Wat maak jy met negatiewe mense?

0
148
negatiewe mense

Hoe jammer is dit nie dat negatiewe mense jou lewe so vergiftig nie! Hou op om hulle te probeer verander en fokus op jou eie beskerming.

Hoe jammer is dit nie dat negatiewe mense jou lewe so vergiftig nie! Hou op om hulle te probeer verander en fokus op jou eie beskerming.

Jou doel op aarde is nie om mense te probeer gelukkig hou nie. Jy is veral nie veronderstel om jou kosbare tyd te verspil op mense wat nooit gelukkig kán wees nie.

Jy dink miskien dit is jou taak en verantwoordelikheid. Jou ma het jou moontlik so grootgemaak. Of dis hoe jy ’n preek verstaan het. Dit kan ook wees dat negatiewe en toksiese mense naby jou jou daarvan oortuig het. Sommige mense kry dit mos baie goed reg om jou te laat glo jy het die mag om hulle lewe beter te maak. Maar in werklikheid is dit nie jou las om te dra nie.

As gelowige is jy vrygespreek. Vry om te kies wat die beste is vir jou. Vry om ’n lewe te leef wat getuig van die genade en vreugde waarin jy glo. Vry om grense te stel wat jou teen uitbuiting deur enigiemand sal beskerm. Vry om die beheer oor jou geluk nooit in mensehande oor te gee nie. Veral nie die hande van galpille en suurknolle nie!

Haal diep asem en aanvaar die geskenk van verandering. Sê met oorgawe vir iemand wat jou lewe vergal: “Stop! Tot hiertoe en nie verder nie…” Jy mag. Jy kan. Jy moet.

Jy kan God net vir die wêreld wys wanneer jy suiwer verhoudings het. Jy hoef dus nooit skuldig te voel wanneer jy jouself teen toksiese mense beskerm nie. Inteendeel, dink net hoeveel ekstra energie gaan jy hê om jou naaste opreg lief te hê soos jouself.

Voor jy wegspring met jou detoks, kyk ook diep in jouself. Dit is helaas moontlik dat jý ’n negatiewe ingesteldheid het of giftig optree teenoor ander. Vandag is die beste dag om jou eie toksiese lewenspatrone te verander. God se plan vir jou is gesonde verhoudings en ’n gelukkiger lewe.

Oppas vir hierdie 5 tipes toksiese mense

1. Die Beheervraat
Hierdie persoon is voortdurend besig om alles en almal te beheer. Sy wil die baas wees – nie net van haar eie lewe nie, ook joune en die hele wêreld s’n. Sy hou jou dop soos ’n valk, gereed om haar kloue in elke klein foutjie in te slaan.

Soms steek sy haar gifkloue weg onder die dekmantel van “ek wil maar net help”. Jy weet dis nie haar bedoeling nie. Sy wil wys sy is jou meerdere, sy kan alles beter doen; daarom kan sy nie delegeer of in ’n groep saamwerk nie.

Sy klou verbete aan alles vas, ook vriendskappe en haar kinders. Sy versmoor die mense om haar in haar alewige jaagtog om die beste te wees. Sy is die ma wat haar dogter se trouman, onthaalsaal, predikant én rok kies. Tussendeur maak sy seker die nuwe skoonma weet hoe vrot haar organisasie vir die onthaal is.

2. Die Mishandelaar
As daar iemand in jou lewe is wat jou mishandel: Kry dadelik hulp!

Iemand wat jou met woorde of vuiste verniel, het self ook hulp nodig. Hy (of sy!) is gelaai met woede. Dalk vanweë iets wat in die verlede gebeur het. Dalk omdat hy klein en onbenullig voel.

Hierdie gevoel van “ek is nie goed genoeg nie” maak hom gefrustreerd en lus om iemand beet te kry tot hy beter voel. Die mense vir wie hy die meeste omgee, word die slagoffers van sy wreedheid en gemeenheid. Dit kan jy nie verander nie. Jy kan hom nie beter of gelukkiger maak nie.

Hy het hemelse genesing en aardse berading nodig. Moenie vasgevang bly in ’n gevaarlike situasie omdat jy aanhou hoop hy sal verander nie. Dis valse hoop! Gevestigde patrone van mishandeling moet professioneel gebreek word. Dis nie jou werk nie.

3. Die Boosbek
By wie moet jy op eiers loop? Saggies, versigtig, sodat sy nie ontplof nie? Sy is soos ’n landmyn: Jy weet nie regtig wanneer en hoekom sy weer kwaad gaan word nie. Jy weet net dit gaan beslis weer gebeur.

Haar irritasie lê baie vlak. Die kleinste dingetjie kan haar laat lostrek met vloekwoorde en regte tantrums. Jy sien sulke mense op rugbyvelde en gholfbane, om konferensietafels en by verkeersligte. Hulle skree, maak lelike handgebare, gooi dinge rond en sê woorde waaroor hulle later spyt is.

Soms gebeur hierdie uitbarstings in die virtuele wêreld. Woorde wat in woede op Facebook of in ’n SMS getik is, bly lewenslank seermaak.

Dis amper onmoontlik om hierdie woede-uitbarstings te kalmeer. Hulle is buite beheer. Buite jou beheer. Die persoon het ’n diepgewortelde probleem wat onder andere met gedragsterapie opgelos moet word.

4. Die Boelie
Hierdie persoon kan subtiel te werk gaan of blatant ongeskik wees. Watter manier sy ook al gebruik, sy wil jou domineer en wys wie is baas.

Sy wil verskriklik graag beter voel oor haarself. Sy wil so graag die een met die mag en gesag wees. Almal wat in die pad hiervan kom, word gestamp, gestoot, beledig en geboelie.

Sy gebruik woorde, lyftaal, leuens en vrees om jou te verneder. Dit laat haar beter, gelukkiger en sterker voel as jy slegter en swakker voel. Sy sal daarom nie sommer hiermee ophou nie.

Volwassenes is dikwels skaam om hulp te soek wanneer hulle byvoorbeeld by die werk rondgestamp of uitgebuit word. Dis tyd dat die boeliekultuur wat oral posgevat het, gestop word! Niemand het die reg om jou uit te skel, met werk te oorlaai of met negatiewe kritiek te teiken nie.

5. Die Verslaafde
Dit kan alkohol wees of dobbel. Dagga of harde dwelms, anoreksie of bulimie, cutting of pornografie… Enige middel of gedragspatroon wat iemand se lewe negatief beïnvloed, kan ’n verslawing word.

Die verslaafde het professionele hulp en geestelike berading nodig. Sy het mense nodig wat haar konfronteer en die waarheid praat. Sy het nie iemand nodig wat die verslawing toelaat of ontken nie. Sy het iemand nodig wat die gevaartekens raaksien en iets daaraan doen.

Verslawing is egter te toksies vir jou om alleen te hanteer. Jy is nie die oorsaak van die probleem nie. Jy dra geen blaam vir iemand anders se keuses nie. Selfs nie al is dit jou kind of jou man nie! Die verantwoordelikheid vir die verslaafde se gesondword is nie joune nie. Maar jy kan die instrument wees deur wie die verslaafde hulp vind.

Wat sê die Bybel oor selfbeskerming?

“Jesus het nie net ander mense genees nie. Hy moes ook telkens omsien na Sy eie genesing.”

So skryf prof. Christina Landman in haar boek, Dit sal beter word (Carpe Diem Media). Die “Ek is”-uitsprake in die Johannes-evangelie is voorbeelde van Jesus se selfbeskerming.

“Wanneer mense Jesus sleggesê het, het Hy Homself gesonde name gegee. Soos toe Hy die brood vermeerder het. Daar was mense wat Hom wou gryp hieroor, omdat Hy die ekonomie omgekeer het. Uitbuiters het daardie dag duisende brode minder verkoop.

“Toe noem Hy Homself: ‘Ek is die Brood van die lewe.’ Dit is ’n wen-naam! So word Hy weer gesond om voort te gaan om ’n geneser te wees wat vir honger mense brood vermeerder.”

Bemagtig jouself so teen onnodige seerkry
“Opstanding en oorwinning in Jesus se voetspore beteken om na ander uit te reik. Om hulle te help wen teen swaarkry. Maar dit beteken ook om na ons eie genesing om te sien. Om onsself op die wenpad te sit teen lyding en pyn.”

Hoe doen jy dit?

Probeer hierdie maniere om jouself teen toksiese mense te beskerm.

Herken en erken gif in ander – en jouself
As jy die een is wat giftig optree, gee toe dat jy hulp nodig het. As die probleem by ’n vriend of familielid lê, probeer ’n privaat gesprek. Wees eerlik, maar doen dit in liefde en nederigheid. Verduidelik dat jy ’n patroon raaksien wat jou seermaak.

Trek die streep, met liefde en in erns
Eien jouself die reg toe om met respek behandel te word. In ernstige gevalle waar dit nie so is nie, moet jy wegstap en hulp kry. Waar jy nie in gevaar verkeer nie, maar misken word, kan jy julle tyd saam beperk. Bou nuwe vriendskappe en konneksies. Gaan vir berading en sluit aan by ’n omgeegroep.

Vertrou al hoe meer op jou geloof
Jy hoef niemand tot ander insigte te bring nie. Jy kan wel voortdurend bid vir die toksiese persoon. En vir liefde in jou hart om aan te hou vergewe.

Vertaal en verwerk uit Protect Yourself from These 10 Toxic People deur Debbie McDaniel.