Wat keer dat jy gewig verloor?

0
71
gewig_verloor.jpg

Jy eet volgens jou dieet teen die yskas, maar die skaal wil nie sak nie. Dit maak jou so moedeloos, jy eet sommer ’n hele pak ryskoekies op, want “dit maak mos nie vet nie”.

Jy eet volgens jou dieet teen die yskas, maar die skaal wil nie sak nie. Dit maak jou so moedeloos, jy eet sommer ’n hele pak ryskoekies op, want “dit maak mos nie vet nie”.

Miskien moet jy en jou vriendin weer ’n draai by die winkel gaan maak waar hulle al die “gesonde smoothies” het en terwyl jy nou so “af” voel, kan jou man vanaand dalk ’n bottel rooiwyn oopmaak. Hulle sê mos rooiwyn is goed vir jou hart… Hier gee dieetkundiges raad oor hierdie en ander foute wat verhoed dat jy gewig verloor.

Jy dink alle kilojoules is dieselfde

Kilojoule (kJ) is die meeteenheid om die hoeveelheid energie aan te dui van die voedsel wat ons eet asook van die energie wat ons gebruik. Die meeste voedsel en drank bevat kilojoules, wat uit koolhidrate, proteïene, vet asook alkohol verkry word. Maar is alle kilojoules dieselfde?

Nee, beslis nie! Daar is byvoorbeeld 420 kJ in twee eetlepels sjokoladekoekies, dieselfde as in twee koppies broccoli. Daar is egter ’n reuseverskil tussen die twee voedselsoorte, in hoe dit jou eetlus, energievlak en gesondheid beïnvloed.

Koolhidrate word in die lewer en spiere gestoor, en die stoorkapasiteit daarvan is betreklik laag, terwyl proteïene hoofsaaklik in die spiere gestoor word. Indien die hoeveelheid kilojoules wat ons uit koolhidrate en proteïene verkry, ons daaglikse behoefte oorskry, word die ekstra hoeveelheid as energie gebruik. Dit gebeur omdat ons liggaam nie koolhidrate en proteïene so goed stoor soos vet nie. Vette daarteenoor is die ideale stoorplek vir kilojoules, en verskaf meer as dubbel die hoeveelheid kilojoules per gram as koolhidrate en proteïene. Dit is dus baie maklik om te veel kilojoules uit ’n hoëvetdieet in te neem.

Dis belangrik om ook vitamiene, minerale en vesel in te neem deur daagliks vrugte, groente, volgrane, proteïene en laevetsuiwelprodukte te eet.

Karen Stadler, Mosselbaai

Jy dieet net vir ’n sekere tydperk

Saartjie berei voor om Maandag te begin met ’n dieet. Sy eet vir oulaas te veel van al die verbode dinge. Vir vier weke eet sy presies volgens die kitsdieet. ’n Verjaardagtee duik op, maar sy maak verskoning om nie te gaan nie. By die Bybelstudiegroep sit sy nie haar mond aan ’n eetdingetjie nie.

’n Wonderlike gewigsverlies begroet haar op die skaal net soos die advertensie belowe het: “15 kg in 4 weke!” Nou is sy nie meer op dieet nie. Sy hoef nie meer “nee dankie” te sê nie. Sy skep die bordjie vol eetgoed… presies die gewoonte wat oorspronklik gelei het tot oorgewig. Sy eet weer voorgereg, hoofgereg en nagereg, alles volgens haar ou styl.

Sy kry ’n groot skok, want sy het alles weer opgetel, plus nog! Sy sal moet teruggaan op dieet, maar nou besef sy – dieet is ’n pynpad.

Enige mens wat op ’n dieet is, los dit op die yskasdeur wanneer hulle met vakansie gaan of ’n spesiale geleentheid het. Maar as jy goeie eetgewoontes het, het jy beheer oor kos en beleef jy elke dag ’n lewe van matigheid en balans. Aanvaar dan “goeie gewoontes” as jou leefstyl en hou op dieet!

Ilsabe Spoelstra, Bloemfontein

Jy dink nie aan stres as iets wat jou vet kan maak nie

Stres is ’n natuurlike reaksie wat ons almal gereeld ondervind. Wanneer jy stres oor ’n sperdatum of jou finansies, of vassit in die verkeer, maak jou liggaam hom gereed om die situasie te hanteer. In sekere gevalle kan stres jou help om beter te presteer en harder te werk, maar te veel stres is nie goed nie.

Studies verbind chroniese stres met gewigstoename. Studies toon dat ons eerder kosse met baie vet en suiker, asook kitskos, kies wanneer ons stres beleef. Ons is ook minder geneig om oefening te doen, wat gewigsverlies verder kniehalter.

Die goeie nuus is dat stres op baie maniere aangepak kan word sodat dit nie jou poging om gewig te verloor in die wiele sal ry nie.

Probeer doelbewus om te ontspan. Slaap genoeg. Maak seker dat jy gesonde happies in die huis het en ook inpak werk toe.

Kry genoeg vitamien B en C in, want die liggaam benodig meer hiervan om hormone te vervaardig sodat jy stres beter kan hanteer. Oefening stel endorfiene vry, wat jou goed laat voel. Hoe fikser jy is, hoe minder streshormone vervaardig jou liggaam.

Stres en spanning gaan nie verdwyn nie. Die lewensdruk sal daar altyd wees, maar hoe jy dit hanteer, hang van jouself af.

Claudine Ryan, Durbanville

Jy is verknog aan jou skaal

Ek het nog nooit ’n skaal besit nie, maar toe ek getrou het, het ’n skaal saam met die man gekom. My man weeg homself gereeld en dit was die dophou van sy gewig wat hom gemotiveer het om weer te oefen, gesonder te eet en gewig te verloor.

Vir my het om die skaal dop te hou die teenoorgestelde uitwerking gehad. Namate die skaal swaarder geword of gestagneer het, het my moed gesak! Nou hoe bou jy ’n gesonde verhouding met jou skaal?

Hou uit en hou aan, jy kan. Onthou, goeie dinge neem tyd. Stel vir jouself klein doelwitte. Moenie lewe in die uiterstes nie, byvoorbeeld deur sekere voedselgroepe totaal uit te skakel nie. Breek jou slegte gewoontes een vir een en maak dit ’n lewenstyl.

Gebruik jou klere as ’n maatstaf. Indien jou langbroeke skielik stywer sit, weet jy dis tyd om beter lewenskeuses te maak. Daar is min dinge so bevredigend soos om jou somersrok weer aan te pas en te besef die ritssluiter gaan uiteindelik tot bo!

My belangrikste advies aan jou: Vergeet heeltemal van jou skaal. Bou eerder verhouding met gesonde kos en goeie oefening. Dit sal beslis die skaal eendag sy kilo’s laat terugsluk.

Lumé Morrow, Johannesburg

Jy gaan oorboord by ’n geselligheid

Sosiale geleenthede bied ’n groot slaggat as jy gewig wil verloor, maar jy kan tog nie net by die huis sit nie.

Wanneer jy ’n ete bywoon, skep jou bord halfvol met groente of slaai. Dit bevat min energie, en sal keer dat jy jou aan die ander kos vergryp. Eet ’n versnapering, soos vrugte of jogurt, voor ’n kuier. In ’n restaurant kan jy beplan om die helfte van jou ete as wegneemete te neem of om die kos met iemand te deel. By ’n teeparty, eet drie klein tertjies of een sny koek in plaas van om aanhoudend te peusel.

Probeer om tydens ’n kuier nie heeltyd langs die versnaperings te sit nie. Fokus op die gaste en gesels eerder as eet. Bied jou hulp aan en neem deel aan die aktiwiteite wat aangebied word.

Eet stadig. Kos kan ’n manier wees om verveeldheid en ongemak te systap. Probeer om nadat jy reeds opgeskep het, weg te beweeg van die kostafel af. Eet stadig en neem die geure, teksture en smaak van die kos in.

Organiseer aktiewe aktiwiteite. ’n Stap- of drafgroep is een manier om jou vriendekring te verbreed, oefening te kry en gesond te bly.

Pamela Clarke, Port Elizabeth

Jy vier jou sukses met koek en koffie

Natuurlik moet jy elke mylpaal op jou reis na ’n gesonder jy vier, maar dit hoef nie met kos te wees nie. Beloon jou fikser liggaam met ’n aktiwiteit wat jy nog altyd wou beoefen, soos ’n oefensessie met ’n persoonlike afrigter of om by ’n drafklub aan te sluit.

Bederf jouself met ’n nuwe kledingstuk om jou fisiese vordering te vier. Maak ’n afspraak by ’n salon vir ’n splinternuwe haarstyl om jou nuwe gesigvorm te vlei. Laat ’n stel ’n professionele foto’s van jouself neem.

Of jy jouself as die volgende TV-baaskok beskou en of jy skaars ’n eier kan bak, ’n gesonde kookboek of kookklas is ’n moet. Pak ook ’n nuwe stokperdjie aan. Met opsies soos kunsklasse, juweliersontwerp en dansklasse kan ’n mens nooit verveeld raak nie.

Bring nuwe lewe in jou huis in. Diegene met ’n groeihand kan ’n kruietuin begin en diereliefhebbers kan ’n nuwe familielid en stapmaat aanneem.

Net soos een slaai nie sorg vir ’n gesonde lewenstyl nie, net so sal een bederfie af en toe nie ’n mens se dieet nutteloos maak nie. Wees genadig met jouself, stel realistiese doelwitte en hou aan om jouself op gesonde maniere uit te daag.

Lize Wasserfall, Kaapstad