Wat maak suiker so gevaarlik vir vroue?

0
48
suiker.jpg

Watter vrou kan nou nee sê vir ietsie soets? Tog skuil daar groter gevare in suiker as bloot die kilojoules …

Daar is verskeie kwale wat direk met suiker geassosieer word, maar sekeres is veral op vroue van toepassing.

Is jou vel ouer as wat jy is?

Suiker kan fyn lyntjies op jou vel tot gevolg hê. Dit is omdat glukose (die eenvoudigste vorm van suiker) aan proteïene soos kollageen bind. Dit veroorsaak dat die kollageen styf word en verswak. Kollageen is een van die proteïene wat die vel sy elastisiteit gee; daarom veroorsaak te veel suiker dat jy vinniger plooie kry. Voor jy volgende keer daardie duur teenverouderingsroom in die asblik gooi omdat dit nie werk nie, dink eerder aan die blikkie koeldrank wat jy so gereeld drink.

O, en daardie buierigheid!

Die meeste ma’s weet hoe suiker buie kan beïnvloed. Jy hoef net te dink aan jou kleuter se woedeaanval nadat sy te veel verjaarsdagkoek geëet het. Maar suiker lei nie net hiperaktiwiteit by kinders nie, dit kan ook depressie vererger en jou buierig maak. Die brein het ’n eweredige hoeveelheid bloedsuiker nodig om behoorlik te funksioneer. Verfynde koolhidrate soos wit meel en bygevoegde suiker veroorsaak egter baie oneweredige pieke en dale in jou bloedsuikervlak. ’n Studie wat in die British Journal of Psychiatry gepubliseer is, het getoon dat mense wie se dieet baie verfynde suiker bevat, ’n 58% groter kans vir depressie het. Nog ’n rede is dat te veel suiker jou voorraad B-vitamiene uitput. Hierdie vitamiene is baie belangrik om stres effektief te kan hanteer.

Jou swak geheue is dalk nie van ouderdom nie

’n Studie wat in die vaktydskrif Neurology gepubliseer is, het getoon dat mense met hoë bloedsuikervlakke meer vergeetagtig word en ’n groter gevaar loop staan om demensie te ontwikkel. Diabetes word lankal beskou as ʼn risikofaktor vir toestande soos Alzheimersiekte. Dié studie bewys dat selfs mense wat nie diabete is nie, maar nogtans hoë bloedsuikervlakke het, se korttermyngeheue verswak en dat hulle ʼn groter kans staan om soortgelyke siektes te ontwikkel.

Moet net nie ʼn hartaanval kry nie

Suiker is baie nadelig vir jou cholesterolvlak. Dit verhoog die slegte tipe cholesterol (LDL) en verlaag die goeie tipe (HDL), wat tot hartsiektes kan lei. Hartaanvalle het oor die afgelope tyd toegeneem onder vroue terwyl dit voorheen meer by mans voorgekom het. Volgens Harvard se mediese skool is hartaanvalle die grootste oorsaak van dood by vroue. Twee verskillende studies van 1988-1994 en 1999-2004 het die risiko’s vir hartaanvalle gemeet. Dit het getoon dat die meeste risikofaktore vir hartaanvalle by mans verbeter of stabiel gebly het, maar by vroue verswak het. Vroue se suikertand is een van die grootste redes hiervoor, aangesien mans eerder ’n swak plek het vir biltong of vleis.

Wat staan jou te doen?

Kunsmatige versoeters word gebruik om kos te versoet, byvoorbeeld sakkarien of xilitol, maar die ideaal bly om onverwerkte, natuurlike kosse te eet. Kies vars vrugte in plaas van vrugtesap en vars, rou groente in plaas van ingemaakte groente. Kies ook eerder volgraanprodukte soos heel mielies, growwe hawermout en saadbrood in plaas van mieliemeel, verfynde, versoete ontbytgraan of brood. Onthou dat jy jou suikertand kan tem. Hoe minder gereeld jy suiker eet, hoe minder sal jy lus kry daarvoor.

So kan jy suiker maklik beperk

Die meeste vroue neem heelwat meer suiker in as wat nodig is, nie omdat ons die suikerpot in ons teekoppie leegmaak nie. Nee, eerder omdat suiker op allerlei slim maniere verbloem word in die kos wat ons eet. Maak ’n gewoonte daarvan om die etikette op die verpakking te lees. Ongelukkig het suiker baie verskillende name, so, wees bedag op die volgende, wat alles “suiker” sê:

  • fruktose
  • glukose
  • galaktose, laktose en sukrose.
     

Daar is nie ’n definitiewe studie wat bepaal of daar ’n goeie tipe suiker is nie. Die beste oplossing is om jou totale suikerverbruik drasties te beperk.

Bron: Foodsure. Die artikel is vertaal en aangepas vir FINESSE