Wat is jou “ding”?

“Ons het nou agtergekom landloop is sy ding” sê die een ma vir die ander by die landloop byeenkoms.

Sy fynkam die magdom kindergesiggies vir haar seun s’n. Na ’n hele ruk kom hy moeg en gesweet verby gehardloop.

“Mooi so boeta!” skreeu sy en hardloop vir ’n entjie langs hom.

In die volgende item hardloop ons eie kind. My maag draai toe ek die bondel energieke kinders sien wegspring. Hoeveel van daardie kinders is vandag hier omdat hulle glo en vertel is dat landloop hulle ding is?

Hoekom moet almal ’n “ding” hê?
Wat is my “ding”?
Wat is ons kinders se “ding”?

Is my ding om te skryf? Om ma vir ons kinders en vrou vir my man te wees? Om elke dag saam met die hond om die blok te draf?

Is dit ons kinders se ding om een van die top 10 akademiese leerders te wees? Om op provinsiale vlak sport te beoefen? Om aandete soos ’n Kokkedoortjie te maak?

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Elke een van hierdie goed wat ek genoem is fantasties en op geen manier moedig ek middelmatigheid aan nie. Die fout sluip in wanneer jy toelaat dat jou identiteit rondom jou ding gebou word.

Dit is so beperkend. Dit sit mens onmiddellik in ’n boksie en jy weet wat gebeur met bokse! Dit val om, dit skeur en kan enige oomblik deur ’n verdwaalde warrelwind weggewaai word.

Soos ons moeë en geswete landloper verby my hardloop op pad na sy medalje toe, kry ek perspektief.

My ding moet wees om sout en lig te wees.
My ding moet wees om te doen wat my hand goedvind om te doen.
My ding moet wees om te lewe en asem te haal en die geskenke wat aan my toevertrou is ten volle te geniet.

Hierdie dinge kan mens nie in ’n boksie verpak nie. Mens moet dit uitleef! Dis die tipe goed wat die murg uit die lewe se pype suig.

Dis hoe ek wil leef en ek hoop dit smeer af aan ons kinders.