Wat maak ek nou eintlik hier?

1692

Leef jy jou lewensdoel? Sonde beteken “om jou doel mis te loop”. Jy moet behoeftes raaksien en met jou vermoëns ’n verskil op aarde maak.

“[M]iskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie…” – Ester 4:14

Eendag het ’n mediese spesialis ’n sielkundige gaan spreek en gesê: “Ek haat my werk. Ek moes nooit ’n dokter geword het nie. Ek wil eerder kreatief wees en dinge skep.”

“Nou wie het dan vir jou gesê om ’n dokter te word?” het die sielkundige gevra. “’n Onvolwasse sestienjarige seun het vir my gesê: ‘As jy wil geld maak, gaan word ’n dokter.’ En daardie sestienjarige was ekself,” het die dokter geantwoord. “Ek moes nooit na hom geluister het nie.”

Soos daardie man, is baie mense suksesvol in wat hulle doen, maar hulle is steeds ongelukkig. Hulle leef nie hulle lewensdoel nie. Hoe vind ’n mens dan uit wat dit is?

’n Lewensdoel ontkiem wanneer jy ’n talent aan ’n behoefte koppel. Dit werk so: Jy sien ’n behoefte raak en besef jy, met jou talent, kennis en ervaring, kan hierdie behoefte vervul. Jy kan dit ook in jou familie- en vriendekring vind. As jou vriende byvoorbeeld ’n behoefte aan positiewe denke het, moet jy dalk ’n inspirerende vriend vir hulle wees. Dit is iets wat deesdae nogal skaars is!

As jy jou talente aan daadwerklike behoeftes in die wêreld koppel, gaan jy miskien, soos Ester, eendag besef: Haai, dalk is ek gebore om met my talente juis hierdie spesifieke behoefte op aarde te vervul!

“Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?” – Spreuke 6:9

Dit is verstommend hoe sommige mense net eenvoudig meer uit ’n dag kan haal as ander. As ander mense nog slaap of sit en koffie drink, het hulle al klaar iets produktiefs bereik.

Hierdie mense weet hoe om die horlosie en die kalender te gebruik. Hulle weet hoe om te beplan en te skeduleer, te delegeer en te beheer, doelstellings te stel en die regte stappe te doen. Hulle kom nie laat nie. Hulle oorskry nie hulle sperdatums nie. Hulle gebruik nie die verkeer as verskoning nie. Hulle is gewoon doeltreffend!

Dubai, die stad wat uit niks in die woestyn opgebou is, is ’n goeie voorbeeld van hoe tydsbestuur en doeltreffendheid jou lewe kan verander. Toe hulle daar olie ontdek het, het die plaaslike inwoners nie eens horlosies gedra nie. Hulle was nomade wat nog met tente rondgeswerf het.

As jy hulle sou vra: “Hoekom is julle laat vir die afspraak?” was hulle antwoord: “Julle het die horlosies, maar ons het die tyd en die olie, so, pas julle maar by ons aan.” Die Britte het later, uit frustrasie, ’n groot horlosie vir hulle gegee om by ’n verkeersirkel op te rig.

Die heerser van Dubai het opgelet hoe doeltreffend sekere maatskappye en lande is. Hy het die beste projekbestuurders aangestel om ’n plan te maak, en sy mense begin leer om tyd produktief te benut en projekte betyds af te handel. Die resultaat hiervan was ’n wêreldhandelsentrum wat uit niks opgebou is.

Begin sommer vandag en vra hierdie vrae: “Hoe gaan ek doeltreffend wees? Hoe gaan ek elke geleentheid en my tyd die beste benut?”

“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God…” – Matteus 6:33

Heelparty misdaadgroepe, soos die Mafia, is baie doeltreffend, maar hulle is beslis nie in ’n goeie rigting op pad met die dinge wat hulle doen nie. Dis dus nie genoeg om net jou vaardighede te verbeter nie. As ’n Mafia-baas se vaardighede verbeter word, skep dit net ’n gevaarliker Mafia-magnaat!

’n Mens moet heel eerste jou karakter slyp, want dit is wat uiteindelik jou rigting gaan bepaal. Jou waardes en beginsels moet reg wees.

Stephen Covey se boek oor tydsbestuur heet, interessant genoeg, First Things First – eerste dinge eerste. Jy moet eers jou waardes regkry en dan daaruit jou rigting bepaal.

Jesus het ook in Sy gelykenis oor die sorge van die lewe gesê jy moet die belangrike dinge eerste stel. Soek jy eers jou eie koninkrykie se belange of jou eie politieke party se gewin? Of is jy regtig bereid om te vra wat God se wil is en dan standpunt daaroor in te neem?

Voordat jy dus enigiets doen, haal eers jou “kompas” uit en bekyk dit mooi. Lei jou huidige waardes jou na ’n goeie plek toe? Maak dit die wêreld ’n beter plek? Of is dit net gefokus op selfgerigte, selfsugtige dade?

Neem vandag jou karakter in oënskou. Is jou lewenshouding gesond? As jou fondasie en basis reg is, sal jy in die regte rigting op pad wees.