Wat mans dink… is kurwes hot of nie?

0
40
kurves

Al is ’n vrou se man mal oor haar kurwes, sal haar gewig altyd vir haar ’n issue wees. Maar maak dit regtig vir mans saak hoeveel ’n vrou weeg?

Al is ’n vrou se man mal oor haar kurwes, sal haar gewig altyd vir haar ’n issue wees. Maar maak dit regtig vir mans saak hoeveel ’n vrou weeg?

Vroue het nou maar eenmaal ’n ding met hulle gewig. Vingers is al gewys na die media, na mans…  Maar die feit bly staan, ’n vrou is baie keer die een wat nie tevrede is met hoe sy lyk nie. En dis boonop ook vroue wat hulle mond oor ander se gewig uitspoel …

Maar is gewig regtig vir mans so ’n groot kwessie soos vroue glo? Luidens ’n artikel in die manstydskrif Men’s Health het stres ’n invloed op hoe mans na vrouens se liggame kyk. Volgens ’n studie wat deur PloS One gedoen is, was mans wat onder baie stres verkeer het, meer geneig om normale en effens oorgewig vroue aantreklik te vind. Dit hou blykbaar verband met die feit dat ’n groter liggaamsbou op volwassenheid, onafhanklikheid en krag kan dui, dinge wat ’n man hoog op die prys stel as hy deur ’n moeilike tyd gaan.

Moet ons dan nou almal vir ons ’n stresbol van ’n man nadertrek of is daar hoop vir die res van die Adamsgeslag? Gesels jy met Hennie Jacobs kry jy sommer nuwe moed.

Sy ideale vrou

Hy is bekend as Diederik in 7de Laan, sy ma en sy vrou noem hom Hennie en as hy op die verhoog klim met sy kitaar, is hy Hendrik Boerr. Die twee vroue wat sy hart gesteel het, is sy vrou, Marissa, en sy dogtertjie, Nua. Tog is Hennie Jacobs nie skaam om te praat oor wat mans dink van vroue met kurwes nie … En sê Hennie, Marissa is beslis sy ideale vrou.

’n Man se probleem

As jy gedink het julle vroue het issues oor hoe julle lyk, moet julle ons manne se dilemma hoor. Eerstens weet ons nie altyd hoe julle lyk nie, so met al die knip en pluk en spuit wat julle deesdae sommer oor middagete laat doen. Alles is effens meer opgeblaas, getrim en in ander posisies gedruk.

Nie dat ek daarteen gekant is nie. As dit jou goed laat voel, doen dit! Plak net ’n prentjie van ’n eens-opspraakwekkende-onlangs-oorlede popsanger op jou spieëlkas. En herinner jouself daaraan dat enige obsessie ongesond is.

Looks is misleidend

Die ander ding is dat sekere vroue soms vir ons so mooi is dat ons dit aanvanklik heeltemal miskyk dat hulle nie so gaaf is nie! Jip, dit het al met my ook gebeur. Ek het op die harde manier geleer dat looks jou kan mislei. So, leer nou sommer uit my ondervinding en spaar jouself die moeite. Dit maak nie saak hoe mooi jy is nie, ons gaan op ’n stadium agterkom jy is nie vreeslik oulik nie en dan help ’n tuitbekkie en push-up bra net mooi niks.

Mans hou van kurwes

En laat ek nou maar ’n macho-geheim verklap. Julle is heeltemal te sensitief oor hoe julle lyk. Enige volbloedman hou van ’n ietsie ekstra om die lyf. Heelwat meer as van ’n brandmaer meisie aan wie jy te bang is om te vat, want sy mag dalk net breek.

Ek weet, ek weet. Dis die media se skuld. Want die media sê julle moet brandmaer wees. Oral. In elke tydskrif en op elke advertensiebord. Nou, trou dan met die media! Maar as jy graag ’n man wil hê, moenie na die media luister nie. Feit is, ons mans gee nie om hoeveel jy weeg of wat jou broeknommer is nie. Dit gaan eerder oor hoe jy jouself versorg, jou liggaam dra en embrace.

Dít sien ’n man raak

Dis belangrik dat ’n vrou ’n bietjie rondings het vir ons om aan te vat, ons hou daarvan. Ons kyk in elk geval nie altyd net vir die heupe en boude nie. Die eerste ding wat my altyd opval van ’n vrou, is haar oë en sleutelbeen (so, dit sal help as laasgenoemde darem sigbaar is!).

Jou oë sê baie, dit vertel ’n storie. Dit verklap jou gemoedstoestand en wat in jou hart aangaan. Die sleutelbeen is beslis vir my die mooiste ding van ’n vrou se lyf. Hoekom? Ek het nie ’n idee nie. Ek weet glad nie hoekom ek so baie daarvan hou nie, maar dit is regtig vir my mooi en vroulik.

Die een deel van jou lyf wat jy egter nié mag afskeep nie, is jou hakke. Nee, nie die magie, heupe of boude nie, dames, maar die hakke.

Solank jy goed versorg en netjies is, behoort jou man meer as gelukkig te wees. En gee hierdie stukkie vir jou man om te lees: As sy vra: “Liefie, lyk ek vet in hierdie denim?”, steek jou hemp in en trek jou broek so hoog op as wat jy kan. Vra dan: “My skat, lyk ek oud?” en los dit dan daar. Sy sal dadelik die boodskap kry en heel waarskynlik lekker saam met jou lag. En siedaar, die gevreesde vraag is iets van die verlede.

Aanvaar hy my soos ek is

Hoewel die meeste mans twee keer kyk na ’n mooi meisie in ’n stywe denim, beteken nie hy wil met haar getroud wees nie. Moenie toelaat dat jóú issues met jou gewig, jou man s’n raak nie. As jy gemaklik, gelukkig en gesond is, sal hy waarskynlik doodtevrede wees.