Wat ’n radiobaas sy lewensdoel gegee het

0
155
groot_fm.jpg

Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van Tygerberg 104fm en GROOTfm 90.5, is ’n man wat hou van besig bly. Verlede jaar se Argusfietstoer was net een van ’n lang lys dinge in sy dagboek.

Min het hy geweet hy sou ure later in ’n oorlewingstryd gewikkel wees – en ’n paar wonderwerke beleef…
Ek was redelik fiks en wou die Argus so gou moontlik agter die rug kry. Dit het goed gegaan, en ek het selfs voor die meeste van die mense in ons groep klaargemaak. Eers op pad huis toe het dit my getref. Iewers op die N1 het ek begin sleg voel. Ek het gesweet en my arms het gepyn. Iets was fout. Binne minute was dit asof daar ’n olifant op my bors kom sit het; ek kon nie asemhaal nie.

Ek het hospitaal toe gejaag. “Ek’s besig om ’n hartaanval te kry,” het ek uitasem verduidelik, en gehoop hulle kon my vinnig help. Ek wou by die huis kom. Ons het beplan om almal ná die Argus saam te braai, dus was ek haastig.
Maar toe hulle eers met die behandeling begin – medikasie, pype, monitors – was dit gou duidelik dat dinge nie vinnig gaan gebeur nie. Ek het gekrul van die pyn, maar na die eerste uur was daar geen beterskap nie. Dit het net erger geraak.

Die eerste wonderwerk was toe dr. Rust Theron, ’n wêreldbekende internis en jare lange vriend, toevallig daardie Sondag hospitaalbesoek gedoen het. Dit was eers toe hy sê hulle sal vir my ’n spesiale inspuiting moet gee, “want dis die enigste manier om jou lewe te red”, dat ek die erns van my situasie besef het. Ek was in ’n oorlewingstryd gewikkel! Die inspuiting het geen beterskap gebring nie; hulle was besig om my te verloor.

Dis tóé dat dr. Theron sy hand op my bors sit, net vir ’n paar oomblikke, en wegstap. Direk daarna het my toestand begin stabiliseer, in so ’n mate dat ek na ’n harteenheid oorgeplaas kon word waar ek ’n stent ontvang het. ’n Paar dae later het dr. Theron gebel en gevra of ek weet wat gebeur het. Met sy hand op my bors het hy, in gebed, om my lewe gesmeek. Ek het ’n tweede kans gekry. Maar dit was nie al nie. Toe ek ses maande later vir opvolgtoetse gaan, het ek die derde wonderwerk beleef. Nie net was daar geen hartskade nie, maar ook geen teken dat ek ooit ’n hartaanval gehad het nie! Dit was vir my geweldig om te besef dat die Here my persoonlik aangeraak het.

goeie_nuus.jpgEk het diep gaan nadink oor my lewe en prioriteite, en ek moes my afvra: Was dit waarmee ek myself so besig hou, koninkrykswerk? Is ek 100% besig om my roeping sinvol en produktief uit te leef? Die antwoord was nee. Daarom het ek hierdie tweede kans gebruik om my lewe te herskik; ek het van baie dinge ontslae geraak wat nie in lyn was met my doel op aarde nie.

Wat is my doel? Om mense deur middel van die media te laat sien dat Jesus Christus ’n werklikheid is. Hy is nie bloot ’n konsep nie. Vandag voel ek só geseënd om te kan sê ek het hierdie realiteit self beleef.

Besoek www.tygerberg104fm.co.za en www.grootfm.co.za