Wat is metaboliese sindroom?

446

Hierdie leefstylsiektetoestand kom wêreldwyd al hoe meer voor en hou ’n enorme bedreiging vir jou gesondheid in.

Metaboliese sindroom kom by een uit vier volwassenes voor.

Dit is ’n kombinasie van al die risikofaktore wat tot kardiovaskulêre siektes, beroerte, nierprobleme en diabetes kan lei. Die sindroom het op sigself nie simptome nie.

Dit is eerder ’n kombinasie van ’n aantal simptome van ander toestande, soos hoë bloeddruk, hoë LDL (“slegte” cholesterol), hoë trigliseriede (bloedvette), lae HDL (“goeie” cholesterol), insulienweerstandigheid en hoë bloedsuiker.

Hierdie tekens word geassosieer met oorgewig en vetsug (obesiteit) en word veral gekenmerk deur vet om die middellyf.

Die hoofoorsaak is leefstylfaktore soos verkeerd eet, te min oefening en onbehandelde risikofaktore.

Drie of meer van die volgende kan daarop dui dat jy metaboliese sindroom het: ’n middellyfomtrek van meer as 80 cm, ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) van meer as 30, trigliseriede hoër as 1.7, HDL-cholesterol laer as 1, LDL-cholesterol hoër as 2.7, bloeddruk hoër as 130/85 en vastende bloedsuiker hoër as 5.6.

Hierdie aspekte kan jou kanse op ’n voortydige dood beduidend verhoog. Dit is daarom belangrik dat jy deur jou dokter getoets word.

Die goeie nuus is dat veranderings aan jou eetpatrone en leefstyl metaboliese sindroom kan voorkom, beheer of selfs omkeer.

Indien daar enige afwykings in jou bloeddruk, bloedsuiker, cholesterol of trigliseriede is, praat met ’n dieetkundige of ander kenner vir advies oor ’n holistiese leefstylplan.

Dit sal jou help om gewig te verloor en jou insulienvlak te verlaag.

Kyk ook: [VIDEO] Hoe benader ek kanker of ‘n genetiese siekterisiko in my familie?

Ellenore Meyer, mediese dokter
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Ellenore.