Wat die wêreld nie met Kersfees kan doen nie

Daar was liggies, ‘n koor, mense wat stukkies lees. Ons het opgestaan en weer gaan sit. Kersliedjies gesing. Die uur was verby.

Ek het uitgestap en gewonder waar my hart vanaand was?

Daar was niks fout met die kitare, orrel en viole nie. Die musiek was pragtig. Die kinderstemme suiwer. Liggies helder. Tog het ek vir ‘n oomblik gewonder of die Here ook daar was. Iemand het eendag genoem dat as die Here ver voel jy moet onthou dat Hy nie weggegaan het nie… daarom dat ek myself bietjie ondersoek.

By die kerkdiens sien ek oom Christo en tannie Anna, amper 90 jaar oud,  soos altyd op hulle pos. Tannie Anna se hande was nog nooit te krom om tee te help skink nie. ‘n Aandkerssangdiens is ook nie te laat vir hulle om by te woon nie. Wat is hulle geheim?

Gerjo-Ben skryf in een van sy kruiskerk boodskappe dat ons moet waak om uit ‘n erediens te stap en net te verwys na die goeie prediker. Die groot doel van ‘n erediens moet wees om na God te wys. Ek dink dis wat die meeste hoop om reg te kry.

Miskien is dit soms daar waar die probleem egter inkom. Hoe mooier en groter ons Kersfees probeer maak, hoe verder stap ons weg van die eenvoud van die stal.

As grootmense weet ons lankal dat Kersfees nie kan bly by die krip nie. Daar is soveel seer en stukkende mense in die wêreld, soveel onvolmaaktheid. In baie plekke is ons lewe so ver van Jesus se  boodskap. Hoe kry ons dit reg om die glans van Kersfees helder te hou?

Kyk ek na die kinders se glinsterende gesiggies besef ek dat die wonder van Kersfees jare gelede ook vir my gebore is in die wonder van ‘n baba Jesus, ‘n krip en die lekkerte van ‘n boom en geskenke. Daarom is die nodig dat oud en jonk dit saam moet vier. Kersliedjies laat ons immers onthou. Die Bethlehemster herinner ons aan die wonder. Tussen die liedjies kom daar ‘n boodskap deur.

Wanneer ons sing: Wyses en herders het dit eerste geglo, ontdek ek opnuut dat verskillende mense met verskillende agtergronde by dieselfde stal kon kniel.

Ons kan nie bly by die krip nie maar dis die plek waar ons weer so ‘n bietjie kind word. Waar ons opnuut ons geloof versterk en ons lampies vol hoop maak. Dan kan ons weer die wêreld en al sy probleme aanpak.

Wanneer die ongelukkige groen mannetjie in die fliek “The Grinch” Kersfees wil steel, ontdek die dogtertjie dat selfs al vat iemand jou geskenke en liggies, hy steeds nie Kersfees uit jou hart kan steel nie. Die wêreld kan Kersfees verander, ons kan die musiek mooier en beter maak, maar die ware Kersfees is die een wat altyd dieselfde bly.

Ons verlosser gebore in ‘n stal. Tannie Anna se geheim? Die antwoord vir oud en jonk.

Eer aan God in die hoogste hemele.

Die kerssangdiens was nie verniet nie, ek het die boodskap net eers vanoggend gekry.