Wat staan op jou voorkop geskryf?

Ek sit in ‘n lang ry in die bank net na Nuwejaar en verwonder my aan die mense rondom my. Dis vroeg in 2019 en die frustrasie van die mense is tasbaar.

Dit laat dink my aan ‘n bredie wat op ‘n té hoë stelling prut en besig is om heeltemal te vroeg gaar te raak. So elke nou en dan sien ek iemand verloor hul humeur so effens en sê net hard genoeg iets dat dit hoorbaar is, maar meeste hou goed by hul nuwejaarsvoornemens.  Ek maak die beste van die oomblik en gesels met die vrou langs my en sy vertel my van haar lewe en haar verhaal, haar gemors van ‘n egskeiding en die probleme wat dit veroorsaak vir haar, haar familie en veral die kinders. Ek verstom my altyd aan mense se behoefte om hul storie te deel as jy bereid is om te luister, regtig net te luister en elke liewe mens op aarde het ‘n storie om te deel.

Die rye in die bank vorder maar stadig en ek dink by myself dat meeste mense nog met verlof is en dat die personeel wat wel daar is, heel waarskynlik ook vanoggend ook eerder op die strand sou wou lê as om na ons lot se klagtes en bankstate wat ons soek, aftrekorders wat nie af is nie en al die normale dergelike probleme te luister.  Om mense dop te hou is egter vir my geweldig interessant en ek put meer genot daaruit as wat ek skat ek eintlik moet, so die hele situasie van die Bank en die totaal van 2 ure wat ek daar moes spandeer sien ek in ‘n ander lig.  Mense se reaksies, hul emosies of die feit dat hul soms geen emosies openbaar nie, die fassinering met fone en algemene gedrag is ‘n interessante stokperdjie wat ek met graagte beoefen.

Meeste mense is op hul fone besig en maak nie eens veel oogkontak nie (moderne lewe, ek weet).  Terwyl mense kom en gaan en die frustrasie van die rye duidelik word, kom ek agter dat elke mens wat daar instap reeds met ‘n woord op hul voorkop geskryf daar instap. Ek bedoel hier allermins nie hul uiterlike voorkoms nie, ek bedoel daardie innerlike beeld wat hul as geheel uitstraal, want ek glo absoluut dat dit wat in jou hart aangaan op die een of ander manier na vore kom in jou uiterlike. Jy kan hartseer en leed die allermooiste klere en juwele aantrek, dit wys steeds op mense se gesigte. Dieselfde geld vir vrolikheid en vrede, dit word nie verbloem deur verslete klere of ‘n vuil uiterlike nie.

Soos ek daar sit laat dink elke mens wat instap my aan ‘n spesifieke woord en ek sien elkeen met ‘n plakker op die voorkop – dit laat my eintlik glimlag en die pienk plakker op my eie voorkop gee jou ‘n idee van my beeld daardie oggend. Kyk bietjie na Deut. 6:8 insake wat op jou voorkop moet staan. Die een man kom in en ek dink sy woord is ‘nederig’. Sy manier van stap en die hantering van die mense rondom hom is definitief nie een van selfvoldaanheid of disrespek nie, nee dis nederigheid en diensbaarheid.  Die volgende vrou stap in en ek dink so by myself dat ‘terneergedruk’ ‘n goeie woord vir haar is en ek wonder in my stilligheid of dit kinders, finansies, haar man of die gemis aan ‘n geliefde, of selfs die gemis aan liefde in die algemeen is wat so vroeg in die oggend uit haar straal.  ‘n Ander man kom ingestap en ek kan sien dat ‘befoeterd’ nie eers begin om hom te beskryf nie en ek weet dat die lewe hom ontsettend moet druk vanoggend. Wel ek was in my lewe ook al daar waar hy vanoggend is en ek sit by myself en simpatiseer met hom.  Ek ken hierdie spesifieke man redelik goed en nie te lank nie of hy land ook in die ry op die bank en ons gesels oor sy frustrasies en toe ons eers begin, toe borrel hy omtrent oor. Terwyl ek luister verwoord hy dat hy nog dieselfde dag sy emigrasie papiere gaan klaarmaak en dat hy klaar is met hierdie land se frustrasies en onbeholpenheid. Ek glimlag en vra bloot of hy al ooit oorsee was en voor ek dit enigsins kan verduidelik antwoord hy dat hy weet waarheen ek mik.  Ek hoop God roep hom na die nuwe land, want elke plek het sy frustrasies in die lewe en jy sal dit oral vind.

Jy vra jouself seker al af wat die kruks van jou storie is, Len, maar dan stap daar ‘n groot man in en nie net sy statuur is groot nie, maar ook sy hele wese en dit wat hy uitstraal, die glimlag op sy gesig en sy vriendelikheid.  Hy kyk my reguit in die oë en groet vriendelik, met ‘n totale oop gemoed en ek dink by myself dat sy woord ‘tevrede’ moet wees. Ek is eerlik dat ek hom nie onmiddellik herken het nie en net geweet het ek het hierdie gesig al iewers gesien.

Soos dinge soms uitwerk kom sit dieselfde man en sy vrou nie te ver van my af nie (reg, ek was op hierdie stadium vir die tweede keer in dieselfde ry, maar hierdie was ook God se plan). Hy stel homself onmiddellik voor as Tommy Saunders en ons is reeds Facebook vriende so ons gesels lekker. Net voor jy oordeel oor hoekom ek nie onmiddellik hom kon eien nie, met klein Tia van Blerk se verhaal (volgende Blog) het baie mense oor my en Elmanda se pad gekom wat ons nog nooit in persoon ontmoet het nie.

Soos ons gesels sien ek net dat hierdie man absoluut straal van soveel meer as wat die res rondom hom doen en hoewel ek nie my vinger presies daarop kan plaas nie, staan hy net eenvoudig uit. Weereens bedoel ek glad nie in die wêreldse manier van uiterlike oordeel nie, ek bedoel van die innerlike vrede wat niks kan verdoof nie.  Nie te lank nie of ons gesels oor klein Tia se vordering en die wonderwerk wat ons glo deur haar sal plaasvind en daar tref dit my: Ek sien in hom vir Jesus en ek sien die vrede wat alle verstand te bowe gaan, raak. Ek kry eintlik hoendervleis en my volgende Blog skryf homself reg voor my oë soos ons gesels.  Dis ‘n rariteit deesdae om die vrede wat alle verstand te bowe gaan, raak te sien in mense en seker een van die mooiste goed om ooit van iemand te getuig.  Terwyl ek terugstap kantoor toe toets ek myself en wonder wat se plakker is om my eie voorkop geplak?

So my liewe leser, vandag daag ek jou uit om met selfondersoek te bepaal wat se plakker jy dra in die lewe. Ek daag jou uit om eerlik met jouself te wees en om ‘n slag die moeite te doen om jouself deur ander se oë te sien. Sien mense Jesus in jou raak, straal jy iets uit wat ander mense meer wil van weet, weerspieël jou lewe enige tekens dat Jesus in jou woon en werk? Of raak jy weg in die see van die mensdom wat verlore raak in die wêreldse fassinering met aardse goed, met jou eie ek afhanklikheidversteuring en jou verslawing met jouself en jou eie probleme.

As kind van God is hierdie beeld belangriker as wat ons dalk dink en hierdie moet nie ‘n voorgee oefening vir jou wees nie, dit moet die werklikheid van jou lewe wees wat daar geskrywe staan.  Ek dink nadat ek vir Tommy raakgesien het en kon sien hoe hy uitstaan bo ‘n totale see van frustrasie in die bank, ek besef het dat dít is wat ek graag sal wil uitstraal. Nieteenstaande die uitdagings, die probleme, die hartseer, die moeilikheid en die feit dat ons in ‘n gebroke wêreld leef, is dit iets baie mooi om na te streef en werklik uit te leef. God se opdrag aan ons is om uit te gaan en mense vir Hom te werf en ons kan dit net doen as Jesus so duidelik in ons leef dat jy dit uitstraal sodat ander wil weet wat is anders aan jou? Ek daag jou uit om te leef soos ‘n mens wat die vrede wat alle verstand te bowe gaan, elke dag beleef.  Maak dit tasbaar deel van jou lewe, leef dit, geniet die vryheid wat God vir jou bring, aanvaar net Sy hand van leiding en kyk hoe verander die plakker op jou voorkop!

Vorige artikelSewe vaardighede wat kinders moet aanleer om teen boelies op te staan
Volgende artikelDie pad waarop ek is het God vir my gekies
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.