Wat doen Anneline Kriel deesdae?

0
1215
Anneline Kriel

Of course word ek ouer,” sê Suid-Afrika se goue meisie, wat in 1974 as Mej. Wêreld gekroon is. As dit is hoe “oud” lyk, gee ons nie om nie. Anneline verklap waar sy deesdae is.

Die groot uitdaging, dink ek, is om vrede te maak met die natuurlike oudword-proses. Ek het nie, en sal ook nie, enige facelifts of inspuitings gebruik nie. Die natuur moet maar sy gang gaan. Vir my is dit belangriker om gesond te wees.

My kinderjare is vol mooi herinneringe

Ek het ’n gelukkige, plattelandse kindertyd gehad. Fietsry, swem en buite speel.

Toe ek ’n jaar oud was, het my ma my vir ’n babakompetisie ingeskryf, wat ek gewen het, maar tot op universiteit het ek aan geen ander skoonheidskompetisies deelgeneem of modelwerk gedoen nie. My sus, ’n brunet en twaalf jaar ouer as ek, het modelwerk gedoen. Sy het my altyd saamgevat na modeparades en so het ek oor modelwerk geleer.

En toe word ek ’n koningin!

anneline_kriel_miss_south_africa.jpgDit was ongemaklik, die hele affêre van die kroon wat oorgegee is. Die organiseerders het eers vier dae later agtergekom dat die wenner, Helen Morgan, ’n kind het. Volgens die reëls moes die eerste prinses dan die kroon oorneem.

Ek kon nie sommer dadelik die titel aanvaar nie. Ek wou eers hoor wat my mense daarvan sê. My ouers en suster het gemeen ek moes dit aanvaar, maar my kêrel wou nie hê ek moes dit doen nie. Hy was bang dit gaan ons verhouding verbreek, wat toe op die ou end gebeur het. Maar die geleentheid was te groot om deur my vingers te laat glip.

Alles het so vinnig gebeur, dit was so ’n warrelwind-ervaring. Skielik was ek hierdie celebrity wat winkelsentrums moes open en praatjies hou. My Mej. Wêreld-pligte was anders as ander meisies s’n. As gevolg van die politiek in Suid-Afrika in daardie tyd, het baie lande my verbied om daar besoek af te lê.

Die organiseerders het toe eintlik met ’n bietjie van ’n dilemma gesit oor hoe hulle my gaan besig hou, en dis tóé dat ek ernstig modelwerk begin doen het. Eintlik was die boikotte ’n bedekte seën – omdat ek so baie modelwerk gedoen het, het baie deure na my termyn as Mej. Wêreld vir my oopgegaan.

Ek het onder andere vyf jaar in Italië gewerk, maar dis veral die tyd in New York wat vir my uitstaan. Later was ek betrokke by ’n klerereeks wat my naam gedra het en ’n skoonheidreeks Bare Essence wat ook twee parfuums ingesluit het.

[pagebreak]

Die soet en suur van die media

Toe ek in 1974 as Mej. Wêreld gekroon is, was daar nog nie eers televisie in Suid-Afrika nie. Ek onthou hoe ek as deel van die Mej. Suid-Afrika-prys ’n reis na Brasilië gewen het. Daar was ’n televisiestel in die hotelkamer. Alles was in Spaans en ek kon nie ’n woord verstaan nie, maar ek was vasgenael voor daardie televisie. Ek wou skaars uitgaan.

Alhoewel ek nooit my dramastudie voltooi het nie, het ek baie geleenthede gehad om flieks te maak en televisie- en teaterwerk gedoen. In die laat tagtigs het ek saam met Gavin van den Bergh in Ballade vir ’n enkeling, gespeel. Ek was ook in ’n martial arts-film, Kill and kill again. Die film het ’n tweede plek by die Amerikaanse loketverkope gehaal.

As ek vandag iets vir jong Anneline Kriel kan sê, sou ek haar waarsku om mense nie so maklik te vertrou nie. Een van die eerste skandale waarin ek betrokke was, was toe ’n vriend van my kêrel, kaal foto’s van my aan die media laat uitlek het. Ons was met vakansie waar almal kaal in die son gelê het en dis hierdie foto’s wat hy verkoop het.

Dit was egter nie net die mense na aan my wat ek nie kon vertrou nie, maar ook die media. Dit is erg as jy weet daar gaan die volgende dag ’n storie op die voorblaaie wees wat heeltemal uit verband geruk is en jy kan niks daaraan doen nie. Ek het altyd probeer om my familie vooraf te waarsku sodat hulle ten minste voorbereid kon wees.

By my ouers kon ek net myself wees

Ek het my familie soveel as moontlik deel van my lewe probeer hou. My pa was nie baie opgewonde daaroor om oorsee te gaan nie, maar my ma het my na baie plekke vergesel. My gesin was my anker – die enigste plek waar ek kon rondloop sonder om hare te was en waar ek nie heeltyd met vreemde mense geselsies hoef te maak nie.

My pa is so tien jaar gelede oorlede en my ma twee jaar gelede. Wanneer jy albei ouers verloor het, besef jy dit is die einde van ’n era en dat jy nou alleen is. My ma se dood het my en my boetie en sussie beslis nader aan mekaar gebring.

[pagebreak]

anneline_kriel_Peter_Bacon.jpgUiteindelik, ’n man so na my hart!

Elke man wat in my lewe was, het ’n sekere bydrae op ’n sekere tyd in my lewe gemaak. En daar was baie spesiale oomblikke.

Vanjaar is ek en Peter Bacon al 17 jaar getroud. Ons kom albei sedert die sewentigerjare gereeld Mauritius toe en dit is waar ons nog altyd wou kom aftree het. Ons is nou al twee jaar hier.

My dogters is my trots

Gepraat van defining moments. Ek dink my kinders was die grootste gebeurtenis in my lewe.

anneline_kriel_dogters.jpgDit was my wens gewees om ’n kind te hê en toe kry ek twee pragtige dogters. Ek het lekker pop gespeel, hulle dieselfde aangetrek … Dinge verander egter as hulle groot is. Hulle het hulle eie lewe, maar dit is deel van ma-wees – om te laat gaan.

Die een ding waaroor ek spyt is, is dat ek hulle deur ’n aaklige egskeiding moes laat gaan en dat hulle nie in ’n huis kon grootword met hulle ma en biologiese pa nie. Dis nie hoe ek dinge beplan het nie. Gelukkig was Peter vir ’n groot deel van my dogters se lewe daar. Hulle kon nie vir ’n beter pa gevra het nie.

En nou bly ons in Mauritius

anneline_kriel_man.jpg

Ek en Peter is albei mal oor water en hier in Mauritius kan ons dit heerlik uitleef.

Soggens staan ek sesuur op om die honde te gaan kos gee en deur die dag sal ek seker so tien keer in die swembad gaan swem. Teen vieruur gaan ek en Peter saam met die honde af strand toe.

My huis is taamlik oud. My gunstelingdeel daarvan is ons veranda met sy pragtige uitsig oor die see en ’n klein eilandjie in die verte.

Mauritius is amper soos nog ’n provinsie van Suid-Afrika. Ons het ’n Pick ’n Pay, Steers, Mr. Price, en selfs ’n Woolies. anneline_kriel_vandag.jpgDie Franse invloed is egter ook sterk met heelwat Franse winkels.

My lewe is nie glamorous nie. Dis nie asof ek met my kroon op gaan swem nie, maar ek is gelukkig. Ek hoef nie meer nice te wees met mense net omdat hulle media is of omdat ek ’n skoonheidskoningin was nie.

“Soos ’n fliek ’n begin en ’n einde het, het ek geweet my lewe in die kollig gaan ook tot ’n einde kom. En ek is gelukkig daarmee”. Nou, op 58, kan ek weer net Anneline wees.

Kyk hierdie video waar Melinda Bam vertel hoe sy God gevra het om Mej. Suid-Afrika te word.