Wat ‘n skok – dis ‘n tweeling!

0
75
willie_joubert.jpg

Willie en Natasha Joubert bid vir ander om swanger te word, en daar kry hulle sommer self 'n tweeling!

Die Joubert-huishouding is deesdae in rep en roer. Die sangers Willie (47) en Natasha (35) het in Mei vanjaar ’n tweeling ryker geword, wat beteken daar is nou drie kleingoed onder een dak wat om Ma en Pa se aandag meeding. Maar in dié besige huishouding in Parys, Vrystaat, word daar nie net bottels en doeke omgeruil nie. Daar word ook tyd gemaak vir lag, speel, gesels…en om dankie te sê vir groot genade.Tee

’n Onverwagse tweeling en baie seën

Om ’n driejarige (Lizay) in die huis te hê is reeds ’n handvol, en toe maak die tweeling, Luan en Chloe (5 maande), ook hulle opwagting. Was dit deel van julle beplanning?

Willie: Glad nie! Ons was heel tevrede met ons driejarige krulkoppie, maar die Here het ander planne gehad. Ek weet nie of dit iets daarmee te doen het nie, maar verlede jaar op toer in Israel het ons een aand ’n optrede van Angus Buchan in Jerusalem bygewoon. Hy het gesê as daar mense is wat sukkel om swanger te raak, moet hulle vorentoe kom vir gebed. My sussie-hulle het op daardie stadium al vyf jaar lank gesukkel om kinders te kry. Daarom het ek en Natasha besluit om vir hulle in te staan.

Natasha: ’n Maand ná die toer het ek gehoor ek is swanger – met ’n tweeling! Ons het gewonder of die Here dalk iewers die “bestelling” verkeerd gehoor het. Ons was nie seker of ons moes lag of huil nie, en het ná die doktersafpraak twee uur lank in ’n koffiewinkel gaan sit en net vir mekaar gekyk.

Dié groot verantwoordelikheid het ons beslis onkant betrap, maar miskien is dit goed so. Ons sou nooit so iets vir onsself gekies het nie, maar vandag kan ons nie die lewe sonder hierdie twee geskenkies voorstel nie. Finansieel is dit ’n groot uitdaging, maar ons sien daagliks hoe die Here voorsien ver bo wat ons kan bid of dink.

Klein wonderwerkies het intussen deel van ons lewe geword. Een paartjie uit ons vriendekring het byvoorbeeld aangekondig dat hulle een van die tweeling gaan “aanneem” – nie amptelik nie, maar ten opsigte van versorging. Hulle het net begin om melk, doeke en klere vir een van die tweetjies te koop, asof dit hulle eie was. Dit het gehelp om die las op ons skouers te verlig.

Selfs tydens my swangerskap kon ek van God se groot genade getuig. Daar was baie mense wat my vooraf (onbewustelik) bang gepraat het met rillerstories. Swangerskappe waar een van die tweeling nie normaal ontwikkel het nie; swangerskappe wat veels te vroeg geëindig het; tweelinge wat ná geboorte weke lank in Intensief moes lê. Naderhand het ek myself gedwing om heeltemal op te hou luister en lees. Willie het my gereeld herinner: “Lovey, die Here het nog altyd vir ons voorsien. Hoekom sal Hy nou skielik ophou?”

My swangerskap was egter uitermatig geseënd. Ek het die tweeling tot 37 weke gedra, en hulle is albei sonder komplikasies gebore. Met ons eerste doktersbesoek het die pediater die tweetjies geweeg, en toe wéér op die skaal getel, net om seker te wees hy het nie ’n fout gemaak nie. Hy kon nie glo hulle het so mooi gewig aangesit nie.

[pagebreak]

Ouers leer baie meer by hulle kinders

Wat het ouerskap julle tot dusver geleer? Wat waardeer julle opnuut van mekaar en wat leer julle by die kinders?

Natasha: Dit kan nogal rof raak by die huis. Lizay en die tweeling het elkeen hulle eie manier om hulle plekkie in die son op te eis, en dis ook reg so. Daarom het ouerskap my geleer om te chill. Alles hoef nie altyd 100% te wees nie. Dinge hóéf nie altyd op hulle plek te wees nie. Jy hoef nie van die vloere af te kan eet nie. Die skottelgoed hoef nie heeltyd skoon te wees nie. Dis belangriker om gelukkige kinders en ’n gelukkige man te hê.

By Willie, met sy nuwe werk, het ek geleer dat jy enigiets kan wees wat jy wil. Dit gaan daaroor om ’n besluit te neem en dan te fokus op wat jy besluit het. Ek wil ’n goeie ma wees. Dus, al staan ek baie oggende doodmoeg op, geniet ek elke oomblik van my kinders se ontwikkeling en ons gesin se tydjies saam.

By Lizay leer ek van dankbaarheid. Sy is uit haar vel uit bly oor die kleinste goedjies. As ons in die oggende na haar speelgroepie toe ry, bid sy hardop: “Dankie, Jesus, vir die nuwe sonnetjie wat skyn. Dankie dat my armpie nie meer seer is nie. Dankie vir my maatjies. Dankie dat Pappa met my geraas het. Dankie dat my poef lekker uitgekom het…” In haar kinderlike opregtheid is sy dankbaar oor absoluut alles, en dis ’n mooi ingesteldheid om te hê.

By ons tweeling het ek geleer dat kinders met dieselfde ouers steeds elkeen uniek is. Luan, ons seuntjie, is rustig en tevrede. Al is hy so klein, kyk hy jou diep in die oë, asof hy alles om hom analiseer. Hy lyk vir ons na ’n denkertjie.

Chloë, ons dogtertjie, laat jou gou weet as sy ontevrede is, maar daar is ook ’n sagtheid aan haar wat maak dat jy haar net wil beskerm. Sy het die manier om as sy huilerig is, haar lippie só te trek dat sy verskriklik hartseer lyk, en dan wil ’n mens haar net vashou en vertroetel.

Willie: Daar is ’n paar dinge wat ek by Natasha geleer het. Haar vrouwees inspireer my. Sy gee nooit moed op nie. Sy gaan net aan en aan met die versorging van die kinders, selfs wanneer ek al lánkal gedaan is.

Ek verwonder my ook aan die manier waarop Natasha ander vroue tydens haar motiveringspraatjies inspireer. Hulle hang aan haar lippe. Dit voel vir my asof sy by ’n geheime plek dinge by die Here geleer het waar ek nie was nie.

Ook hoe gou sy herstel het ná die tweeling se geboorte. Ek het amper weer my vrou terug! Sy sê dis goeie gene en gewoontes. Dalk is dit waar. Ek en Lizay hou daarvan om saans voor bedtyd saam “hasiemelk” (Nesquick) te drink. Natasha reken dis ’n slegte gewoonte en sy weier om te swig.

Op ’n ernstiger noot, as ek terugkyk oor my geskiedenis as ouer, besef ek dat ek nou baie meer volwasse en rustiger is. Toe Menanteau (21) en Nastassje (19), my twee kinders uit my eerste huwelik, klein was, was ek nog in my jonger stormjare. ’n Go-getter wat hard aan my loopbaan gebou het. Op 47 het jy baie meer ervaring en grace. As jy jonk is, dink jy jy gaan jou kinders die verderf in lei as jy nie streng genoeg is nie. Vandag weet ek kinders leer die regte waardes aan uit jou manier van leef.

Ek het nog nooit opgehou bid vir my twee ouer kinders nie en is baie trots op wie hulle vandag is. Menanteau speel kitaar en Nastassje is net so talentvol. Sy sing ongelooflik mooi en skryf haar eie liedjies.

Sal ons ooit ons besige huishouding vir ’n stiller leefwyse wou verruil? Nooit nie! Ons kinders is ons grootste seën en die hartklop van ons lewe. Ons sien uit na ’n splinternuwe seisoen!

Wil jy iets ouliks sien? Kliek hier om te sien hoe Willie en die driejarige Lizay in hulle sitkamer sing. Dit gee nuwe betekenis aan die uitdrukking sing uit volle bors!