Wat kan jy dóén om gelukkig te wees

467
gelukkig wees

Geluk is nie ’n keuse nie. Dis ook nie ’n gevoel nie. Dis ’n besluit om weer jou sprankel terug te kry, deur die regte dade. Ons help jou geluk vind met hierdie doendinge.

Almal smag na daardie pienk wolkie waarop hulle deur die lewe kan dryf, sonder enige bekommernisse. Wie wil dan nou nie gelukkig en vry wees nie?

Kinders kry dit goed reg. Vir hulle is vreugde ’n prioriteit, dit is die dryfkrag agter alles wat hulle doen. As ’n seuntjie met sy nuwe broek buite gaan speel en met modderkolle daarop terugkom, maak dit nie vir hom saak nie. Dit was pret! Dis elke mens se ware natuur.

Baie selfhelpboeke en -artikels sê geluk is ’n keuse. Kies dit en alles kom sommer net reg. So maklik is dit egter nie. Passiwiteit gaan jou nêrens bring nie. Selfs die ou wysgeer Aristoteles het van beter geweet toe hy gesê het: “Om gelukkig te wees is om aktief te wees.”

Die proses begin wel met ’n keuse: die besluit om weer die vonkie in jou binneste te gaan soek, want dit is nog altyd daar. Jy moet net ’n bietjie moeite doen om dit te herontdek.

Na ’n lang siekbed, ’n egskeiding en die dood van dierbares het lewensafrigter Kristi Ling navorsing oor geluk begin doen. Sy het agtergekom dat, anders as wat ons nog altyd geglo het, geluk nie net iets is wat ons voel of dink nie. Dit is ook iets wat ons doen.

As jy heeltyd wonder waarom die lewe so saai en eentonig is, is daar goeie nuus. Blydskap kom nie deur ’n wonderpil te sluk of die volgende trappie op die suksesleer te klim nie. Dit kom deur slim strategieë wat ons elke dag moet toepas vir onmiddellike, positiewe resultate.

In hierdie tyd wat mense soek na die volgende “like” of goedkeuring van ander, leer ons nou dat geluk ’n vaardigheid is. Wat meer is, dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om hierdie vaardigheid te bemeester.

Volgens Ling is daar ’n paar basiese beginsels wat sukses waarborg. Jy moet op ’n vars manier na die hele kwessie kyk. Die beste manier is om te vergeet wat jy nog altyd oor geluk gedink het.

Dis soos om ’n musiekinstrument te leer bespeel. Niemand gaan sit voor die klavier en speel skielik een van Mozart se sonates nie. Dis ’n vaardigheid wat aangeleer en bemeester moet word. En natuurlik moet jy elke dag oefen, want niks kom vanself nie.

Klein veranderinkies maak dit maklik. Die eerste ding is om elke dag op die regte manier te begin. Dan sal die res van die dag ook positief wees.

Die meeste van ons jaag soggens om betyds klaar te maak. Daar is nie tyd om ’n gesonde ontbyt te eet of rustig aan te trek nie. Van stiltetyd is daar nie sprake nie.

Met klein veranderinge kan jou oggendroetine gesond en ontspanne wees. Dit kan die dag in die regte rigting stuur en is ’n goeie basis vir ’n gelukkige en dinamiese lewe.

Ons gewoontes bepaal die rigting waarin ons lewens gaan. Dis nie maklik nie, maar dit kan wel verander word. As jou manier van doen jou afdruk, is dit tyd vir nuwe, positiewe gewoontes.

Daar is nie net een wenresep nie. Leer by ander vroue wat hulle geheim vir elkedagse geluk is, probeer dit en kyk wat werk vir jou. ’n Vreugdevolle lewe val nie in ’n mens se skoot nie, dit word aktief geskep.

Verander jou perspektief en kyk uit ’n ander hoek. Begin dan klein en verander elke dag iets aan jou roetine om dit gesond en ontspanne te maak. Neem duidelike aksiestappe vir volhoubare vreugde en ’n ligte lewe.

Binnekort sal die glimlag in jou hart ook om die mond begin wys sodat jy daardie vreugde met almal kan deel.

Leef bewustelik en in die oomblik

Die brein hou daarvan om terug te val in die gewoonte om by die verlede te bly vashaak. Of om verlore te raak in ’n onrealistiese toekoms. Ons kan egter doelbewus leer om eerder in die oomblik te leef.

Die Russiese skrywer Leo Tolstoi het gesê “nou” is die belangrikste tyd, want dit is die enigste oomblik waaroor jy beheer het.

Om in die oomblik te leef beteken om “nou” ten volle te ervaar – met al jou sintuie, emosies en jou volle bewussyn.

Om dit te bemeester, verg oefening, maar as jy dit eers reggekry het, is jou lewe voller. Die dankbaarheid wat begin vloei, skep ’n warm, behaaglike gevoel.

Wanneer ’n mens jou gedagtes sommer net laat gaan en nie beheer neem oor dit waaraan jy dink nie, gaan talle kosbare oomblikke verlore. Ek het myself al baiekeer betrap dat ek my foon outomaties optel en na sosiale media kyk of nuttelose internetsoektogte doen.

Ander kere het ek ure lank getob oor negatiewe gebeure van die verlede. Of gestres oor wat alles in die toekoms kan gebeur.

Dit is belangrik om die lesse wat in die verlede geleer is, te onthou. Dit is waardevol, solank dit nie alle gedagtes oorheers en wrokke veroorsaak nie. Dit geld ook vir die toekoms. As gedagtes oor die toekoms jou angstig laat voel of onrealisties is, steel jy jou eie geluk.

Daardie tipe drome maak dat jy vir ’n rukkie ontsnap uit die werklikheid en dan later mismoedig voel.

Drome oor die toekoms kan fantasties wees as dit jou motiveer en inspireer. Wanneer toekomsdrome die hier en nou se dryfkrag word, kan jy met groot vreugde en vrede jou doelwitte bereik.

Alhoewel ek nog elke dag daaraan werk om my gedagtes te beheer, het my siening oor die lewe drasties verander. Ek is outomaties meer positief.

Kyk ’n slag rond. Wat sien jy? Ek sien ’n lessenaar, stoel en my rekenaar. Ek sien die son wat buite skyn. Ek sien my familie wat daar buite sit en koffie drink.

Al hierdie dinge verteenwoordig geleenthede. My rekenaar bied oneindige geleenthede om myself te verryk. Of ek kan buite gaan sit en tyd deurbring saam met die mense vir wie ek lief is.

Jy is hier. Hierdie oomblik is jou lewe. Nie die verlede nie en ook nie die toekoms nie. Wat jy nou beleef, is die realiteit. Werk met dit wat jy het en sê ja vir die oomblik!

–Jana Fischer

Wees gasvry en doen iets spesiaals vir ander

Wanneer laas het jy ’n paar mense oorgenooi en hulle sommer net lekker bederf? Gasvryheid is liefde in aksie. Dis wanneer ’n mens jou huis vir iemand oopmaak op dieselfde manier as wat jy jou hart oopmaak.

In die Bybel lees ons baiekeer dat Jesus in mense se huise ingegaan en saam met hulle geëet het. Hy drink water saam met ’n Samaritaanse vrou, wat ontoelaatbaar was in daardie tyd, en terselfdertyd deel Hy die goeie nuus met haar.

Dan is daar ook die bekende gedeelte waar Hy die kindertjies na Hom toe nooi. Hy is die perfekte voorbeeld van gasvryheid.

Petrus sê ons moet gasvry wees sonder om te kla. Wie weet, dalk het jy al ’n engel as gas gehad! Ons uitgangspunt moet wees dat enigiemand vir wie ons in ons harte of huise innooi, netsowel Jesus kon wees. Die gesindheid waarmee jy dit doen, is wat tel.

Voel jy eensaam of alleen? In plaas van om verder terug te trek, nooi iemand oor of bederf iemand anders. Dit klink vreemd, maar dit werk. Dit is altyd saliger om te gee as om te ontvang. Dit laat jou én die ander persoon goed voel.

Ware gasvryheid is wanneer iemand van jou af weggaan en beter oor hulleself voel. Dit gaan oor die rykdom van ’n mens se hart en nie oor eksotiese etes of die weelde van die woonplek nie. Dit gaan daaroor om jou lewe met ander te deel.

Soos Jenn Wilken gesê het: “Entertaining seeks to impress, hospitality seeks to bless.” Mense stel belang in jou hart en aandag, nie in watter breekware of linne jy gebruik nie.

Gee die beste van jouself vir ander. Om ten volle teenwoordig te wees en met ’n sagte hart te luister, is beter as om die perfekte gasvrou te probeer wees.

Bederf ’n vriendin of nooi haar oor. Nie om vir haar te wys wie jy is nie, maar om vir haar te wys wie sy in Christus is. Maak jou hart en huis vir ander oop, bedien hulle en sien hoe word jou gees ook daardeur bedien.

Bel iemand en nooi hulle vir ’n lekker bederf-oggend, met koek en tee en heerlike geselskap. Het jy nie jou eie huis nie? Geen probleem nie. Gooi ’n kombers op die gras oop, pak ’n piekniekmandjie en nooi ’n paar vriendinne.

Geniet mekaar se geselskap en laat almal daardeur gekoester voel. Wanneer julle ná die tyd uitmekaar gaan, sal almal ’n glimlag op die gesig hê.

–Leani van Niekerk

Hou op om die slagoffer te wees

Dit was (al weer) ’n blou Maandag. ’n Kollega het die bevordering gekry waarop jy gehoop het. Die artikel was nie betyds in nie. En jy is boonop laat vir jou enigste vriendin se verlowingspartytjie.

Nie dat jy daarna uitsien nie, want jy is steeds enkellopend. Dit is tog nie jou skuld dat jy alles gee vir die werk nie.

Ons blameer maklik ’n moeilike kinderlewe, ’n geldgedrewe baas of ’n chroniese siekte vir ons ongelukkige omstandighede.

Verhoudings verbrokkel; werknemers word afgedank; misdaad en geweld is ’n realiteit. Selfs die gemaksone waarin jy nou is, kan verander. Onthou, die lewe gebeur nie met jou nie. Die lewe gebeur. Punt.

Vir ’n persoon met ’n slagoffermentaliteit is dit makliker om die blaam op iemand anders of iets anders te plaas as om self verantwoordelikheid te aanvaar. Sy kyk vas teen haar eie probleme en besef nie die vrou langs haar huil ook nie.

Hoekom is die rol van ’n slagoffer so aanloklik? Want die teks – jou lewe, keuses en reaksies – word deur ander mense geskryf. Mense en gebeure bepaal hoe jy vandag gaan dink, optree en voel. Jy glo alles wat sleg is, gebeur met jou, want dié een of daardie een is daarop uit om jou lewe moeilik te maak.

Met hierdie mentaliteit kan jy ander manipuleer of al die aandag op jou en jou reeks probleme plaas. (Die lewe is nou maar eenmaal teen my!)

Klink een van hierdie scenario’s dalk bekend? Moenie mismoedig word nie, word eerder ’n wenner!

As wenner skryf jý die teks. Jy bepaal jou eie geluk en houding en skep jou eie geleenthede. ’n Wenner is nie iemand wat ’n moeilike kinderlewe, die geldgedrewe baas of chroniese siekte vrygespring het nie. Dis iemand wat hard werk om uit die situasie te leer en ’n beter mens anderkant uit te stap.

’n Wenner ervaar ook die lewe met al sy veranderlikes, maar kies om in beheer te bly. Sy sien raak wat sy wel het en kies om nie te fokus op dit wat sy nie het nie.

Ons doen nie graag introspeksie nie omdat dit moeilik is om eerlik met onsself te wees. Jy sal moet vergewe en moet loskom van die bande wat jou bind. So kan jy agterkom wie of wat jou optrede, geluk en emosies beheer. Eksterne faktore of jyself?

Terwyl Paulus in die tronk vasgekeer is, blameer hy nie die stelsel of die soldate nie. Hy sing lofliedere tot eer van die Here!

–Eunice Stolz

Vergewe jouself en maak vrede met die verlede

Die woorde staan in groot, vet letters op my dagboek se buiteblad geskryf: “Don’t fix things at surface level!” Ek het dit iewers gelees en in plaas van die “leef gesond, mik hoog”- nuwejaarsvoorneme, het ek besluit om my kop reg te kry.

Elkeen van ons se kop is soos ’n trommel. ’n Trommel vol herinneringe. Vol lag en trane. Mooi of hartseer kinderjare. Mislukkings. Teleurstellings. Goue oomblikke.

Daar is tye wat ’n mens daardie trommel vol blomme pak. Alles is vars en ruik lekker en ’n glimlag vergesel elke item.

Ander tye lig ons vinnig die deksel op en word die slegte opgefrommel en sommer hier langs die kant tot heel onder ingedruk.

Dan word jou kop ’n asblik. Die bladsye is nie behoorlik deurgelees, verwerk, afgeteken en in ’n plakboek geplak nie. Dit lê doer ver, onder alles wat mooi is.

Om oppervlakkige plesiertjies te soek wat jou beter sal laat voel, werk net vir ’n kort rukkie. Dis nodig om die koptrommel uit te pak deur by die onderste lae te begin. Daarvoor het jy hemelse hulp nodig, want dis seer.

Dis glad nie lekker en gemaklik om in al die seer plekke te gaan delf nie. Dit bloei en die tande kners. Maar dit móét gebeur, want elke aksie tot dusver is en word steeds beïnvloed deur dié gemors.

Vir die eerste keer in jare sal jy dalk sekere hoofstukke behoorlik kan afsluit en alles begin hanteer wat jou voorheen oorheers het, sonder dat jy dit besef het: vrese, gewoontes en denkpatrone.

Nou verstaan ek skielik hoe die seisoene van die lewe werk. Die saadjie moet eers onder die grond doodgaan voor dit kan ontkiem en bo die grond kan floreer.

Net so moet jou koptrommel oopgemaak, uitgepak, skoongemaak en gesorteer word. Die proses is pynlik, maar die oes is vryheid. Jou perspektief verander en jy begin insien dat God die seerkry kan gebruik om ander se lewens te verryk. Jou rommel kan iemand anders se skat word!

Onthou dat hierdie proses tyd neem. Moenie haastig wees nie. Skryf jou gedagtes neer soos jy vorder. Hou moed, elke dag is ’n dag nader aan genesing.

Kry ’n berader of vriendin wat saam hierdie pad sal stap en vra vir God om jou in daardie gebroke areas weer heel te maak. Met die wysheid, begrip en insig wat jy in die proses kry, sal jy gelukkig en tevrede voel.

–Mirka Barnard

Wees heel eerste lief vir jouself

Vrouwees is ’n groot voorreg. Ons is dogters, susters, mammas, vriendinne, besigheidsvroue. Tussendeur vervul ons nog ander rolle soos dié van dokter, sielkundige en vrederegter.

Dis gekompliseerd! Net ’n vrou sal verstaan hoeveel verskillende gedagtes deur ’n mens se kop stroom binne ’n enkele minuut. Jy moet alles vir almal wees. Of so laat die media vroue glo.

Ek lag altyd as ek die meme op sosiale media sien waar die vrou woes deurmekaar lyk en ’n klomp goed gelyk probeer doen.

Sy sê: “Me trying to be fit, look sexy, be successful, be a great mom and a loving wife while trying to keep it all together.” Dis waar, maar tog belaglik.

Die druk wat die samelewing op ons plaas, en wat ons op onsself plaas, is heeltemal onnodig. Dis onmoontlik om die hele tyd in alle opsigte perfek te wees. Saam met soveel druk kom noodwendig teleurstelling.

Vroue blameer hulleself maklik wanneer dinge misluk en hulle nie al die doelwitte met vlieënde vaandels bereik nie. Jy begin dan al hoe meer aan jouself twyfel en selfs lelik met en van jouself praat.

Dit word ’n bose kringloop, want wie kan haar beste gee as sy haar eie grootste vyand in haar ronddra?

Dink ’n bietjie wanneer laas jy met liefde en geduld met jouself gepraat het. Soos met ’n vriendin wat kom raad soek vir ’n seer hart. Dit wat jy dink en sê, het ongelooflik baie krag. Woorde en gedagtes word uiteindelik jou realiteit.

Vroue is krities oor hulleself. Gee iemand jou ’n kompliment, is dit moeilik om te aanvaar. Jy wonder of dit opreg bedoel word. Dis asof ons nie onsself kan toelaat om goed te voel of lief vir onsself te wees nie.

Hierdie leuens sal jou geluk steel. Jy is reeds perfek gemaak, daar is niks wat dit kan verander nie. Nou is dit nodig om meer in jouself te glo. Om mooier en sagter met jouself te praat en weer lief te raak vir wie en wat jy is.

Fokus daarop om nie in negatiewe gedagtes te verval nie. As die slegte gedagte opkom, dink dadelik aan iets moois omtrent jouself.

Fokus op die dinge waarvan jy hou en waarvoor jy ’n natuurlike aanleg het. En vergewe jouself vir dit wat jy nie altyd die eerste keer regkry nie.

–Carissa Bosman

Wil jy graag gelukkig wees? Ons daag jou uit om die boek ELKEDAGSE GELUK te koop.

KOOP DIE BOEK

Wanneer ons groot is, vergeet die meeste mense hoe om regtig gelukkig te wees. ELKEDAGSE GELUK is veel meer as ’n selfhelpboek – dis ’n moet-hê!

Nadia Beukes, Mandi Baard, Andriëtte Norman en 87 ander bekendes, radio- en TV-persoonlikhede, lewensafrigters en motiveringsprekers het iets ontdek wat heeltemal in teenstelling is met alles wat ons nog altyd oor geluk wysgemaak is.

Ons kan nie ewigdurende geluk kry deur meer geld te verdien of meer besittings aan te skaf nie. Ook nie deur beroemd, suksesvol of invloedryk te wees nie.

Geluk is ook nie net iets wat ’n mens voel nie, daar is eenvoudige dinge wat ons dóén om elke dag met vergenoegdheid en vreugde te leef!

Oorweeg dit om ’n paar van hierdie – of al 90 – te probeer, en gee die vaalste dag ’n goue randjie: Skryf ’n dankie-sê-brief, gee geld uit op ’n ervaring, hou op dink wat die mense sal sê, doen iets gaafs vir iemand, sê jy is jammer…

Elkedagse geluk is die eerste stap om nuut te dink oor ’n gelukkige manier van leef.

“Gelukkig voel is iets wat jy kan aanleer! Dis soos gim toe gaan – die eerste keer is moeilik, maar na die tiende keer raak dit lekker.” –ANLIA VAN RENSBURG, aktrise

Elkedagse geluk boek Nadia Beukes, Mandi Baard, Andriëtte Norman en ander

R119 R169 [Finesse-vriendinne R99]

Ook beskikbaar as ’n e-boek R84 R119

voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za