Watter tipe ouer is jy?

0
158
bedorwe_brokkie.jpg

Daar is nie iets soos ’n perfekte ouer nie. Jy kan bloot vir wysheid vra en jou beste probeer. Maar dis goed om te weet waar jou swakhede as ma lê. Wat is jou ouerskapstyl?

Ons is almal mense. Nie een van ons is volmaak nie. Gelukkig hoef ook nie in sak en as te gaan sit omdat ons vol gebreke is nie. Wat saak maak, is dat ons realisties (en met meer as ’n tikkie humor) na ons tekortkominge kyk, en met die hulp van ons Skepper probeer verhoed dat dit ons kinders skade aandoen. Kyk gerus na die kategorieë hieronder waar jy inpas – en hoor dan of jou kinders saamstem. Hou ingedagte dat dit ’n baie reguit tipering is, maar die doel is om jouself en jou kind beter te verstaan, al voel jy jy is nie die ultimate brat-kweker nie. Kyk uit vir hierdie moontlike slaggate.

Die perfekte mamma

Onbereikbare standaarde van perfeksie word gewoonlik deur hierdie ouer vir haarself en haar kinders gestel. Die beeld van volmaaktheid wat hulle voorhou, kraak nooit. Die “perfekte mamma” se kinders voel moedeloos, nikswerd, depressief en ervaar dikwels selfhaat. So ’n tiener het geleer om dieselfde tipe standaarde vir haarself te stel as haar ouers en voel dat sy nooit daardie standaarde sal kan bereik nie.
Dit kos baie aanmoediging, innerlike motivering en ondersteuning om uiteindelik hierdie kinders se eiewaarde te herstel.

Die kritiese mamma

Haar kind kan niks reg doen nie, en sy is oormatig krities. Sy vergelyk haar kind ook gedurig met ander kinders. Dis die tipe ouer waarteen Efesiërs 6 ons waarsku, ouers wat hulle kinders so behandel “dat hulle opstandig word”.
Hierdie tiener dra ’n masker en wys glad nie haar ware emosies nie. Sy laat nie mense toe om te na aan haar te kom nie en is agterdogtig teenoor almal. Sy voel moedeloos en nikswerd, raak rebels en beskou almal wat hulleself aan reëls onderwerp as sissies. En natuurlik skuil sy agter haar image om haar pyn en gevoel van verwerping te verberg.

Die verwerpende mamma

Die skadelike effek wat verwerpende ouers op ’n tiener het, kan moeilik oorskat word. Hulle is gedurig afbrekend met uitdrukkings soos: “Jy is goed vir niks nie”, “Jy sal nooit iets in die lewe bereik nie”. Die gevoel van verwerping wat so ’n kind ervaar, laat haar aanneem dat haar ouers en vriende haar nie liefhet nie.
Sy sal enigiets doen om aandag by volwassenes en vriende te trek, selfs betrokke raak by die okkulte, dwelms gebruik of wegloop. Sy beskou dit as ’n manier om aanvaarding te kweek. Dit is hierdie kinders wat as tieners dikwels vasgevang raak in dieetsiektes soos bulimie en anoreksie.

[pagebreak]

Die oorbeskermende mamma

’n Oorbeskermende ouer kan baie liefdevol wees, met goeie bedoelings, maar kan net nie haar 25-jarige seun laat gaan nie. Niemand is goed genoeg vir hom nie. Sy sal ook gedurig skuldgevoelens op hom plaas. As die kind uitgaan, sal sy byvoorbeeld sê: “Gaan maar, geniet dit, Ma sal maar alleen by die huis bly.”
Kinders van oorbeskermende ouers gee baie maklik toe aan groepsdruk en gooi sommer tou op as hulle met ’n moeilik situasie gekonfronteer word. Hulle voel nikswerd en hopeloos en het dikwels ’n swak selfbeeld. Hierdie emosies, lei dan tot ’n veeleisende houding. Hulle raak gou aggressief as dinge nie verloop soos hulle dit wil hê nie en hulle ervaar ook kwaai skuldgevoelens.

Die dominerende mamma

Hierdie kind het nie die vryheid om ’n mening te hê wat strydig is met haar ouers se denkwyse nie. Sy moet byvoorbeeld wiskunde neem, of sy nou ’n aanleg daarvoor het of nie. Selfs uit die graf uit beheer hierdie ouers steeds hulle kinders met, byvoorbeeld, stremmende bepalings in hulle testamente.
Die kind van ’n dominerende ma is baie selfsugtig en veeleisend. Sy verwag gedurig dat ander vir haar besluite moet neem. Hulle is dikwels nie in staat om selfs geringe daaglikse frustrasies te hanteer nie en gee baie gou moed op. Die aandag moet gedurig op haar gefokus wees en sy voel minderwaardig wanneer sy nie daarin slaag nie. Hierdie kind ervaar dikwels kwaai woedebuie en raak erg rebels.

Die aggressiewe mamma

In plaas daarvan dat die kind net ’n gewone pak kry, sal hierdie ouer vir haar sê: “Gaan sny solank vir my ’n stuk van die tuinslang af,” en dan word die kind pimpel en pers geslaan. Die aggressiewe ouer is nie in beheer van haarself nie. Enige werk, wat dit ook al mag wees, wat die tiener nie stiptelik na haar sin uitvoer nie, sal met aggressie hanteer word. Kinders in so ’n huis lewe in vrees.
Die voorbeeld wat hulle by hulle ouers kry, maak dat hierdie kinders ook aggressie toon in hulle daaglikse omgang. As alles nie volgens haar planne verloop nie, of dit nou met vriende, diere of haar ouers is, sal die persone wat die naaste aan haar is, haar aggressie moet verduur. Sy vertel ook dikwels leuens en ervaar intense skuldgevoelens na so ’n uitbarsting. Hierdie kinders raak gereeld as volwassenes betrokke by aanranding en geweld. Hulle moet hulp van buite hulle huisgesin ontvang.

Die permissiewe mamma

So ’n ouer het geen morele waardes nie en dit word natuurlik ook nie aan haar kinders geleer nie. Hulle sal hulle tieners van drank voorsien, hulle toelaat om na pornografie te kyk en niks fout daarmee vind as die kinders rook nie. Hulle verskaf selfs voorbehoedmiddels aan hulle kinders met die aanmoediging om hulle eie menings te vorm ten opsigte van godsdiens en ander morele standaarde.
Die permissiewe houding van sulke ouers slaan deur in die lewenshouding van die kind. As tiener raak sy maklik betrokke by dinge soos voorhuwelikse seksuele verhoudings, pornografie, dwelms en drankmisbruik. Sy is ook ’n onbetroubare vriendin en ervaar dikwels selfhaat en skuldgevoelens. As gevolg van die lewenstyl wat hulle handhaaf, voel hulle gewoonlik misbruik en dat niemand regtig vir hulle omgee nie.

[pagebreak]

Die Brat-kwekers

Waar word bedorwe brokkies gekweek? Hierdie ouers het baie goeie bedoelings en wil hulle kinders alles gee wat hulle self nooit as kind gehad het nie. ’n Kleuter wat alles kry wat sy oë sien, word eendag ’n tiener wat niks waardeer nie en net wil hê, hê, hê! Hierdie ma sal nooit haar kinders frustreer en verontrief met te veel reëls nie. In so ’n huis is daar geen standaard vir reg of verkeerd nie.
Hierdie kinders kan glad nie in hulle omgewing inpas nie, want hulle is nooit geleer om ander mense in ag te neem nie. As laerskoolkinders ervaar hulle vroeg reeds ’n identiteitskrisis. So ’n kind gee gou moed op as sy iets nie self kan regkry nie en gee altyd ander mense die skuld vir haar eie onvermoë. Sy is sosiaal onaanvaarbaar en maak baie moeilik vriende. Sy is uiters selfsugtig en selfgesentreerd.

Die inkonsekwente mamma

Wat vandag in is, is môre uit. Hierdie ma sal nou reëls neerlê wat môre net eenvoudig nie meer geld nie. Die gevolg is natuurlik totale verwarring by haar kinders.
Hierdie tieners weet nie wat werklik van hulle verwag word nie en hulle word meesterlike manipuleerders. Omdat sy geen absolute waardes van reg of verkeerd aangeleer het nie, sal die kind van ’n inkonsekwente mamma altyd ’n situasie verander tot haar eie voordeel. Sy maak en behou moeilik vriende en pas ook nie maklik sosiaal aan nie.

Die foutvinderige mamma

Hierdie ouer móét net iets verkeerd vind met haar tiener of ander kinders. Sy laat haar kinders gedurig oorbodig en onaanvaarbaar voel. Hierdie kinders sal dieselfde tipe vriende kies as hulleself. Hulle skinder ook graag en probeer gedurig om ander af te kraak en te verkleineer. Sy voel sleg oor haarself en trek gereeld vergelykings met ander. Die foutvinderige ouer se kind is onvergenoegd met die lewe en gewoonlik uiters ongelukkig met haarself, haar vriende en haar omstandighede.

Die besluitlose mamma

Hierdie ouer kan nie vaste besluite neem nie. As haar kind vra of sy kan gaan fliek, sal sy ja sê en ’n paar minute later weer van plan verander. Sy kan nooit ’n konstruktiewe besluit neem en daarby hou nie.
Omdat hierdie tieners noodwendig hulle ma se besluitloosheid aanleer, is hulle nie in staat om besluite te neem nie. Hulle ervaar geweldige frustrasie en stel altyd alles uit. Take word met moeite voltooi en alles is net só swaar. So ’n kind glo nie dat sy werklik iets kan doen nie, en voel hopeloos, waardeloos en dikwels erg depressief.

Die negentienhonderd mamma

“Toe ons op skool was, het ons nie sulke dinge gedoen nie.” Hierdie manier van praat tipeer ’n mamma wie se denkraamwerk ook niks verander het sedert die tyd waarin sy grootgeword het nie. ’n Vernuwende uitkyk is net nie deel van haar denkwyse nie.
Vir die negentienhonderd mamma se tiener is dit frustrerend om altyd in die verlede te moet lewe. Sy raak dikwels rebels en doen dan dinge net om haar ouers te skok. Sy beskou haar ouers as outyds en ontwikkel dikwels ’n meerderwaardige houding teenoor hulle en spot met hulle waardes.

Andre Dawson het gesê: “Don’t be afraid of shortcomings, because they are what will make you better. Stay on the right track, continue to pray and things will work out for you.” Mammas, julle moet een ding onthou: Daar is geen universiteit of kollege waar jy ’n graad kan kry in hoe om ’n suksesvolle ouer te wees nie. Ons word almal by die diep kan ingegooi.