood nie.

Ek kan wel vir julle vertel dat, so terwyl ek die dood in die oë gestaar het, het ek wel gedink: Ons het elkeen ‘n waterval in ons lewe. Wat is joune? En hoe durf jy hom aan? E-pos my gerus en vertel my jou waterval storie. Tot volgende keer.

Luzan