Wat ’n beeld van ’n man!

0
24
liefde_met_passie.jpg

Vroue:
“Is die man wat jy liefhet,
   dan anders as ander,
mooiste van al die vroue?
Is die man wat jy liefhet,
   dan ander as ander
dat jy ons so smeek?”
Sy:
“Die man wat ek liefhet,
is blakend gesond en blosend van kleur;
jy kan hom uitken
   tussen tien duisend ander.
Sy voorkop is soos suiwer goud,
sy haarlokke soos dadeltrosse,
so swart soos ’n kraai.
Sy oë is soos die duiwe
   langs die spruite,
duiwe wat lyk of hulle in melk gewas is
waar hulle langs die water sit.
Sy wange is soos die kruiebeddings
waar lekkerruik-kruie groei.
Sy lippe is soos lelies,
hulle drup van mirre.
Sy hande is soos stawe goud,
met edelstene ingelê.
Sy lyf is soos ’n blok ivoor,
met saffiere ingelê.
Sy bobene is soos marmerpilare
wat op goue voetstukke rus.
Sy voorkoms is soos dié van die Libanon,
indrukwekkend soos die seders.
Sy mond smaak soet,
alles aan hom is begeerlik.
So lyk die man wat ek liefhet,
   so lyk my lewensmaat,
vroue van Jerusalem.
(Hooglied 5:9-16)

Ai, is die liefde nie ’n wonderlike ding nie! Vir ander vroue mag hierdie man dalk heel gewoon lyk, maar vir sy beminde is hy niks anders nie as ’n kunswerk, ’n beeld uitgebeitel deur die hande van ’n meester.

Liefdesgedigte waarin ’n vrou die liggaam van haar man beskryf, is baie skaars in die antieke literatuur. Daarom is hierdie lied in Hooglied baie besonders.

Een uit tien duisend

In die verse wat hierdie lied voorafgaan, lees ons dat die vrou oral in die dorp na haar man soek. Daarna vra sy die vroue in Jerusalem om vir haar man te sê dat sy baie na hom verlang, as hulle hom dalk raakloop. Direk na hierdie insident begin die liefdeslied hierbo. Die vroue vra in vers 9 of haar man enigsins anders is as al die ander mans. As hulle moet help soek, moet hulle ten minste weet hoe hy lyk. Dit gee die verlangende vrou die kans om uit te brei oor die besondere kwaliteite van die man vir wie sy so lief is.

Sy begin deur te sê dat ’n mens hom tussen tien duisend ander mans kan uitken. Haar beminde is anders as al die ander manne. In die eerste plek is haar man “blakend gesond en blosend van kleur” (v. 10). In Hebreeus staan daar egter dat hy “glansend en rooi” is. Vir Westerlinge mag dit nie vreeslik aantreklik klink nie, maar vir die mense in hierdie wêrelddeel was ’n glansende gesig ’n simbool van gesondheid en lewenslus. Ons lees juis in Psalm 104:15 van ’n gesig “wat blink van olie”.

[pagebreak]

Min mans in Suid-Afrika sal dit as ’n kompliment beskou as hulle meisie vir hulle sê dat hulle “rooi” is. In die antieke wêreld was ’n rooi gelaatskleur egter ’n simbool van gesondheid en skoonheid. So lees ons in Klaagliedere 4:7 van prinse wie se liggame rooier as korale was. Verder lees ons ook dat Dawid ’n “rooi gelaatskleur gehad het, mooi oë en ’n goeie voorkoms” (1 Sam. 16:12; 17:42). In die antieke Egiptiese kuns sien ’n mens dikwels dat die liggaam van manne dikwels ’n donker rooibruin kleur gehad het. Hierdie vrou is mal oor haar man se kleur.

Geheel en al kosbaar

In vers 11 beskryf sy haar beminde se kop. Sy gaan hom in die volgende verse van kop tot tone beskryf, net soos hy haar tevore (deel 5 van hierdie boek) van tone tot kop beskryf het. Sy kop is van suiwer goud. Dit wys hoe kosbaar hy is. Gode is gewoonlik van goud gemaak, maar haar beminde is ook van goud, of liewer van suiwer goud. Dit verklaar ook sommer hoekom sy gesig so glansend is. Sy hare is pikswart. Dit kontrasteer pragtig met die goud van sy hoof. Sy lang, golwende hare lyk nes die dadelpluime, wat bykans ’n halwe meter lank kan word.

In vers 12 hoor ons dat haar beminde se oë “soos die duiwe langs die spruite is”. In Palestina is dit baie droog en water is baie skaars. Daarom is daar besonder aangename assosiasies met spruite. Dit is altyd ’n simbool van oorvloed en vreugde. So is duiwe ook altyd met liefde geassosieer. Die vrou sê dat wanneer sy na haar beminde kyk, sy net liefde in oorvloed sien. Hierdie duiwe is natuurlik wit, want dit lyk of hulle in melk gewas is. Melk dra weereens die betekenis van oorvloed en vreugde. Ons kry dit ook in die uitdrukking “land van melk en heuning”. Die allesoorheersende indruk wat ’n mens kry wanneer sy haar beminde beskryf, is varsheid, geluk en oorvloedige liefde.

Tot nou het sy haar man met haar oë waargeneem. In die volgende vers (v. 13) neem sy hom met haar reuk- en smaaksintuie waar. Sy wange ruik soos lekker kruie, om die waarheid te sê, dit ruik soos beddings vol kruie. Dit is egter nie duidelik of dit die reuk van sy vel is en of dit die reuk van sy baard is nie. In elk geval, elke persoon het mos sy eie kenmerkende reuk, en sy geniet die reuk van haar man.

[pagebreak]

Sy lippe is soos lelies. Die woord wat hier met “lelies” vertaal word, kan ook “lotusblomme” wees. Lotusblomme was altyd ’n simbool van energie en verkwikking. Sy sê dus dat haar beminde se soene verfrissend is. Sy lippe drup selfs van mirre. Dit verwys ongetwyfeld na sy speeksel. Dit drup van sy mond af. Sy beskryf dus baie intieme soene wat vol erotiese plesier is.

In vers 14 sê die vrou dat haar beminde se “hande soos stawe goud is met edelstene ingelê” en dat “sy lyf ’n blok ivoor is, met saffiere ingelê”. Ons moet dalk nie probeer om elkeen van hierdie elemente te verklaar nie. Dit gaan nie hier oor die simboliek van die goud, edelstene, ivoor en saffiere nie. Veel eerder probeer sy net sê dat haar man baie, baie kosbaar is vir haar. Sy noem die materiale op waarvan gode gewoonlik gemaak is. En hierdie vrou probeer om haar beminde te beskryf in terme wat gewoonlik vir gode gereserveer is (kyk Jer. 10:9 en Dan. 2:32-33).

Soos ’n seder van die Libanon

Die vrou vertel verder dat sy bobene soos marmerpilare is wat op voetstukke rus. Daar is Skrifverklaarders wat reken dat die woord “bobene” hier eerder met “dye” vertaal moet word, en dat dit ’n verwysing is na sy geslagsdele. Die feit dat sy dye (oftewel geslagsdele) met marmerpilare vergelyk word, is vir hulle ’n verwysing na ’n man se geslagsdeel wat in ’n ereksie-toestand is. Ander teoloë meen die feit dat sy bobene op voetstukke rus, wys dat die vrou haar man byna soos ’n standbeeld beskryf.

Nadat sy hom letterlik van kop tot tone beskryf het, kyk sy na hom as geheel. Sy sê dan dat hy soos die Libanon lyk, en net so indrukwekkend is as die seders op die berg. Die Libanon is die hoogste berg in daardie streek en geweldig imposant. Dit is ook die indruk wat haar beminde by haar skep.

Soos al die ander erotiese liedere wat hier bespreek word, bly ook hierdie lied nie net by die fisieke beskrywing van ’n beminde nie. Op die einde word daar elke keer daartoe oorgegaan om te geniet wat beskryf is. Dit gebeur ook hier. Sy sê “sy mond smaak soet”. Daarmee verwys sy na haar beminde se heerlike soet en vurige soene. Sy sê verder dat “alles aan hom begeerlik is”.

Aan die begin van die lied het die vroue van Jerusalem vir hierdie vrou gevra om haar beminde te beskryf sodat hulle kan weet hoe hy lyk ingeval hulle hom raakloop. Op dieselfde trant sluit hierdie lied af. Sy het hom nou haarfyn beskryf en daarom kan sy ten slotte vir hulle sê: “So lyk my lewensmaat, vroue van Jerusalem.”

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.