Wat wil jou man hê?

0
6
wat_soek_jou_man.jpg

Is jou man tevrede of wil hy meer hê?

Die huwelik word soms eerder as ’n strafkamp as ’n plesier uitgebeeld – veral uit ’n man se oogpunt. Dink maar aan televisiekomedies soos Everybody Loves Raymond en Love and Marriage. Die arme man verloor al sy vryheid, word teensinnig betrek by huishoudelike sake en mag net oë vir sy vrou hê. Soms wonder ’n mens waarom ’n man dan hoegenaamd trou …

Ons wou by drie manne weet hoe hulle die getroude lewe ervaar en wat hulle werklik uit die huwelik wil hê. Oor een ding is Jaco (30), Fanie (56) en Johan (36) dit eens: dit is beter om getroud as enkel te wees! Fanie som dit so op: “Jy het iemand ná aan jou om hartsake, bekommernisse, terugslae en blydskap mee te deel.”

Fanie, ’n klassieke sanger van Hermanus wat deesdae die land vol optree, en sy Erina is reeds 36 jaar getroud. Johan, het nege jaar gelede die ring aan sy vrou se vinger gesteek. En dan is daar Jaco wat nou sy tweede huweliksherdenking gevier het.

Dié drie manne is elk in ’n ander fase van hul lewe, maar saam het hulle meer as 47 jaar se ondervinding in getroudwees!

Soek hy ’n … ideale vrou?

Op skool wou Jaco altyd trou sodra hy “wettiglik kon”. “Maar nou is ek bly ek het eers op die rype ouderdom van 28 die knoop deurgehaak,” meen hy.

Hy het ook nie werklik ’n lys van aanloklike eienskappe gehad waaraan sy potensiële maat moes voldoen nie. “Ek het net gesoek vir iemand saam met wie ek myself kon sien oudword.”

Ook Fanie, wat op twintig die knoop deurgehaak het, het nooit vooraf ’n lys van verlangde kwaliteite gehad nie. “Dit was nooit in my gedagtes nie en toe ek Erina ontmoet was dit ook nie meer nodig nie, want sy het al die kwaliteite gehad. Dit het nie baie dinkwerk geneem nie, ek het sommer net geweet.”

Johan het meer doelgerig te werk gegaan omdat die keuse van ’n huweliksmaat vir hom een van die belangrikste besluite is wat ’n mens ooit sal neem. Hy het altyd geweet dat hy graag wil trou, maar die “regte” vrou wou net nie haar opwagting maak nie.

“Dit was eers nadat ek van my vooroordele ontslae geraak het, dat ek al die eienskappe neergeskryf het wat ek graag in my toekomstige vrou wou sien. Ek het dié lysie aan God voorgelê en begin glo.”

HOE VERGELYK ONS?

Sommige mans wag deesdae langer voor hulle trou. In 1960 is die tipiese bruidegom op 23 getroud, terwyl 27 vandag die gemiddelde ouderdom is. Hoewel saamwoon en voorhuwelikse seks ’n rol speel, meen kenners mans is deesdae meer versigtig om ’n maat te kies omdat soveel se ouers geskei is.

[pagebreak]

Soek hy ’n … huishoudster?

“Ons hou albei van netheid en het elkeen sy take om die huishouding so vlot moontlik te laat verloop,” sê Fanie. En Jaco sê: “Ons werk ewe hard weg van die

huis af, dus pas ons dieselfde beginsel by die huis toe.” Hulle gee ook nie om as vroulief meer as hulle verdien nie. “Ons werk met ons geld onder een sambreel, so dit kan net ’n goeie ding wees!” lag Jaco.

Johan erken dat hy vroeër ’n paar vooropgestelde idees gehad het. “Maar pas nadat ons getroud is, het my eerste sakeonderneming gevou en ek was toegegooi onder skuld. My vrou het my nie veroordeel nie, maar ingespring en saam het ons die skuld terugbetaal en aanbeweeg na groter uitdagings.

Vandag is my verwagting van die huwelik ’n verhouding waarin wedersydse respek, vennootskap en gedeelde verantwoordelikheid ’n rol speel.”

HOE VERGELYK ONS?

Toe Amerikaanse mans in ’n 1939-meningspeiling gevra is of hulle wil hê dat hul vrou teen ’n redelike salaris buite die huis werk, het 63% gesê nee. Teen 2002 het 55% mans gesê dit is in orde as ’n vrou werk, selfs al is daar kinders.

Soek hy ’n … bedmaat?

“Seks sal altyd hoog op die agenda wees,” meen Johan. “Dit is hoe God mans gemaak het. Mans het seks nodig om geliefd te voel.”

Ook Jaco en Fanie meen die seksuele is baie belangrik. “Dis die intiemste kommunikasie tussen twee mense.

Getrouheid binne die huwelik is ook nie net vir vroue belangrik nie. “Dit is die hoeksteen van alles wat jy doen,” meen Johan. “As die vertroue in die verhouding weens ontrouheid verbreek is, is die kans skraal dat dit ooit weer ten volle sal herstel.”

HOE VERGELYK ONS?

Volgens ’n studie in 2000 wat onder studente gedoen is, het die Journal of Psychology and Human Sexuality gevind 80 persent jong mans soek ’n lewensmaat met ’n hoë vlak van seksuele passie. Maar ’n ander studie het gevind dat mans skrikkerig is vir vroue wat te seksueel aktief was, omdat hulle vrees dat hulle ontrou sal wees. Jy maak dalk die fout om jou man te probeer boelie om te gesels wanneer en waaroor jy wil gesels. ’n Intieme gesprek oor sy behoeftes voor julle gaan slaap gaan waarskynlik nie werk nie. Begin om meer goed saam met hom te doen wat hy geniet. Wanneer hy op sy gemak is, sal hy makliker begin gesels.