Watter storie vertel jou lewe

So drie weke terug het ek die groot hartseer en voorreg om ‘n gedenkdiens te lei.

Iemand wat ek coach by ‘n maatskappy is oorlede in ‘n motorongeluk. Wat op dees aarde sê mens by so geleentheid?

Ek dink terug aan haar lewe en die paar maande wat ek haar geken het. Jane het voluit geleef. Sy was dankbaar vir alles. As sy bly was het sy gesing, as sy hartseer was het sy gesing. Sy het die besonderse kuns geken om tevrede te wees. Mens sien dit min. Kollegas gesels diep uit hul hart van watter waarde sy tot die span toegevoeg het. Sy het familie gemaak so ver as wat sy gegaan het. Almal was welkom in haar teenwoordigheid, niemand was uitgesluit. Sy was orals betrokke in haar gemeenskap. Hierdie wêreld was ‘n beter plek omdat sy in hom geleef het. Dis swaar vir haar familie. Die trane loop en ons almal sluk swaar aan die emosies.

Maar ek is nie net hartseer vir Jane nie. Ek word gekonfronteer met my eie lewe. Wat gaan mense oor my lewe vertel as ek nie meer hier is nie? Wie se lewens het ek aangeraak? Waar het ek van myself gegee? Was dit genoeg? Is hierdie wêreld ‘n beter plek omdat ek in hom was?

Hierdie vrae maal in my kop en gee my nie rus nie. Ek word herinner aan ‘n gedeelte in Efesiërs 5:15-17 in die Message: ‘Look carefully then how you walk! Live purposefully and worthily and accurately, not as the unwise and witless, but as wise, sensible, intelligent people, making the most of every opportunity. Don’t be vague and thoughtless and foolish, but understanding and firmly grasping what the will of the Lord is.’

Hierdie vrae is nie maklik om te antwoord nie.

Ek kyk na die spul mense om my tafel. Hierdie is die mense wat nou in my leefruimte is.

Hoe kan ek hul in hierdie oomblik raak leef? Wat sal dit van my lewensstorie verklap? Hoe anders sal hul God raaksien?