Wat skinder oor jou verklap

0
1296
skinder.jpg

Skinder vertel meer oor die persoon wat jý is, as die een oor wie jy praat. Wat verklap jou woorde oor jou?

Jy bel jou vriendin en julle klets heerlik. Dan praat jy van iemand wat sy nie kan onthou nie. Jy probeer verduidelik: “Ja, man, dis daardie blondekop wat mos die affair gehad het en toe later getroud is, onthou jy?”

Skielik tref dit jou tussen die oë: Jy het nou net geskinder. Maar dis te laat, die saadjie is klaar gesaai. Die verhouding was ses jaar gelede en die vrou het gehoop almal het al daarvan vergeet. Nou jy het dit so pas weer uitgehaal en afgestof en sal jou vriendin haar ook altyd onthou as die een wat die skelm verhouding gehad het.

Skinder is nie altyd so ooglopend nie. Soms lyk dit heel onskuldig. Jy hoor een van jou kollegas het bevordering gekry. Dan sê jy so terloops: “Ek sal nooit my gesin so afskeep nie, maar nou ja, sy het dit reggekry.” ’n Klein stekie na haar kant toe, al het jy dit nie so bedoel nie.

Wat presies is skinder dan? As jy iemand se skandes weer in jou gesprekke ophaal, hou jy die persoon se foute lewendig en dan skinder jy beslis. Jy maak hierdie swak plek deel van iemand se identiteit. “Dis mos die outjie wat laasjaar gedruip het.” Jy kan eerder sê: “Dis die seuntjie wat sulke mooi maniere het.”

Dis nie sommer toevallig dat jy skinder nie. Onthou, dit verklap die volgende oor jou:

Jy dink jy doen alles perfek

As jy die hele tyd die aandag op iemand anders se foute vestig, voel jy eintlik hulle foute is groter as joune. Dis trouens soveel groter dat dit nie vergeet kan word nie. Dis asof jy dink net jou foute is vergewe en die res van die mense moet vir ewig aan hulle s’n herinner word.

Die oorsaak van jou los tong is meestal trots. Jy glo miskien jy móét eenvoudig beter as almal om jou wees. Al sê jy iets onskuldigs soos: “Sy kook nooit eers aandete nie!” wys dit jou hoogmoed. In jou eie oë is jy perfek en kan jy alles reg doen, want jy sorg tog beter vir jou gesin.

Maar dis nie waar nie – jy het weer ander foute. Sonder God kan jy in elk geval niks reg doen nie. Ander mense ook nie. Jy hoef gelukkig nie te probeer om perfek te wees nie. Jou mense hou van jou nes jy is, foute en al!

Jy beklemtoon ander se foute sodat joune kleiner lyk

Jou kollega se voorlegging het ’n klomp foute in gehad. Jy was nog altyd ’n bietjie jaloers op haar, want almal op kantoor dink sy is wonderlik. Skielik kan jy nie wag vir teetyd nie.

Terwyl die ketel kook, sorg jy dat jy die gesprek in haar rigting stuur. “Ja, Charmaine doen goeie werk, maar sy is nou nie juis taalkundig aangelê nie!” Lekker, nou weet almal dat sy nie álles reg kan doen nie!

As jy so agter jou hand oor haar powere spelling fluister, probeer jy haar foute opblaas net sodat jy beter kan voel oor jou eie tekortkominge. Hoe slegter jy háár kan laat lyk, hoe beter sal jý mos lyk!

Jou los tong wys jy glo nie in jouself nie

As jy geneig is om oor ander te praat, wys dit eintlik maar hoe onseker jy oor jouself voel. Deur iemand anders se verkeerde besluite te onthou, voel jy ook beter. Dit wys tog jy is nie al een wat swak keuses maak nie.

Maar weet jy wat? Dit gaan nie oor hoe jy vir ander lyk of wat hulle van jou en jou keuses dink nie. Jou identiteit lê in Christus. God stap met jou ’n heeltemal ander paadjie om by Sy plan uit te kom.

Jy kan daarom maar ontspan en gerus wees dat jou keuses binne Sy wil is, al verskil dit van ander vroue s’n. Anders beteken nie slegter nie.

Van nou af, elke keer wat jy daardie sappige storie wil oorvertel, vra jouself eers: Hoekom wil ek dit doen? Wat verklap dít wat ek nou gaan sê oor wat in my hart omgaan?

Daag jouself uit om daardie vrou se naam te beskerm en vervang eerder jou woorde wat afbreek met woorde wat opbou. Kyk of jy elke keer iets positiefs oor iemand kan sê. As jy jou weer kom kry, is dit ’n gewoonte – en volgende keer doen iemand anders dit weer vir jou!

Vertaal en verwerk uit Ugly Truths Gossip Reveals about Us van Brenda Rodgers.