Wat met jou gebeur, is nie wie jy is nie

0
1310

Tinarie van Wyk Loots erken dat omstandighede soms oorweldigend kan wees. Dan is dit belangrik om kalm te bly en nie toe te laat dat dit jou eiewaarde beïnvloed nie.

Elke dag gebeur daar goed waarvoor ons onsself dikwels onregverdig blameer. Jare gelede het ek Amerika toe gereis, en ook Kanada toe gegaan om by my pa te kuier. Toe ek terugkom Amerika toe, het die doeane by die lughawe my uit die ry uit getrek. Hulle het my ondervra en skuldig laat voel om geen rede nie. Op die ou end is ek toegang terug in Amerika geweier. ’n Verskriklike groot geleentheid het as gevolg daarvan verlore gegaan, en ek het myself baie verkwalik. ’n Mens moet egter verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat jy kan beheer en dit wat buite jou beheer is, laat gaan.

Ons beheer baie minder van die lewe as waarvan ons bewus is. Jy kan wel beheer hoe jy reageer, hoe jy met ander mense omgaan en wat jou gesindheid is. Daar is baie slegte goed soos politiek, en dit is oorweldigend, want daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Jy kan darem ’n verskil maak in jou eie huis of jou eie tuin of by die naaste vulstasie deur net gaaf te wees met mense, ’n oop gemoed te hê en dankbaar te wees.

Op ’n stadium het ek minderwaardig gevoel omdat ek na my mening nog nie genoeg bereik het nie. Dan onthou ek my pa se woorde na enige prestasie: “Het jy jou bes gedoen? Dit is al waaroor ek omgee.” Dit is wat belangrik is, want ’n mens voel mos trots op werk waarin jy jou hart en siel gesit het. Dit is lekker om toekennings te wen en erkenning te kry, maar dis eintlik net ’n klomp mense wat bymekaar gekom het en besluit het dat jy ’n prys kan kry daarvoor. ’n Mens moet jouself nie daaraan meet nie, jy moet jou eie waarde hê.

Wanneer klein goedjies verkeerd loop, is dit moeiliker om objektief te wees, maar as groot goed verkeerd loop, is dit vir my makliker om dit te hanteer. As ek in beheer voel, is dit vir my moeiliker om te aanvaar wanneer dinge verkeerd loop. As ek weet iets is buite my beheer, is slegte omstandighede makliker om te aanvaar. Dit is nie ’n goeie ding om oordrewe positief te wees nie, want dan is jy nie noodwendig eerlik met jouself nie. Dit is belangrik om te probeer om kalm te bly, want hoe kalmer jy bly, hoe meer objektief is jy.

Alles wat met ons gebeur, dra by tot wie ons uiteindelik word; ons is die som van ons ervarings. Dit gaan ook oor hoe jy op iets reageer. Hoe vroeër jy ’n fout of ’n slegte ervaring kan erken, hoe makliker is dit om dit reg te maak, eerder as om te lank te probeer om jouself te verdedig, ten koste van jouself en goeie verhoudings. Dit is belangrik om jou verlede agter te laat, om dit te sien as iets wat deel is van wie jy nou is, maar wat jou nie definieer nie.

Ek glo daaraan om vreugde te vind in die klein goedjies – om geluk nie te koppel aan sukses of ander goed wat met jou gebeur nie, maar eerder aan iets soos dat die voëltjies sing of die son skyn of die blomme op pad werk toe wat regtig mooi is. Dan sal jy altyd vreugde in jou lewe hê. Die laaste tyd wat ek saam met my ma deurgebring het, het my werklik ’n heel ander perspektief gegee op die lewe en op wat regtig belangrik is – hoe dit partykeer belangriker is om ’n koppie tee te drink saam met ’n geliefde as om ’n werksding af te handel.