Wat dink hy regtig van jou haarstyl?

0
201
Harald_Richter.jpg

Dagbreek-aanbieder en akteur, Harald Richter, speel veilig wanneer hy oor die nuutste vrouehaarstyle gesels. Hy wéét dis maar ’n sensitiewe saak …

Wat dink jy van die haarmodes waarmee Jolene (en ons dames) eksperimenteer?

Ek sukkel nogal om aan die tweekleur-, driekleurvoorkoms wat in veral Bloemfontein posgevat het, gewoond te raak. ’n Mens sien dit ook in die snaaksste skakerings: rooi-en-swart, rooi-en-blou, swart-en-wit … As Jolene ’n nuwe snit of haarkleur probeer, is my eerste reaksie gewoonlik om uit te vind of sý tevrede is daarmee. Tans is haar hare blond en in ’n langerige bob gesny. En ja, ek hou daarvan!

Wat verkies jy – kort of lank, of ’n tussenin snit?

Oor die algemeen lyk Jolene mooi met kort óf lang hare. Die tussenin stadium is maar altyd ’n bietjie moeilik. En dis gewoonlik ongerieflik en vat baie tyd om te stileer, want dan is dit óf te kort om vas te maak, óf te lank om maklik in plek te val. Wat kan ek sê? Ek hoop ek het die vraag reg beantwoord! Kan jy agterkom ek probeer dit eintlik dodge?

Sê nou net jy hou nie daarvan nie. Wat doen jy dan?

Wat kan ek doen? Ek kan dit nie juis vir haar wegsteek nie. My gesig is ’n oop boek! Ek glo egter ’n toe bek is ’n heel bek! Ons is nogal gelukkig in dié sin dat as ek nie daarvan hou nie, sy self gewoonlik ontevrede is daarmee. Oor die algemeen hou ek daarvan as die snit van ’n vrou se hare haar pas en dit natuurlik en gesond is.

Beïnvloed die kleur en snit ooit Jolene se gemoedstoestand?

Absoluut! Dit het beslis ’n uitwerking op hoe sy optree en voel. Tog dink ek die snit en kleur van ’n mens se hare het ’n uitwerking op die meeste van ons se gemoed. Veral as jou hare eienaardig lyk. Weird is nie noodwendig mooi nie. En ons wil meestal eerder mooi as “vreemd” lyk. Gelukkig groei hare weer en kan die verkeerde snit of kleur reggestel word, al vat dit soms lank.

Watter styl sal jy Jolene afraai om te probeer?

Dis eintlik moeilikheid soek om dié vraag te beantwoord, maar ek kan Jolene nie voorstel met Miley Cyrus se hare soos dit nou lyk nie! Dis so kort opgeskeer! Dis moeilik om te glo dit kan enige mens vlei. Dit val nie juis sag op die oog nie. Miley moet waagmoed hê om haar hare so kort te skeer. Dit vat haar seker nie lank om reg te maak in die oggend nie.

Hoeveel skat jy spandeer Jolene elke maand aan haar hare?

Ek weet presies hoeveel sy aan haar hare spandeer, want sy sê vir my! Ek glo sy kan soveel spandeer as wat dit haar kos om tevrede te wees met haar haarkleur en snit. Wat die gemiddelde vrou betref, skat ek hulle spandeer elke maand so tussen R600 en R2 000 aan hulle hare. Ek dink dié bedrae verskil genoeg sodat ek iewers tussenin die antwoord reg gaan hê. Vra my ’n makliker vraag!