Wat voer jy jou kinders?

0
403

Verskeie bekendes het Maandag eredoktorsgrade aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Onder hulle was mense soos Patrice Motsepe, Max du Preez en Jannie Mouton.

By hierdie geleentheid het Jannie Mouton ook die geleentheid gekry om iets te sê. Hy het toe, volgens Beeld, die volgende gesê: “Staan tyd af en vertel jou kinders in watter pragtige land ons woon. Fokus op die geleenthede. Moenie ‘n deskundige op die gebied van wat fout is probeer word nie.”

Dit is ware woorde. En baie ouers betaal ‘n duur prys vir al die negatiwiteit wat hulle in hul kinders se geheue inprent, wanneer daardie kinders emigreer, en hulle later alleen, sonder kinders en kleinkinders, hul oudag in SA deurbring. Ek sê vir geen oomblik dat alle kinders wat emigreer dit doen omdat hulle negatief beïnvloed is deur hul ouers nie! Ek sê net dat as jy jou kinders gedurig met negatiewe gedagtes voer, moet jy nie verbaas wees as hulle die land verlaat nie. Ek sê ook nie dit is verkeerd om te emigreer nie, maar ek weet ook dat wanneer jy vol negatiewe gedagtes en idees emigreer, daardie negatiwiteit geneig is om saam met jou te emigreer, en dit ook in die ander land voortgesit word. En so bly jy ‘n ongelukkige mens.

Kyk rondom jou, en wees dankbaar vir die geleenthede wat die lewe jou bied, en gryp dit aan!