Weerklink jou voetstappe?

Daar is min vroue wat nie van ‘n lekker pedicure hou nie, dit is ‘n groot bederf. Ek was onlangs so lekker bederf toe ek ‘n geskenkbewys vir ‘n pedicure vir my verjaarsdag gekry het.

Soos wat ek daar sit en elke oomblik geniet, laat dit my aan die gedeelte in Jesaja 52:7 en ook in Romeine 10 dink:

Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

Hoe klink my voetstappe? Ek hoop dit klink wonderlik. Ek hoop my voetstappe bring die goeie boodskap.

Stadig maar seker is God besig om vir my ‘’n pedicure te gee’. Soos wat ek myself in Jesus vind, en hoe meer ek leer van wat Sy wil in my lewe is, hoe meer weerklink my voetstappe en loop ek die pad na die ewige lewe.

Die Here is ons rots, Hy lei ons na geleenthede waar ons die Goeie Boodskap kan deel, maar dit is ons verantwoordelikheid om die geleentheid met albei hande (of voete) aan te gryp.

Mag jy jou voete in Christus vind, en mag jou voetstappe wondelike melodieë weerklink!

Seënwense,

Stephanie