Wat is die mens dat U aan hom dink

Die kaptein van die All Blacks glimlag effe hartseer. Dit was sy verjaarsdag daardie dag. Die dag van die groot verloor.

Met sy terugkeer na sy hotelkamer wag daar ‘n verjaarsdagkaartjie van sy kinders. Sy gesig verhelder: Die slegte verloor kry ‘n ander perspektief. Net nog ‘n rugby wedstryd…altyd ‘n pappa.

Oorkant die hospitaal abba ‘n ma haar groot dogter met die lang gipsbeen. Dit raak my hart. Wanneer ons haar ‘n geleentheid aanbied en by die taxi staanplek gaan aflaai, kry ons ‘n spontane

druk van dankbaarheid.  Dit gebeur in dieselfde week wat ‘n politieke party se kaarte  tuimel. In my gedagtes hoor ek Sy stem: doen goed aan ander…woon en werk rustig voort…ten spyte van.

In die intensiewe eenheid  word jy stil tussen masjiene en pype. Word die nietigheid van die mens helder uitgebeeld in sterk kontras met die wonder van tegnologie. Ek verwonder my aan die Here wat oor die mens kan glimlag en hom heerser kan maak, wat Sy seun stuur omdat Hy die wêreld so lief het. Die mens met sy broosheid, waar masjiene kan red maar ook nie altyd nie. Waar lewe en dood met ‘n dun draad geskei word.

In alles van die lewe is daar ‘n groter prentjie en ‘n kleiner prentjie. Dis dikwels in die swaar kry wat ons die kleiner dele waardeer. Soms maak ons die ontdekking dat die klein dinge eintlik die groot dinge is.

Om ‘n pa te wees het immers meer waarde as ‘n wêreldbeker finaal.

Om jou kinders self te kan aflaai en optel is ‘n voorreg wat baie ander nie beskore is nie.

As jou ma na die intensiewe eenheid weer kan opstaan en in die gang afloop is jy dankbaar al is dit nog met ‘n loopraam…

Ek kyk op ‘n manier anders na Nieu-Seeland se kaptein. Ek sien ‘n pappa raak. Ek kyk anders na die suster in die intensiewe saal. Ek sien iemand wat laat by die huis kom en in kritieke omstandighede werk. Ek kyk anders na mense wat afhanklik is van ‘n taxi en wat moet stap in die reën of met ‘n gebreekte been.

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien…” (Psalm 8)

God kyk anders na ons. Hy kroon ons met aansien en eer.

Ek dink Hy wil ons leer om sag na ander mense te kyk en om uit ‘n ander hoek na die lewe te kyk.
Om met Sy oë mense raak te sien: net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese…

Dawid kry dit reg om die kleiner prentjies in die groot prent raak te sien.
Daarom kan hy uitroep:

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is U naam oor die hele aarde!” Psalm 8