Wat sal die mense sê?

1957

Was jy nog altyd begaan oor wat ander van jou dink? Dan het dit tyd geword dat jy ’n slag regtig begin lééf!

Deesdae bondel ons nie meer in troppe saam om te keer dat die leeus ons verslind nie, maar om dit op sosiale gebied te maak. Ons wil graag in wees en daarom sál jy jou lyf in daardie hipster indwing. Selfs al werk die swaartekragwet téén jou.

Waaroor bekommer jy jou die meeste?

Dit is nie die bekommernis oor kapers of ’n motorongeluk wat miljoene mense se optrede elke dag beïnvloed nie. Wat sal “hulle” sê? is ons grootste vrees.

Jy staan dalk voor jou kas en dink: Ek is vandag lus vir daardie rooi nommertjie. Dan trek jy die veilige grys pakkie aan. Dit geld ook vir die beroep wat jy kies, die skool waarheen jy jou kinders stuur, die woonbuurt waarin julle bly.

En as jy nie oppas nie, doen jy ’n onbevredigende werk en het jy ongelukkige kinders. Julle woon dan in ’n huis wat nie na jou smaak is nie om vriende te beïndruk van wie jy nie eers hou nie! Nie almal gaan so ver nie, maar verstaan kry die prentjie.

Dalk is jy enkellopend en het jy jouself tot ’n kluisenaarsbestaan verdoem omdat jy nie alleen wil gaan fliek of uiteet nie. “Want mense sal dink ek het niemand om mee uit te gaan nie… ”

Die goeie nuus is, die meeste van jou vrese is ongegrond. Almal is te besig met hulle eie bekommernisse om werklik op te let of jy alleen by ’n tafel sit.

Ontdek weer die vreugdes van kindwees

Toe jy ’n peuter was, het jy die een ding na die ander baasgeraak. Jy het leer kruip, loop, eet en praat. Elke dag was vol uitdagings, maar jy het nie daarvoor teruggedeins nie.

’n Jong kind verstaan nog nie die konsep van mislukking nie. Alles is moontlik en as jy dit nie vandag regkry nie, probeer jy môre weer. Tog jammer dat soveel van hierdie spontaneïteit in die grootwordproses verlore gaan.

Vra jou af wie die “hulle” is wat jy so graag tevrede wil stel. Is dit jou familie, vriendinne, kollegas of dalk ’n onbekende, gesiglose groep mense?

Besluit op een ding wat jy nie langer gaan doen net omdat ander dit van jou verwag nie. In plaas van om jou tyd en energie te verkwis op iets wat jy haat om te doen, kan jy nou meer aandag aan jou passies gee.

Doen vandag iets net omdat dit vir jou lekker is. Verbeel jou jy is weer vier jaar oud en tree op asof dit onmoontlik is om te misluk.

Vier jouself en word jou eie beste vriendin

Miskien plaas jy te veel klem op wat ander van jou dink omdat jy nog nie geleer het om jou eie beste vriendin te wees nie. As jy nie tevrede is met wie jy is en wat jy jouself kan bied nie, gaan jy heeltyd ander se goedkeuring wil hê.

Skryf ’n brief aan jouself asof aan ’n goeie vriendin. Sê waarom jy haar waardeer en besing haar positiewe eienskappe.

Bederf haar nou met iets waarvan sy regtig hou. As jy al genoeg waagmoed opgebou het, neem haar vir ’n koppie koffie en kuier rustig met jouself.

En terwyl jy en sy mekaar beter leer ken, dink hieraan: Selfs die vrees om dood te gaan is nie so erg as om teen die einde van jou lewe te besef jy het nooit werklik voluit geleef nie.

Leef jouself in dié situasie in: Jy hang aan jou vingerpunte oor ’n afgrond en sien jou lewe voor jou verbyflits. Wat sal jy wou verander as jy nog ’n kans kon kry? Wat wil jy nog bereik? Hieruit kan jy vir jouself ’n visie formuleer – iets wat jy kán en wíl doen.