Wat jy moet weet oor ryk word

1717

Jy ken seker die ou Chinese spreekwoord: Die reis van ’n duisend myl begin met een enkele tree. Begin net jou geld reg bestuur!

Tony Robbins het gesê: “Quality questions create a quality life. Successful people ask better questions, and as a result, they get better answers.” Dit geld vir baie dinge wat ons doen, veral met finansies.

Betaal alle uitgawes en hê steeds genoeg

Klaar vandag vir jouself die vraag uit of jy ryk wil wees of finansiële vryheid wil hê. Finansiële vryheid beteken om met jou geld te doen wat jy wil en nog steeds genoeg geld oor te hê om van te leef. Baie mense verruil ongelukkig hulle vryheid vir sekuriteit. Mense met ’n ingesteldheid van rykdom en voorspoed het albei. Hulle weet hoe om sekuriteit te kry sonder om hulle vryheid prys te gee. Jy kan sekuriteit hê sonder vryheid, maar as jy vryheid het, sál jy sekuriteit hê.

Mense is geneig om te dink as jy gestudeer het, ’n bepaalde beroep volg en vir die volgende 40 jaar jou tyd opsysit daarvoor, sal jy ryk en suksesvol wees. Die 40-beginsel sê mos 40 uur per week vir 40 jaar. Maar dan moet jy gemaklik wees met net 40% van jou inkomste. Dis waarheen 97% van mense met hulle finansies op pad is.

Dit beteken om vir die volgende 20 tot 40 jaar jou tyd op te offer in ruil vir geld en dan uiteindelik nie genoeg te hê nie. Ons almal streef daarna om ryk te wees. Dis ’n groot uitdaging, want daar is omtrent net 1.5% van mense wat as die welvarendes onder ons gereken word. Ek praat hier van megarykdom.

Droom oor rykdom, maar doen ook iets

Dit is belangrik om ’n visie te hê oor jou geld. Dit moenie iets wees wat jou pootjie met die dag-tot-dag-uitdagings met jou finansies nie. Dit gebeur alte maklik dat ons vasgevang raak en nie vooruitgaan nie, want ons het mos nie nou genoeg geld nie. Stel eerder vas wat jou droom hieroor is.

Ons het ʼn ruk gelede in die nuus gehoor hoe Elon Musk ’n massiewe vuurpyl in die hemelruim opgestuur het. Daarmee saam sommer een van sy motors ook – ʼn Tesla Roadster. Hy het ’n visie gehad om iets te doen wat die meeste mense geglo het onmoontlik is. Dalk dink jy jou visie of droom oor jou finansies is nie haalbaar nie, maar daarsonder is jy op pad na nêrens.

As jy regtig ’n miljoenêr wil wees, moet jy ernstig wees daaroor. Jy moet bereid wees om jou geld eenkant te sit en dit oor en oor te doen, tot jy jou miljoen bymekaar gemaak het.

Die teendeel is ook waar: As jy jou geld uitgee die oomblik wat jy dit kry, sal jy nooit daardie fortuin maak nie. Dit is wat met die meeste mense gebeur: Sodra hulle inkomste styg, styg hulle “noodsaaklike” uitgawes outomaties. Dan sit hulle met ’n huis vol weeldebesittings, maar eintlik is hulle bankrot in plaas van skatryk.

Vind ander inkomstestrome om finansieel vry te wees

As jy vasbeslote genoeg is, kan jou netto waarde teen hierdie tyd volgende jaar tienduisende of selfs honderdduisende meer wees. Dit kan dalk nog gouer ook gebeur! Voor jy jou kom kry, is die pad oop voor jou en sal jy meer en meer kry.

Maak elke dag seker jy wend jou rande en sente optimaal aan. As jy nie vandag uitkom met jou geld nie, is die kans dat jy dit oor vyf of tien jaar gaan regkry, eintlik baie gering. My uitdaging aan jou is om iets te gaan doen wat jou nader bring aan jou droom oor jou finansiële posisie.

Finansiële vryheid beteken dat jy nie werk toe hoef te gaan nie, maar nog steeds geld het wat inkom en al jou uitgawes dek. Mense wat hulle eie geld as’t ware uit die lug kan maak en kan aanhou om dit te doen, is werklik vry. Ons kan baie leer by Richard Branson, een van daardie biljoenêr-entrepreneurs wat ’n geleentheid kan skep uit niks. Neem een tree op ʼn slag.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.