[VIDEO] Wat is funksionele oefening?

673

Funksionele oefening is beweging wat help om jou liggaam in ’n optimale kondisie te hou en jou vermoë om daaglikse aktiwiteite te verrig, te verbeter.

Om jou daaglikse aktiwiteite sonder ongemak of skete te verrig, is ’n luukse wat nie almal beskore is nie. Funksionele oefening help om jou liggaam te leer om daaglikse aktiwiteite makliker en sonder beserings te verrig.

Hierdie tipe fiksheidsprogram sluit tegnieke in wat verseker dat al jou spiere in harmonie funksioneer. Dink daaraan as afrigting vir die hele beweging – nie net ’n spesifieke spier nie. As jy byvoorbeeld spring, gebruik jy nie net jou beenspiere nie. Dit is ’n gekoördineerde poging tussen jou hart, longe én spiere wat ’n vloeiende beweging moontlik maak.

Die toepassing is nie dieselfde vir alle ouderdomsgroepe nie. ’n Tiener hoef nie te fokus om uit ’n stoel op te staan nie, maar dit kan vir ’n ouer persoon moeilik wees. Die oefening kan vir die vereistes van elke lewensfase aangepas word.

Funksionele fiksheid oefen jou spiere om saam te werk en berei hulle voor vir daaglikse take deur die algemene bewegings wat jy by die huis, by die werk of in jou sportaktiwiteite doen, na te boots.

Jy kan dit by die huis of by die gimnasium doen. Verskillende oefenapparaat of selfs net jou liggaamsgewig kan gebruik word.

Die sleutel tot sukses is die nabootsing van die werklike aktiwiteit waarmee jy daagliks sukkel. Fokus op soortgelyke tipes spiersametrekkings. Hoe beter dit jou werklike aktiwiteit naboots, hoe meer effektief is die oefening. Byvoorbeeld, as jy ouer is en sukkel om iets op te tel as deel van jou daaglikse aktiwiteite, moet jy fokus op spesifieke oefening wat die “trek”-spiere kan versterk.
 

Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Marijke.