Wat jy vandag kies, beïnvloed jou môre

2245

Keuses, keuses… sommige is maklik, ander is gekompliseerd en kan jou lewe vir altyd in ’n ander koers stuur. Kies daarom slimmer.

Jy wil iets so eenvoudig doen soos water koop. Die keuses is: gegeur of ongegeur, met of sonder gas, in ’n glas- of plastiekhouer, uit ’n fontein of chemies behandelde water. So kom ons daagliks voor honderde besluite te staan.

Neem verantwoordelikheid vir die besluite wat jy neem

’n Nederlandse sielkundige, Nienke Wijnants, het ’n boek geskryf oor die dertigs-dilemma. Sy reken veral mense tussen 25 en 35 jaar oud sit met ’n groot probleem aangaande al die keuses wat hulle elke dag moet maak. Sy noem dié generasie rusteloos en maklik aandagafleibaar. Te veel inligting en ’n klomp opsies kan jou vermoë om reg te kies beïnvloed. Dit maak dat jy gedurig twyfel en onseker is.

Wat jy vandag kies, het ’n regstreekse invloed op hoe jou lewe môre gaan lyk. Ons is na God se beeld geskep, dus het ons ook onder meer die vermoë om vir onsself te dink. Ons het die vryheid om self besluite te neem, maar ons is nie vry van die gevolge daarvan nie!

Ons neem soms die verkeerde besluite en blameer dan alles en almal vir die negatiewe gevolge. Ons vra maklik: “Maar hoekom?” en vergeet dat ons self swak keuses maak. As ek onder die invloed van drank bestuur, is die kans goed dat ek in ’n motorongeluk kan beland. Aanvaar daarom verantwoordelikheid vir jou eie keuses.

Vra daagliks vir insig en wysheid. Gebruik die Bybel as jou GPS. Dit is die beste rigtingwyser. Die Bybel is wel nie ’n handboek wat vir jou antwoorde op elke vraag gaan gee nie, soos hoe oud jou kind moet wees voordat jy vir hom of haar ’n selfoon kan koop, maar daar is duidelike riglyne oor wat reg en verkeerd is.

Leef stadiger en vergeet ’n slag van jouself

Gebruik jou gesonde verstand. Jy gaan tog nie iets doen wat jouself of ander mense skade kan aandoen nie. Voordat jy enige lewensveranderende besluite neem, gebruik jou mentors of geestelike leiers as ’n klankbord om seker te maak jy kies reg. Gaan na iemand wat jy kan vertrou, want daardie persoon is dikwels meer objektief as jy oor ’n spesifieke saak.

Ek neem swak besluite as ek oorhaastig raak. Daarom maak ek tyd, en vra eers vir myself ’n paar vrae. Dit is altyd die moeite werd om in rustigheid en kalmte ’n besluit te neem. Die Engelse gesegde lui mos: “Anything you do in a haste, can turn out to be a waste!”

Soms sê mense vir my: “Liesel, maar ek hoor nie God se stem nie.” Dan vra ek: “Het jy al lank genoeg stil geword om Sy stem te hoor?” Die lewe is gejaagd. Onlangse navorsing wys dat 66% van mans eerder ’n ligte elektriese skok sal vat as om vir meer as drie uur te moet stilsit in ’n leë vertrek. As ons te vinnig leef, sien ons nie meer die mooi dinge raak nie en hoor ons nie Sy hart nie.

Gebruik die regte maatstaf vir hoe jy optree

Die regte maatstaf is nie watter geleenthede vir mý die lekkerste gaan wees of vir mý die meeste voordeel inhou of van mý die minste opofferings vra nie. Nee, in die hemelse koninkryk gaan niks oor mý nie! Dit gaan oor Hom en jou naaste.

’n Man in sy tagtigs het op ’n keer ʼn boom geplant. Iemand vra hom toe waarom hy die boom plant, want, met respek gesê, hy gaan nooit die skaduwee kan geniet of die vrugte eet nie. Die ou man antwoord toe: “Maar my kinders en hulle kinders sal kan!” Kies vandag sodat iemand môre die vrugte kan pluk.

Kyk na die beste Voorbeeld wat ons het. Ons kan in Sy voetspore volg. Sy manier van leef verstom ons, want Hy het baiekeer stroomop en anders opgetree as wat mense verwag het. Hy het byvoorbeeld met uitgeworpenes en randfigure gemeng. Hy het met liefde gedien en liefde aan alle mense betoon.

Hoe wonderlik dat al kies ons soms verkeerd, ons foute gebruik kan word in diens van die hemel. Daar is altyd genade, vergifnis en tweede kanse in oorvloed by Hom.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.