Wat is, wat was en wat nog gaan wees

Droomverlore sit ek een aand, die ewige romantikus, en dink terug aan daardie ‘eerste ontmoeting’.

Daardie eerste soen oomblik. Daardie nuut en opwinding van verlief wees. Tyd verloop en jy sê “I do” en julle begin hierdie nuwe hoofstuk in jul lewe.  Nie te lank na hoofstuk een  bring jy  ‘n kind in die wêreld (en jou jy, of jou lyf sal nooit weer dieselfde wees. Ooit).

Jy werk vir kos en klere en doeke, jy maak kind groot, jy verloor slaap, jy tel gewig op, jy probeer ‘n afspraak reël met jou liefie. Maar dan gebeur Maandag tot Vrydag tussenin en daar gaan jou romantiese planne. Soms vang die min slaap jou as die klein mensie in die huis weer werk aan haar gebid (tandekry is beslis nie vir sussies nie, nie klein of groot nie) en die gejaag heeltyd van punt A na punt dubbel Z kry jou ook onder.

Jy hap onnodig na jou ridder-eens-op-die-spreekwoordelike-wit-perd (en jy wonder geirriteerd of dit nie dalk ‘n donkie was nie) want hoekom moet hy so hanna-hanna om vir kleinding te gaan bad, dit raak laat. Jy grom- grom onderlangs.

So sit ons een Sondagmiddag, nog in ons nagklere want vandag is varkiedag in ons huishouding, (moenie oordeel nie) rustig met ‘n boek wat opsigself ‘n klein stukkie genade is.  Jy wil net die roetine gedrewe lewe effe verbreek met een dag. Die son skyn, die lug is blou, die bome is groener as groen.

Die volgende oomblik voel jy sulke klein seekat armpies wat van agteraf om jou nek slaan en ‘n klein- asem-stemmetjie sê:  Mamma.

My hart mis ‘n slag.  Soveel emosie en impak vasgevang in die woord ‘mamma’.  Ons kleuter loop dan na haar Pappa en vat sy hand want hy moet ‘kom kyk’. Daardie prentjie, so hand aan hand laat jou hart sommer bokspring en jy weet, besef, dat jy nie hierdie oomblik  sou gehad het sonder jou donkie-ryer nie.

Wat eintlik op my hart lê om te sê is, wanneer die verlief verby is en jy raak krapperig oor klein onbenullighede en jy raak soms te gou kwaad.  Die bad kan soms wag. Die wêreld kan maar soms bietjie stilstaan om plek te maak vir dié dinge wat meer belangrik is in die lewe. Soos daardie oomblikke wat herinneringe raak en dit op die einde van die dag al is wat ons het.

Maak vol daardie herinnering bokse van jou kinders. As dit by die Pappa kom?  Gaan dink tog terug aan al die eerstes van ‘julle’…Die rede hoekom jy met hierdie ridder getrou het, jy moes ‘ja’ gesê het vir ‘n rede.

Soms moet ons moeite doen om weer die vlammetjie helder te laat brand. Soos O’l Bruce gesing het: “You can’t start a fire without a spark”.  Ek salueer ware liefde en sielsmaats. Die beste geskenk wat ‘n Pa of Ma vir hul kinders kan gee is om vir mekaar lief te wees.

Met liefde van ‘n Mede-Mamma en vrou

Chrisna Roos