Wat jy regtig oor suiker moet weet

0
239
suiker.png

Suiker word vandag gesien as die grootste vyand vir jou gesondheid. Hier is alles wat jy daaroor moet weet.

Vergeet van vet en koolhidrate. Suiker word deesdae as dié groot gesondheidsvyand beskou. Sommige beweer dis net so nadelig soos tabak en kokaïen. Is dit waar of is dit net ’n storm in ’n koppie soet tee?

Is suiker regtig so sleg vir ons?

“Suiker is die liggaam se brandstof,” sê prof. David Katz van die Yale Universiteit. “Die probleem is dat ons heeltemal te veel daarvan inneem.” Dis ook geen wonder nie: Suiker word by allerhande verwerkte kosse gevoeg, van slaaisouse tot pasta. Ons besef nie altyd hoeveel suiker daar in ons kos is nie. Hier praat ons nie van suikers wat van nature in vrugte en groente voorkom nie, maar enige suiker wat jou hand by kos voeg, soos wit suiker, bruin suiker of stroop.

Die Amerikaanse Hartstigting beveel aan dat vroue nie meer as vyf teelepels (20 g) suiker per dag inneem nie. Slegs twee snye brood bevat alreeds 2,5 g suiker, en as jy dors word deur die dag, kan ’n blikkie gaskoeldank, wat tot 10 teelepels suiker kan bevat, jou ver oor daardie perk stoot. Suiker word ook geassosieer met vetsug, tipe 2-diabetes en hartsiektes.

Hoe gesond is natuurlike suikers?

Natuurlike suikers, soos dié wat in vrugte en melk voorkom, is nie nadelig vir ’n mens nie. “Dit smaak dalk soet, maar bevat betreklike klein hoeveelhede suiker,” verduidelik prof. Rachel Johnson van die Universiteit van Vermont. Hierdie kossoorte bevat ook noodsaaklike vitamiene en minerale, en die water- en veselinhoud help om suiker stadiger in jou bloedstroom vry te stel.

Wees egter versigtig vir natuurlike suikers in vrugtesappe en smoothies: Dis net so sleg vir jou soos suiker wat in gaskoeldrank voorkom. As die vesel uit vrugte verwyder word, is die sap gekonsentreerd en word die suiker vinniger deur die liggaam opgeneem. “Die gemiddelde appelsap bevat meer suiker as in ’n ekwivalente blikkie gaskoeldrank,” sê David Gillespie, outeur van die boek Sweet Poison.

Kan suiker inflammasie veroorsaak?

Inflammasie is die hoeksteen van jou liggaam se vermoë om homself te genees. Sonder inflammasie sal enige wond begin sweer en klein infeksies dodelik raak, sê dr. Andrew Weil, eienaar van die webtuiste Dr. Weil on Healthy Aging: Your Online Guide to the Anti-Inflammatory Diet. “Inflammasie is jou liggaam se manier om homself te beskerm deur immuunselle en belangrike voedingstowwe na die areas te stuur wat dit die nodigste het. Inflammasie bereik daardie areas deur ’n toename in bloedvloei, wat op sy beurt die rooierigheid, warmte, swelling en pyn veroorsaak wat jy met die woord ‘inflammasie’ assosieer,” sê hy.

’n Klein snytjie wat mettertyd genees, is egter baie verskillend van chroniese inflammasie. Wanneer inflammasie as ’n immuunreaksie nooit “afskakel” nie, kan die aanhoudende produksie van immuunselle permanente skade aanrig. Dit kan tot ernstige siektes soos artritis en kanker lei, sê die dieetkundige Julie Daniluk, skrywer van Meals that Heal Inflammation. “Wanneer die inflammasiestelsel nie afgeskakel word nie, gaan jou liggaam stelselmatig agteruit.”

Die oorsake van chroniese inflammasie verskil van persoon tot persoon en sluit in die kosse wat ons eet. Kos hoog in verfynde suiker en ander verfynde koolhidrate, soos witbrood en warm skyfies, veroorsaak dat jou bloedsuiker skielik styg. Dít stel sitokiene vry, oftewel hormone wat deur die vet in jou liggaam vrygestel word en inflammasie kan veroorsaak. Die beste manier om dit te beveg is om meer volgraankosse soos bruinrys te eet, wat die produksie van sitokiene vertraag. “Die regte dieet kan ’n beskermende funksie hê,” sê Daniluk. “As ons ons lyf goed oppas, kan ons vinniger genees en dalk selfs chroniese inflammasie voorkom.”

Hoe gevaarlik is verfynde suiker?

Verfynde suiker, dit wil sê die suiker wat ons in die winkel koop, is die grootste oorsaak van ons suikerprobleem, sê endokrinoloog dr. Robert Lustig. Hy glo suiker is net so skadelik soos kokaïen en tabak. Fruktose is glo veral nadelig omdat dit dikwels met glukose gekombineer word om allerhande kommersiële versoeters te maak. Wanneer ons fruktose só inneem, sê hy, skei ons liggame nie die hormone af wat vir ons brein sê ons is versadig nie. “In plaas daarvan word suiker reguit na die lewer vervoer, waar dit in vet omgesit word.” Dit kan ook die skadelike vet, trigliseried, in die bloedstroom verhoog, wat ’n risikofaktor vir verstopte are en hartsiektes is.

Kan ek aan suiker verslaaf raak?

Die term “suikerverslaafde” blyk ál hoe nader aan die waarheid te wees. Paul van der Velpen, hoof van Amsterdam se gesondheidsdiens, beskryf suiker as die “gevaarlikste dwelm van alle tye”. Die rede is dat suiker jou nie soos ander kosse versadig laat voel nie. “Nes alkohol en tabak is suiker eintlik ’n dwelm. Mense wat suiker gebruik, wil altyd meer en meer hê, al is hulle versadig,” sê hy.

Tog is daar nog geen wetenskaplike bewyse wat dié opvatting kan staaf nie, sê prof. Cynthia Bartok van die Universiteit van Pennsylvania. “Ten spyte van mense wat beweer hulle is verslaaf aan suiker, en die oneindige getal webtuistes wat hierdie boodskap verkondig, het die moderne wetenskap nog nie bewyse daarvoor gevind nie,” sê sy.

Kan suiker tipe 2-diabetes veroorsaak?

Volgens ’n Europese studie wat in 2013 gedoen is, is jou kans om tipe 2-diabetes te ontwikkel tot 22% groter as jy slegs een versoete drankie per dag drink. Suiker op sy eie veroorsaak egter nie diabetes nie, meen prof. Joan Salge Blake van die Akademie van Voeding en Dieetkunde. “As jy meer suiker inneem as die aantal kilojoules wat jy daagliks nodig het, kan jy gewig aansit.

Om oorgewig te wees, is ’n groot risikofaktor, aangesien jy onder meer ekstra stres op jou liggaam plaas en sy vermoë om ’n normale bloedsuikervlak te handhaaf, beïnvloed.” Verhoogde bloedsuiker kan tot insulienweerstandigheid lei. Dit beteken jou liggaam produseer wel insulien, maar die selle in jou liggaam reageer nie meer op dié hormoon nie en kan dit dus nie meer effektief gebruik nie. Só word die suiker wat jy eet, nie meer uit jou bloed na jou selle toe vervoer nie. Insulienweerstandigheid kan uiteindelik veroorsaak dat jou bloedsuiker chronies abnormaal hoog is.

Is daar ’n verband tussen suiker en alzheimersiekte?

Al hoe meer navorsing toon dat daar ʼn sterk verband tussen jou dieet en jou risiko vir Alzheimersiekte bestaan. Navorsers het in 2005 bevind dat jou brein ook insulien produseer, en dat hierdie insulien noodsaaklik is vir jou breinselle om te oorleef.

In jou brein help insulien om glukose in jou neurone op te neem en breinoordragstowwe te reguleer, wat noodsaaklik is vir jou geheue en leerproses. Dit is hoekom ’n verlaagde insulienvlak in jou brein geheue- en kognisieprobleme kan veroorsaak. Navorsers bestempel Alzheimersiekte daarom al ’n geruime tyd as “tipe 3-diabetes” of “diabetes van die brein”.

Volgens die joernaal Neurology kan suiker en ander koolhidrate jou breinfunksie aantas selfs al is jy nie diabeties nie. Die prentjie lyk selfs nog donkerder vir mense wat wel tipe 2-diabetes het: ’n Studie deur die Brown-universiteit in Amerika toon dat mense wat daaraan ly, meer breinvolume as ander verloor namate hulle ouer word. Die geheueprobleme wat dikwels hand aan hand met hierdie siekte gaan, kan dus in werklikheid die vroeë stadiums van Alzheimersiekte wees.

Is dit nadelig om kunsmatige versoeters te gebruik?

Kunsmatige versoeters word al meer as ’n eeu lank in koffie en tee gedrink as ’n gesonde alternatief vir suiker. Die wenkbroue het gevolglik gelig toe ’n studie wat in die joernaal Nature gepubliseer is, onlangs bevind het hierdie versoeters kan die bloedsuiker laat styg in plaas van daal. Versoeters soos sakkarien en aspartaam kan glo die aantal bakterieë in sekere mense se ingewande verander.

Dít kan veroorsaak dat jou bloedsuiker styg en kan ook selfs tot glukose-intoleransie lei. “Ons het gewonder hoekom mense wat kunsmatige versoeters gebruik, nie altyd gewig verloor nie,” sê dr. Judy Wylie-Rosett van die Albert Einstein Mediese Skool in New York. Die oplossing, sê sy, is om regte suiker te gebruik, maar baie min. “Vermy versoeters en eet eenvoudig minder soetgoed.”

Uitspraak: is suiker sleg vir ons?

Te veel suiker is ongetwyfeld sleg vir jou gesondheid. Die meeste mense sal daarby baat om hulle suikerinname te verminder en ’n gebalanseerde dieet te volg. Dit beteken nie noodwendig dat jy suiker heeltemal uit jou dieet hoef weg te laat nie. Soos prof. Katz sê: Die probleem is nie dat suiker “giftig” is nie, maar dat ons heeltemal te veel daarvan eet. Loop maar eerder volgende keer ’n wye draai om die rakke met lekkergoed en fyngebak in die winkel.