Wat my egskeiding my geleer het

0
102
egskeiding.jpg

Wat gebeur as dit wat jy gedink perfek is, skielik in duie stort? Dan tel jy jou kop op en groei.

Vanaand staan ek en my man van 1½ jaar in die kombuis. Ons maak saam kos, want my bachelor-broer kom by ons eet. Ons lag en gesels en ek dink hoe my lewe die afgelope paar jaar so wonderbaarlik verander het. Ja, dinge het ’n manier om uit te werk …

Dit voel soos gister toe my man my aan die nuwe intrekkers bekendgestel het. Ek het dadelik besef ek en hierdie borrelende vroutjie gaan groot vriende word. Dit voel soos gister dat my man, met sy arm om haar skouer, sê: “Al wat ek wil doen, is om haar gelukkig te maak.”

Dit voel soos gister dat haar man selfmoord gepleeg het.
Dit voel soos gister dat ek ’n maand en ’n half voor my tiende huweliksherdenking in die skeihof staan.

Hoe kan ’n mens ooit die pyn verwoord? Daar was so baie trane, so baie dinge is gesê wat nooit weer teruggeneem kan word nie. Alles waarin ek geglo het, het verdwyn. My twee kinders het hulle saans aan die slaap gehuil; ek ook. Die perfekte paartjie was toe nie so perfek nie. My sterk man in wie ek geglo het, val voor my oë uitmekaar. Vriende verdwyn en oordeel my. Ek voel verwerp, ek is weggegooi, nie meer goed genoeg nie, nie mooi genoeg nie. Die angsaanvalle word erger, die spanning ondraaglik. Menigmaal wens ek ek was dood. My menswaardigheid is aangetas, my identiteit verlore. My perfekte wêreld lê aan skerwe.

Ek besef in hierdie tyd wat die woord familie beteken. My ouers kom haal ons. Geen vrae, geen verwyte – net wye arms van omhelsing en vertroosting. My susters en hulle mans ondersteun ons dag en nag. My bachelor-broer maak sy huis vir my en my kinders oop. Hy versorg ons en staan ons by op die pad na herstel. Die inwoners van my tuisdorp is ’n groot netwerk van ondersteuning. Al wat ek moes doen, was om my trots in my sak te steek en die hulp te aanvaar.

Ek het baie tyd gehad om te dink. Ek het ook baie met die Here baklei, want hoekom doen Hy dit aan my? Ek is dan sy kind? Eers later het ek besef dat ek my eie reëls gemaak het. En ek is afgebreek tot op die grond. Eers toe ek klein en stukkend was en aan Hom erken het dat ek niks op my eie is nie, het Hy my begin opbou. Hy het my ’n nuwe lewe gegee.

Ek het my sondes voor die Here bely en glo opreg dat Hy my vergewe het. Ek antwoord saam met elke belydenisklas, elke nuwe egpaar, elke nuwe doopouers weereens die vrae opreg en beloof om die Here elke dag te dien. Ek vra Hom elke oggend dat dit wat ek gaan doen of sê, tot sy eer moet wees en dat sy wil moet geskied. Ek bly ’n kind op my knieë en besef elke dag die genade van die Here, die grootheid van sy krag.

Ek vra nie meer hoekom dinge gebeur het nie. Dit het gebeur – wat ek daarmee doen en hoe ek dit in my lewe gebruik, is wat belangrik is. As ek ’n eerlike terugblik neem, sou ek natuurlik baie dinge in my vorige huwelik anders gedoen het. Ek het geleer dat daar nie plek vir ’n derde persoon in ’n huwelik is nie. Die man is die hoof van die huis, volg hom in alles wat goed en reg is. Bid vir hom, respekteer hom en dra hom op aan die Here.

Ek het mensekennis opgedoen. Daar is baie jaloesie tussen sogenaamde vriende. Ek het ook ware vriendskap geleer. Die soort vriende wat saam met jou lag en huil, wat deur dik en dun by jou staan, saam met wie jy ’n pad kan stap.

Ek het geleer wat vergifnis is. Dis nie maklik nie, maar dit maak vir jou ’n nuwe wêreld oop. Een waarin jy kan groei en leer. Ek het geleer dat as ek nie geluk in myself vind nie, ek nie iemand anders gelukkig kan maak nie. Ek moes van voor af leer om van myself te hou, om trots te wees op myself en om vir myself ’n plekkie in die son te kry.

En toe kry ek ’n tweede kans op geluk. Ek herontmoet ’n skoolkennis … ons trou op Oujaar, agtien maande gelede. Dis vir my ’n voorreg om deel te wees van my nuwe gesin en om dit wat ek geleer het, in my nuwe huwelik toe te pas.

Dit weet ek nou

Ek kan nie vir iemand raad gee nie, elkeen se ervaring is uniek. Moenie ander oordeel nie, jy weet nie waardeur hulle is of nog deur moet werk nie. Alhoewel daar baie haat in die wêreld is, is daar net so baie liefde en mense wat jou wil help. Aanvaar dit. Alleen kan ’n mens nie deur ’n krisis werk nie. Die Here plaas die engele om jou om jou by te staan en te ondersteun, elkeen op sy eie manier. Jy is geskep om ’n rede, vind dit en leef dit.

Dit wil ek vir ander sê

My “vriendin” … Jy het my gebruik om te kry wat jy wou hê. Wat nou?
Vir my ware vriendin … Jy is vir my ’n inspirasie. Jou geloof is vir my ’n openbaring. Ek het ’n verlede en alhoewel jy nie alles weet nie, het jy nog steeds my vriendin gebly. Met jou sal ek enige pad stap. Vir my familie … Ek weet nou wat familie-wees beteken. Dit is ’n eer om deel van julle te wees.

Dit wil ek vir my kinders sê

Dalk verstaan julle eendag waarom ek sekere besluite geneem het. Dalk aanvaar julle dit so, dalk veroordeel julle my daaroor. Ek wil ’n ma wees op wie julle trots kan wees. Julle het op ’n jong ouderdom geleer om selfstandig te wees en om baie hartseer te hanteer. Ek is ontsettend trots op julle en oneindig lief vir julle. Leef met Jesus en julle sal lewensvreugde ervaar.

Dit wil ek vir my man sê

Jy het my aanvaar. Jy het my geleer om weer lief te hê en te vertrou. Jy het vir ons stabiliteit gegee en jy is ’n waardige hoof van ons huis. Ek kan weer lag. Elke dag, stukkie vir stukkie, leef ek my lewe met dit wat die Here vir my gegee het. Met waardering, met liefde, met vreugde, met vrede en met sy seën.