Wat dink hy as jy jou met ander vergelyk?

0
254
dewald_wasserfal.jpg

Dewald Wasserfall kies sommer die hasepad as hy agterkom vroue vergelyk hulleself met ander. Hoe so? Doen mans dit dan nie?

Kan jy agterkom as daar onderlangs oor ander getjie-tjie word?

O ja! Dis om dié rede dat ek groot groepe vroue vermy. En hiermee bedoel ek een of meer dames. Ek ken daai gesig alte goed. Ek dink egter die mens is met ’n ingeboude nuuskierigheid gebore. Dis natuurlik om te wil weet of jy darem nog tred hou met die res van die spesie. Solank dit uit pure nuuskierigheid kom en jy nie geniepsig raak nie, kan dit seker nie skade doen nie.

Vertel Anél vir jou wat sy van ander dink?

Die hele tyd. Ek dink sy doen dit deels omdat sy weet sy sal só ’n opinie uit my kry. Of kan agterkom wat ek van haar “bevinding” dink. Oor die algemeen verwelkom sy my opinie, en respekteer sy dit as ek van haar verskil. Andersins help dit nogal as ek met haar saamstem oor alles wat sy sê. Ek ken darem haar voorkeure en afkeure teen hierdie tyd. Ek weet al wat sy gaan sê!

Wat dink jy daarvan as Anél haarself krities bekyk?

Ek probeer altyd ondersteunend wees. Ek herinner haar gewoonlik ook aan waarom ek juis met háár getrou het. En noem gewoonlik al die redes hoekom sy in die eerste plek my voete onder my uitgeslaan het. Nie ten spyte van haar tekortkominge nie, maar eerder as gevolg daarvan! Dis dan juis wat haar uniek maak, en een van die redes hoekom ek haar so liefhet. Anél is enig in haar soort.

Wat moet vroue eerder doen as om hulleself met ander te vergelyk?

Gaan spandeer tyd in Donna Claire of Baby & Company en maak vrede met dit waaroor jy nie mal is nie. As elke vrou net kan begryp hoe mooi en oulik sy eintlik vir haar man is. (Ek hoop Anél besef dit!) Nie omdat julle minder hare op julle lywe het as ons nie, of weet hoe die wasmasjien werk nie! Maar omdat ’n vrou se hart gewoonlik dieper spore as haar lyf in ons harte trap.

Sal die wêreld beter wees as ’n ander tydverdryf beoefen word?

Sjoe … Ek dink die standaard van vroue sal val! ’n Bietjie kompetisie is tog maar belangrik én gesond by tye. As niks jou motiveer om beter te wees nie, sal jy heel waarskynlik in swak gewoontes verval. En dit geld vir ons manne ook. Met al die balle wat die vrou deesdae in die lug moet hou, kan ek eintlik nie glo sy het nog die krag om haarself met ander te vergelyk nie.

Vergelyk julle mans julleself ooit met mekaar of nie?

Absoluut! Ek dink egter ons is baie meer geheimsinnig daaroor, en darem nie so liggeraak soos die skoner geslag nie. Ek sal jok as ek sê ek het nog nooit Bobby van Jaarsveld se biseps of Willem Botha se skoolseunvoorkoms begeer nie! Dis net menslik. Wanneer jy jou egter met die kaal ouens in die gimnasium begin vergelyk of te veel tyd daaraan bestee om jou aan ander te meet, raak dit ongesond.