Wat doen jy vir ‘n lewe?

Iemand het eenmaal vir my gevra wat doen ek vir ‘n lewe.

Natuurlik het ek geantwoord dat ek by Radiokansel werk, maar hy het my vinnig gestop en gesê: “Ek vra nie watter werk jy doen nie, ek vra wat doen jy vir ‘n lewe?” Ek het so effens stom voor hom gestaan en dit het my bietjie laat dink.

Wat doen ek vir ‘n lewe, om te lewe, en om die lewe voluit te lewe?

Ek was baie dankbaar toe ek tot die besef kom dat my werk tog ‘n invloed het op wat ek vir ‘n lewe doen. Ek deel God se Woord vir ‘n lewe. Ek is deel van ‘n span wat daagliks mense se lewens aanraak. Ek het die wonderlike voorreg om ‘n dagstukkie boekie, die Woord vir Vandag, aanmekaar te sit wat mense se lewens aanraak.

Dan kry ek ‘n brief vanuit die gevangene wat my in trane het oor ‘n vrou wat een verkeerde besluit gemaak het en nou dien sy ‘n vonnis van twee en ‘n half jaar in die tronk uit. Sy deel haar storie met my en hoe sy, deur die Woord vir Vandag, haar lewe totaal aan God oorgegee het omdat sy besef het dat sy geen ander opsie het nie. Sy getuig hoe sy vandag ‘vry’ is en hoe God haar deur haar seer en swaarkry dra. Sy vertel hoe sy ‘n projek in die tronk begin het waar sy afval wol gebruik om boekmerkies te maak, so maak sy ‘n verskil in die tronk.

Dit is briewe soos hierdie wat my weer ‘n hupstoot gee, wat my weer dankbaar maak vir die wonderlike voorreg wat ek het om God se Woord as deel van my werk te kan versprei.

So wat doen ek vir ‘n lewe? Ek deel God se Woord met mense wat dit baie nodig het. Ek leef om Jesus se liefde aan ander te wys. Ek doen my bes dat waar ek gaan mense Hom in my sal sien. Ek leef om ‘n verskil in mense se lewens te maak.

Mag jy ook vandag ontdek wat jy vir ‘n lewe doen. En maak nie saak wat jy doen nie, lewe voluit, en maak ‘n verskil!

Seënwense,

Stephanie