Wat jy met jou kommer moet maak

kommer

Jare gelede was daar ’n program op die TV met die naam “Dis my geheim…” Die mense moes raai watter beroep die persoon beoefen.

In ’n dik stem is die gehoor ingelig wat die persoon doen, maar die deelnemers moes deur vrae wat hulle vra, probeer uitvis wat die ou doen. As hulle my ’n paar jaar gelede op die program moes hê, sou die dik stem aangekondig het: Hy is ’n professionele nuusluisteraar. Ek het aan elke nuusleser se lippe gehang. Ek kon nie genoeg kry nie. Vyf voor die uur het ek ’n Kaapse Christen- stasie geluister. Op die uur was dit RSG en op die halfuur was dit KFM. Soms het ek sommer twee stasies tegelyk geluister. My kop was nie lekker nie.

As die petrolprys opgaan, snak ek na my asem. Dan wonder ek hoe gaan ons dit die einde van die maand maak. As die politici nou weer een of ander ding gedoen het, sien ek al hoe pak ek my tas en vertrek na Doer Onder. Dis die een negatiewe berig na die ander. En die uitwerking op my? Ek sidder, ek is bang, ek verloor moed, ek is verby bekommerd. Tot ek eendag besluit om die professionele nuusluisteraar pos vaarwel te roep. Ek het besef dat daar baie dinge is waaraan ek net mooi niks kan doen nie. Of ek nou op- en afspring, die petrolprys maak net soos hy wil.

Maar dit is nie net die nuus wat ons so swaar laat sleep van bekommernis nie. Daar is ’n paar keuses wat ons gemaak het wat nie baie slim is nie en nou hang daar ’n klomp goeters aan dun draaitjies. En daar raak ons bekommernistassie net nog swaarder.

Dalk het dit tyd geword om Jesus ernstig op te neem: 25Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. 26Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee!

Of jy jou nou bekommer of nie, dit help in ieder geval net mooi sweet niks nie. Ons moet leer om die pakkie bekommernis by God te los. Ons moet ons vertroue in Hom sit en weet Hy sal vir ons sorg. Hy het ons eenvoudig net te lief om toe te kyk dat daardie groot berg wat voor ons lê, ons insluk of vertrap. Weet jy hoe waardevol jy vir God is? Kyk net om jou. Kyk hoe hou God die natuur in stand. Die mossies en die voëltjies.

Vertrou op God. Vertrou dat Hy vir jou sal sorg. Jy is soveel meer werd as die blommetjies en die bytjies. Ja, al lyk die goeters voor jou soos monsters wat jou gaan opeet, weet dat jy eenvoudig net te kosbaar is.

Gee nou al jou bekommernisse vir God. Vertel Hom van elkeen – van jou kinders en jou ouers, van al die verhoudings wat soos skuurpapier seer skuur, van die finansies en besigheidsbesluite en rekeninge waar die gate net groter word, van alles.