Wat jy het is goed genoeg

Vyf broodjies en 2 vissies

Hy het ‘n vraestel geprint en dit vir sy juffrou gevat. Maande later loop ek haar raak. Nadat sy die vraestel gemerk het, het sy op die agterkant van een van die bladsye een van my blogs opgemerk. Die printpapier was waarskynlik op en hy het papier gebruik wat beskikbaar was. Onwetend een waarop een van my blogs was. Sy vertel hoe presies sy dit daardie dag nodig gehad het. Ek luister verstom…

“Gee julle vir hulle kos.” Jesus se voorstel het die dissipels ook verstom. Die skare was groot. Meer as 5000 mense. Hulle vind darem ‘n seuntjie met 5 broodjies en 2 vissies. Vir Jesus is dit genoeg. Sonder ‘n groot seremonie maak Hy die skare rustig en begin die broodjies en vissies uitdeel. Daar is meer as genoeg vir almal.

Aan die begin van ‘n nuwe kwartaal maak al die uitdagings my reeds onrustig en amper gespanne. Daar is my werk, die nuwe grade van die kinders, almal se aktiwiteite. Dit voel of ek diep moet asemhaal om my longe vol te maak vir genoeg suurstof vir die nuwe skooljaar.

Dis dan wanneer ‘n bekende storie nuwe betekenis kry… Vyf broodjies en 2 vissies was goed genoeg.  Ek besef meteens dat Jesus niks meer van my en jou vra as wat ons eintlik het nie. Die groot verskil is dat dit min bly in my eie hande. In Sy hande word my gawes en talente egter groot. Kennis raak genoeg en tyd en geld kry meer gedoen en meer gekoop

Waar ‘n blog dalk begin as ‘n blote gedagte beland dit miskien onwetend in iemand se huis met ‘n rede. Sy rede.

Mag ons in hierdie jaar dit regkry om wat ons is en wat ons het aan Hom te gee. Mag ons verras word soos die dissipels en versadig word soos die groot skare. Mag ons mandjies oorloop en mag 2020 die jaar van wonderwerke wees… uit Hom, deur Hom en tot Hom!