Wat is rykdom?

Hierdie is wat dit is, uit my kind se oë:

Ons leef in ‘n wêreld waar die waarde van rykdom verband hou met motors, huise en vakansies – dan vergelyk ons die hoeveelheid van wat ons het en geldelike waarde met ander mense. Kinders sien rykdom bietjie anders: hulle kyk na wie die beste slimfoon of ipad het en hoe groot die televisie in jou kamer is. Dit is hartverskeurend.

Boeta het nie n selfoon nie, geen televisie in sy kamer nie en ook nie Salomon tekkies nie. Boeta het ‘n glimlag, ‘n hartjie van goud en deel graag, dit wat hy wel het, met ander. Ons het deur swaar tye gegaan en hy het net altyd verstaan en op ‘n mooi manier nooit regtig gevra vir dinge wat hy weet ek nie kan bekostig nie. Dit het altyd my mamma-hart in stukke gebreek. Al wou ek hom alles gee van die wereld – kon ek nie. Boeta het toe op ‘n ouderdom van 6 een middag na skool gevra: “Mamma, sal jy asb vir my by die winkel stop?” Ek het met ‘n swaar gemoed daar gaan stop, hierdie week se “brood-geld” uit my beursie gehaal en, vir wat hy ook al dit mag “nodig” hê, vir hom gegee. Ek het net R26.00 gehad. Boeta kom later uit die winkel gestap met ‘n sakkie en binne-in is ‘n brood, melk en ‘n sjokolade vir mamma. Hy al sy eie spaar geldtjies gebruik om vir mamma te help. My trane het gevloei van dankbaarheid. Ek was dankbaar dat God my kind seen met ‘n mooi hart.

4 jaar later ry ek en boeta by ‘n nuwe kerk se gronde in. Daar is van die mooiste en duurste motors geparkeer en mense is modern, stylvol en modieus aangetrek. Ek sirkel om en om met my motor, opsoek na ‘n parkeerplek en uit die blou gebruik boeta skielik woorde wat my yskoud maak: “Mamma, weet jy wat, rykdom is nie die klere wat ons dra, of die karre wat ons ry, of die kastele waarin ons bly nie. Dit is die dankbaarheid vir kossies om te eet, ‘n warm bedtjie om in te slaap, mense wat jou liefhet, ‘n skool om na te gaan en die rykste is om Jesus in jou hartjie te he.”

Net daar leer ek ‘n les by ‘n wyse 10-jarige mannetjie. Al het my hart gebreek vir jare oor die dinge wat hy verdien wat ek hom nie kon gee nie het ek hom onbewustelik al die dinge gegee en geleer wat hom waarlik ryk maak.

Vorige artikelVerlief raak is maklik, maar die liefde…
Volgende artikel‘n Nuwe Jy in God se hande
Blogger - Heidi Vos
Ek is ‘n geskeide mamma van ‘n 10 jarige woelwater seuntjie en Boekhoudster van beroep. Deur die jare heen het ek lief geraak vir skryf en is my lewenservarings my inspirasie. Deur God se liefde en genade, in goeie en slegte tye, het ek geleer om alles op papier neer te pen. Daar is so baie dinge waarteen ons kindertjies vandag gewapen moet bly om hulself te beskerm. Ek hoop dat ander mammas geïnspireer sal word deur my woorde. Ek hoop ook dat deur my ervarings en lesse ek ander enkel mammas, deur God se hand, kan raak, moed gee en laat besef dat alles op die ou einde sal uitwerk. Die lewe het ‘n kleurryke reenboog en ons moet elke dag die mooi en positiewe klanke, gebare en liedere hoor.