Watter woordsoort is jy?

Terwyl ek my studente van woordsoorte leer, tref dit my: mense is eintlik ook maar soos woordsoorte – parts of species is baie naby aan parts of speech

Selfstandige werkwoorde – o ja, hulle is baie! Daardie mense wat altyd besig is – bondels aksie, en niks kan hulle stuit nie. Hulle het ook geen hulp nodig nie, dankie! Sal self regkom! Hulle kan beplan, bestuur, uitvoer … en dan is daar ook die wat opmors, ontstel, bederf. Bou, breek, raas, soen, druk, skop, liefhê …

Die hulpwerkwoorde moet daar ook wees, en sonder die koppelwerkwoorde kan ons ook nie regkom nie. Ek kan aan ‘n paar baasspelerige moet-mense dink, aan ‘n paar sal mense wat graag uitstel, en natuurlik die was en het geeste wat die verlede verkies bo die hede en die toekoms.

Voornaamwoorde – daardie gesigloses wat instaan vir ander. Ek het hulle so nodig in my lewe, en ek hoop regtig ek kan partykeer namens ‘n ander persoon optree – raas kry, swaarkry, die ys breek, wat ookal. En dis mos altyd gerieflik om vir julle die skuld te gee of te herhaal wat hulle sê … ek wil nog daardie hulle ontmoet!

Onthou die voegwoorde. Hulle hou alles aanmekaar – of nie? Ek ken ‘n paar en-mense, ja – hulle kan eenheid bring. Ek ken ook die maar-ouens wat dit nogal moeilik kan maak, maar in party situasies tog die nodige perspektief bring. En dankie tog vir die omdat mense wat altyd ‘n antwoord het op my vrae!

Natuurlik is daar die uitroepe – ons almal is soms uitroepe of tussenwerpsels, of (ahem!) ontladingswoorde of interjeksies. Partykeer sommer met ‘n rits uitroeptekens agterna. Die hoofdoel van hierdie lekker woorde is om emosie oor te dra. Sonder om “donker Afrikaans” te gebruik – ek is baie dae dêmmit en vervlaks. Soms is ek net sjoe! en eina! Ek kry gereeld aikôna oomblikke, maar darem ook aitsa-dae. Party mense verpersoonlik sjuut en dikwels staan foeitog en sies langs mekaar…

So kan ek seker vir ‘n hele rukkie aangaan. Maar die eintlike woordsoort wat my aan die dink gesit het, is die voorsetsel. Voorsetsels is eintlik soos mense. So alleen, op hulle eie, het hulle geen betekenis nie. Dit is eers as hulle saam met ander woorde begin werk, dat hulle iets begin beteken. En dit is eers as ons hulle in verhoudings met ander sien, dat ons kan verstaan wat hulle beteken.

Né?