Wat om te verwag van kinders grootmaak…

Vir my was “What to expect when you’re expecting” een van die beste boeke ooit.

Ge-ewenaar deur die triomf van suksesvolle resepteboeke soos “Huisgenoot Wenresepte” en SJA de Villiers se “Kook & Geniet”.  Ek het alles en nog wat daarin opgeslaan, nageslaan en gade geslaan.  Ek het wys gevoel, tevrede gevoel en voorbereid gevoel.  En tog het daar soveel gebeur wat ek nie verwag het nie… want vir kinders grootmaak, het ek agtergekom, is daar nie ʼn wenresep nie.

Vandag, met twee en ‘n half tieners in die huis en ʼn kollektiewe 40 jaar van ouerskapservaring op my gesplinterde kerfstok, deel ek sommer wat ek geleer het om te “expect” van kinders grootmaak.  (Wanneer ek egter my seepkis nader sleep en keel begin skoonmaak om my opinie te gee, besef ek terdeë dat my kerfstok gemaak is uit my eie bos se hout en dat bome en bosse van streek tot streek verskil.)

  • Niemand het die dag wanneer hulle “I do” sê of die dag wanneer daar twee strepies op die swangerskapstoets verskyn, naastenby ʼn idee van wat vir hulle voorlê nie.
  • Die oomblik wanneer jy uitvind dat jy swanger is, begin ‘n lewenslange geneigdheid om maklik skuldig te voel wanneer dit by jou kinders kom.
  • Die mensdom is blykbaar geprogrammeer om al hulle ergste swangerskaps- en kraamstories vir swanger mammas te wil vertel.
  • Besluit wie se opinies dra volgens jou waarde en volg dan jou eie kop.
  • Ouers bemeester eers ʼn ouerskapsfase sodra die fase verby is.
  • Maak nie saak hoeveel iemand se lewensfilosofie van joune verskil nie, as hulle kinders ouer is as joune, kan jy by hulle leer. Enige iemand wat al ʼn koors-nag met ʼn kind deur gegaan het of ʼn kind deur matriek gehelp het, het onwetend lesse geleer waarna ander smag wanneer hulle vir die eerste keer in daardie situasie kom.
  • Niemand gaan ooit ʼn kind groot maak sonder dat daar groot skrikke kom nie.
  • In baie opsigte is die hoof doel van ons werk as ouers om ons werk as ouers oorbodig te maak en ons baba voëltjies self te laat vlieg. Terselfdertyd bou ons aan ʼn lewenslange band met ons kinders wat, anders as by voëltjies, vir altyd hou.
  • Ek moes ook snap dat my manier van nes bou nie noodwendig geskik is vir die tipe bome in die bos waarin my babavoëltjies eendag gaan moet nes bou nie.
  • Nie alles is so ernstig soos wat ek gedink het nie… en party goed is ernstiger as wat ek gedink het.
  • Wanneer die tantrum stadiums kom (as kleuter of as tieners) is dit nodig om jou koel-komkommer baadjie aan te trek en te onthou wie die volwassene is.
  • “Laastes” word nie met trompetgeskal aangekondig nie. Jy besef dit meestal eers lank na die tyd met ʼn ontnugtering.
  • Of jy ʼn fase van kinders groot maak om wens of nie, dit gaan in elk geval op sy eie tyd verby gaan (en jy gaan dit nooit weer kan terug kry nie).
  • Jy is deur ʼn hoër Hand spesiaal uitgekies as die heel beste Mamma vir jou kind.