Wat gelukkige paartjies doen

0
63
Jannie Putter

Soms is dit klein dingetjies wat ’n huwelik van gewoon na gelukkig verander. Jannie en Tertia Putter deel hulle geheime na meer as twee dekades saam.

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Boosters en Busters vir ‘n gelukkige huwelik, geskryf deur Gretha Wiid.

Met verloop van tyd kan jou huwelik sy passie verloor. Dié boek laat jou ‘n tree nader gee aan ‘n gelukkige huwelik met woema.

Kliek HIER en laai die e-boek, Boosters en Busters, GRATIS af.

lyn_3.png

Soms is dit klein dingetjies wat ’n huwelik van gewoon na gelukkig verander. Jannie en Tertia Putter deel hulle geheime na meer as twee dekades saam.

 “Waarom kan jý nie later slaap nie? Hoekom moet ék verander?” het ek hardkoppig teëgestribbel. “Staan vroeg op, gaan draf, hê tyd met jouself en dan kan jy terugkom.”

“‘Wat is die beste vir jou en wat is die beste vir ons?’ het hy met een vraag die wind totaal uit my seile geneem.”

Saamwees is nie net ’n spesiale afspraak nie

“Dit was twee-en-twintig jaar gelede,” hervat Tertia haar storie. “Intussen het ons albei wyser geword en al hou ek steeds van ’n laat slapie nou en dan, weet ek ook dat die tyd wat ek soggens saam met Jannie kan draf, kosbare alleentyd is, want om wegbreeknaweke en spesiale eteafsprake te reël, is nie altyd moontlik nie.”

“Op weeksdae,” vertel Jannie, wat onder andere ’n motiveringspreker is, “staan ons elke oggend vyfuur op. Voor ons die kinders wakker maak, is dit eers my en Tertia se alleentyd saam. Met ’n koppie koffie vertel ons mekaar wat in ons lewe aangaan.”

“Dis wonderlik. So stil met geen telefoon wat jou vertel wat om te doen nie. Dis nie net goed vir ons verhouding nie, maar ook vir ons vriendskap,” sê Tertia. “Ek weet dat daar ten minste een mens op aarde is wat altyd daar is vir my. Dit keer ook dat daar ’n week verbygaan sonder dat ons gesels het, want ek dink so ’n gebrek aan kommunikasie kan maak dat ’n egpaar naderhand glad nie meer op dieselfde golflengte is nie.”

“Ek en Tertia is op soveel maniere verskillend, maar op soveel maniere is ons dieselfde! Wanneer ons tyd saam spandeer, fokus ons op dinge wat ons saam kan doen. Sy het byvoorbeeld leer gholf speel en het glad nie ’n slegte voorgee nie…”

“Jannie gaan weer so twee of drie keer ’n jaar saam met my na opvoerings toe. En al raak hy dikwels amper halfpad aan die slaap, vergewe ek hom, want ek weet hy doen dit vir my.”

Ons emosies het ’n invloed op mekaar

“Net omdat ’n mens iets weet, beteken dit nie altyd jy doen dit nie,” meen Tertia oor die feit dat Jannie ander mense raad gee oor verhoudings.

“Maar ek probeer bitter hard om self te doen wat ek met ander mense bespreek, Anders is ek ’n fake.”

“Ons is beslis emosioneel slimmer as wat ons twintig jaar gelede was,” glo Tertia. “Maar dis in wording. Ons het beslis nog nie ge-arrive nie.”

“Ek wil ook nie hê ons moet arrive nie,” beaam Jannie, “want dan stagneer ons en verdwyn die opwinding uit ʼn huwelik. Ek dink wel ons weet nou al wat elkeen se emosionele sterk punte is en gee outomaties die leisels oor aan die ander een.”

“Waar dit oor ons kinders gaan, is ek baie meer emosioneel as Jannie, wat eerder ’n logiese, rasionele besluitnemer is. Dan staan ek eerder terug want om emosionele besluite te neem het nie altyd goeie gevolge nie – veral nie vir ons kinders nie.

“Jannie gesels nie altyd oor sy emosies nie. Ek weet nou al hy raak stil as hy bekommerd is. Dan gee ek hom gewoonlik ’n dag of twee voor ek met hom praat. Soms weet hy nie eers dat iets hom pla nie. Dis asof ons outomaties weet en inspring as die ander een jou nodig het.”

Ons verhouding is baie meer as die slegte tye

“Ek dink ’n gelukkige paartjie kies waarop hulle wil fokus. Jy kan kies om op jou maat se foute en tekortkominge te konsentreer en jy kan kies om in moeilike tye in die negatiewe vasgevang te raak. Of jy kan kies om juis in sulke tye perspektief te behou en julle goeie tye in die verlede te onthou,” meen Tertia.

“In die eerste plek moet jy goeie oomblikke skep wat jy later kan onthou,” glo Jannie. “Ja, ons het toekomsdrome en ons herleef die verlede deur na foto’s te kyk, maar ons sit ook baie energie in die oomblik. Ons vier die klein goedjies van nou sodat ons eendag stories het om vir ons kleinkinders te vertel. As ons in die middae op die stoep sit en koffie drink, vertel ons vir mekaar hoe bevoorreg ons is om dit te kan doen en nie soos baie ander mense in die verkeer hoef te sit nie.

“Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, dink ek baiekeer aan die tyd toe ons, voor ons kinders gehad het, oorsee gegaan het. Met net R5 000 tussen die twee van ons, het ons drie weke lank deur Europa getoer. Herinneringe aan daardie vakansie gee my sekerheid dat ek en Tertia enigiets kan aanpak en daardeur kan kom.”

“Vir my weer,” onthou Tertia, “was die vakansies wat ons vier jaar na mekaar in Namibië gehou het, van die beste tye wat ons ooit gehad het. Die kinders was nog klein en as ek na video’s kyk hoe ons saamgekamp en duine gery het, besef ek dat die fondasie van ons huwelik en gesin ʼn groot hupstoot daar gekry het. Daardie tyd het die ritme, ʼn respek en ʼn spangees gekweek wat tot vandag toe nog deel is van die res van ons lewe saam bepaal.”

Fisieke aanraking net so belangrik soos seks

“Elkeen het mos maar sy of haar manier van liefde gee en ontvang. Een van Jannie se liefdestale is beslis aanraking. Vir hom is dit baie natuurlik om aan iemand se skouer te vat as hy met hulle gesels. In daardie opsig verskil ek nogal van hom, want ek het nie so ’n groot behoefte daaraan nie.

“Ek het besef ons sal ’n middeweg hier moet kry, want vir ons verhouding gaan dit beter wees as ek eerder meer soos hy word as wat daardie deel in hom doodgaan. Sy behoefte aan aanraking is eerder iets wat ek moes embrace as om hom te probeer verander. ’n Verhouding is baie soos ’n dans, ’n dans van gee en neem, van halfpad ontmoet sodat jy genoeg ruimte vir mekaar gee om dinge in perspektief te sien, maar steeds jou eie uniekheid behou.”

“Aan die begin was dit vir my vreemd, maar dit kom nou baie maklik en natuurlik. Dit het die manier waarop ek mense hanteer baie verander. Waar ek voorheen gereserveerd was, is ek nou baie meer oop en gemaklik met myself. Wat ander van my dink, is nie meer so belangrik vir my nie.”

“Myns insiens,” meen Jannie, “is ’n gelukkige egpaar twee mense wat saam na dieselfde eindpunt toe groei. En dis hierdie klein dingetjies, soos om by mekaar te wees, aan mekaar te raak en oor ons drome te gesels, wat soos die onderste deel van ’n laag verf keer dat faktore van buite ons geluk kan bedreig.”

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Spreuke 31-vrou, geskryf deur Aletté Winckler.
31 tydlose waarhede vir die moderne vrou

In hierdie boek kry jy praktiese raad en inspirasie uit die Woord. Elke hoofstuk word saamgevat deur Bybelstudievrae wat tydens jou stiltetyd of in ’n kleingroep oor nagedink kan word, sodat jy die beste word in elke aspek van jou lewe. Spreuke 31-vrou is beskikbaar op www.voelgoedwinkel.co.za teen R84.

lyn_3.png