Wat sê jou verhoudings oor jou geloof?

0
202

Om Sy kind te wees is ’n voorreg, maar ook ’n verantwoordelikheid. As hierdie verhouding reg is, sal dit sigbaar wees in jou optrede teenoor ander.

Mense druk maklik hulle ore toe as hulle die woord “naasteliefde” hoor. Maar ons word almal daardeur gekonfronteer, want ’n Christen se verhouding met mense behoort anders te lyk.

My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie (Jakobus 2:1).

Hier is ’n gemeente wat op grond van twee mense se voorkoms onderskeid tref. Die eerste man se deftige klere dui op sy sukses en welvaart. Daarom word daar ’n ophef van hom gemaak. Hy kry ’n gemaklike sitplek, ’n ereposisie in die byeenkoms.

Op dieselfde oomblik kom ’n ander man ingestap. Hy is brandarm, sy klere hang in vuil toiings. Hy is net goed vir ’n staanplek daar eenkant of ’n sitplek op die grond.

Jou eerste reaksie op hierdie diskriminasie is seker ook: Dit is darem skokkend en dit hoort nie in die kerk nie!

Maar dink mooi – het iets soortgelyks nie al in jou werksplek, vriendekring of gemeente gebeur nie? Dit gaan natuurlik nie net oor ryk en arm nie. Dit gaan ook oor die etikettering van mense as slim of dom, mooi of minder mooi.

Hoe lyk die regte optrede dan? Dit begin by die besef van God se barmhartigheid. Jy is net deur genade gered. As jou verhoudings met ander hierop gebaseer is, dan wil jy graag help en hulle behoeftes eerste stel.

Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is (Jakobus 3:9).

Waarom sê mense so maklik kwetsende dinge op Facebook, maak neerhalende aanmerkings en klim in ander se karakter in? Die rede is eenvoudig: Hierdie vuur wat uit ons monde uitkom, word vanuit die hel aangesteek.

Wat is die dryfkrag agter die tong? Die duiwel maak die tong dodeliker as enige wilde dier, enige gif. Dit veroorsaak ’n teenstrydigheid in ons woorde, sodat ons met dieselfde mond seën sowel as doodmaak.

Dit is die kern van hierdie verse. Jy mag nie God loof en prys, en dan met dieselfde mond jou naaste slegsê wat na Sy gelykenis gemaak is nie. Dit is totaal onaanvaarbaar.

Verander eerder die bron wat in beheer van jou tong is. Keer dat jou woorde opborrel uit ’n hart waar jy self baas is. Die Heilige Gees moet jou hart volmaak sodat liefdevolle woorde by jou mond sal uitkom.

Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer (Jakobus 5:7).

Die regte tipe vertroue is soos ’n boer wat geduldig die tyd afwag om sy oes van die land af te haal. Daardeur erken hy dat die Een wat die beste weet, tyd en gebeure in Sy hande het.

Kyk na die voorbeeld van die profete en Job. Hulle het verdrukking verdra, sonder om opstandig en ongeduldig te raak. Hulle doen eenvoudig die werk wat vir hulle gegee word om te doen en volhard daarmee.

Elkeen het haar eie worsteling met omstandighede en bekommernis oor die toekoms. Ons troos, sekerheid en standvastigheid is nie in hoe die wêreld lyk nie. Ons verwagting en hoop is nie gerig op ’n datum nie maar op ’n Persoon.

Vanuit daardie kosbare vertrouensverhouding met Hom sal jou ander verhoudings ook blom en groei omdat jy die regte ingesteldheid sal hê.