Wat jy alles oor finansies moet weet

0
450
geld_spaar.jpg

Watter beginsels pas ons land se top finansiële adviseurs in hulle eie lewens toe en watter lesse het hulle al geleer?

Dink voordat jy geld spandeer

Aneeza Razack, hoof van strategiese groei by FNB se Spaar- en Beleggingsafdeling

“Een ding wat my ouers my geleer het, is dat jy nie iets moet koop as jy nie kontant daarvoor kan betaal nie,” sê Aneeza. “As ek iets nie kan bekostig nie, spaar ek daarvoor. Dis verbasend hoe die gevoel om sekere goed te koop verdwyn as jy eers daaroor nagedink het.”

“Wat vir een persoon belangrik is, is nie noodwendig vir ander ’n prioriteit nie. Vir jou mag dit dalk belangrik wees om voorsiening vir jou kinders se opvoeding te maak, terwyl dit vir jou enkellopende vriendin beter sal wees om haar geld op die aandelemark te belê.”

Om hierdie rede raai Aneeza haar kliënte aan om eers hulle finansiële behoeftes en doelwitte te bepaal voordat hulle geld belê. “Sodoende gaan jy weet waarvoor jy finansiële voorsiening moet maak en watter roete jy moet volg om jou doelwitte te bereik,” sê sy.

Weet wanneer om skuld te maak

Angela Mhlanga, hoof van finansiële konsultasiedienste by Standard Bank

Een ding wat Angela se ouers haar geleer het, is om nie sommer skuld aan te gaan nie. “Jy maak veral nie skuld om luukshede te koop nie.”
“Ek weet egter dat dit vir die meeste van ons nie altyd moontlik is om sonder skuld te lewe nie. Dus hou ek daarvan om van ‘goeie’ en ‘slegte’ skuld te praat om mense te help om oordeelkundig met hulle geld te werk te gaan.”

Vir Angela is ’n huislening die perfekte voorbeeld van “goeie” skuld omdat dit ’n noodsaaklikheid en eintlik ’n bate is waarin jy oor ’n lang termyn belê. “Mits jy die maandelikse paaiement kan bekostig.”

Wat haar eie lewe betref, wens sy dat sy vroeër geweet het wat sy vandag van finansies verstaan. “Ek sou meer effektiewe besluite oor my finansies kon geneem het as ek meer insig in die basiese beginsels, markte en produkte gehad het. Dit help om jou geldsake proaktief te bestuur, en dít help om binne jou vermoë te leef en die skuldstrik te vermy.”

Moenie jou begroting oorskry nie

Anton de Wet, uitvoerende hoof van Nedbank Kliëntediens

Een ding wat Anton se ma hom geleer het, is dat jy in moeilikheid gaan beland as jou maandelikse uitgawes gereeld meer as jou inkomste is. Dít het sy ma voorkom deur haar geld te rek en nooit geld by iemand of vir iemand te leen nie. Daarom moedig hy kliënte aan om ’n realistiese begroting op te stel en daarvolgens te leef.

[pagebreak] “Banke het wonderlike hulpmiddels om te help. Met die druk van ’n knoppie kan jy sien hoeveel geld jy werklik inkry en spandeer, en hoeveel jy moet besnoei of spaar per maand om binne jou vermoë te leef.”

Van die finansiële hulpmiddels wat banke bied, kan jou selfs help om uit te werk hoeveel geld jy per maand moet spaar om te vergoed vir agterstallige betalings die vorige maand. “Omdat lewensbehoeftes deurentyd verander, moet jy jou begroting aanpas om voorsiening te maak daarvoor.”
Anton wens hy het vroeër in sy lewe besef hóé belangrik dit is om op ’n jong ouderdom al te begin spaar.

Betaal die duurste skuld eerste af

Johan Gouws, hoof van Absa multibestuur

Die belangrikste ding wat Johan se ouers hom geleer het, is dat daar ’n groot verskil tussen behoefte en begeerte is. “Dis belangrik om te weet watter een van die twee jy besig is om te bevredig voordat jy jou beursie uithaal.”
As jy wel in die skuldstrik beland, beveel Johan aan: “Stel ’n begroting op om te sien hoeveel jy aan jou uitgawes moet en kan besnoei om te begin om jou skuld terug te betaal. Betaal dan eerste die korttermynskuld af, soos jou kredietkaart of persoonlike lening, wat gewoonlik die hoogste rente dra.”

Dit behoort jou kontantvloei te verbeter. “Dan kan jy begin om langtermynskuld, soos jou huislening, vinniger af te betaal, wat jou op die ou end duisende rand aan rente gaan spaar.” Dis juis die “wet” van saamgestelde groei, of die krag van rente op rente, wat Johan wens hy vroeër in sy lewe al verstaan het. “Dink net hoeveel geld jy byvoorbeeld vir jou aftrede kan wegsit as jy al die skuld wat jy het, se rente spaar.”

Dawie Roodt, TV-aanbieder en hoofekonoom by die Efficient Group, som op

“Die eerste reël is: Moenie die stroom volg nie.” As almal geld in ’n myn in die Kongo belê, moet jy dit nie noodwendig doen nie, veral as jy niks van die mynbedryf af weet nie. En dit bring ons by sy tweede en derde reël: “Belê jou geld in dit wat jy ken. Sien ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur wat jy kan vertrou as jy nie weet wat om met jou geld te doen nie.”
Om ’n berekende risiko te loop, moet jy jou huiswerk doen. “Banke is net soos winkels. Dieselfde geld vir beleggings. Vergelyk verskillende produkte en finansiële instansies met mekaar. Dis hoe jy ’n ingeligte besluit kan neem.”

Nog ’n goeie beginsel wat Dawie in sy eie lewe toepas, is dat geld vir jou moet werk en nie andersom nie. “Stel ’n begroting op. Leef binne jou vermoë. En onthou dat die meeste beleggings ’n langtermyn- wetenskaplike proses is en nie ’n hot tip nie.”