Wees altyd net jouself

1801

Hoe getrouer jy aan jouself leef, hoe gelukkiger sal jy wees. Dit beteken om eerlik te wees oor jou sterk en swak punte.

Jou ware self is wie jy is as jy alleen is. Dit is alles wat jou uniek maak met spesiale vaardighede, talente, persoonlikheidseienskappe, gedagtes en gevoelens. Dis wie jy regtig is, nie die persoon wat jy dink jy veronderstel is om te wees nie.

Om jouself te wees is nie altyd gewild nie

Ongelukkig leef ons in ’n wêreld waar om eg te wees nie beloon of bewonder word nie. Ons streef mos almal daarna om jonk te bly, sekere handelsmerke te dra, op die regte plek te bly en met die regte kar te ry en die regte mense te ken. Die wêreld bewonder jou as jy suksesvol is in hierdie dinge. Tog is dit die oorsaak van baie hartseer en verdriet.

Om net jouself te wees beteken jy ken en verstaan jou swak punte. Die bekende TVsielkundige dr. Phil sê dat diegene wat nie hulle ware talente en gawes gebruik nie, en vals rolle uitleef, verander in wie ander wil hê hulle moet wees. Dit maak ’n mens onseker van jouself.

Uiteindelik is ’n groot hoop passie by die deur uit. Sulke mense leef nie meer nie, hulle bestaan net. Ongelukkig is dit vandag ’n realiteit – baie mense gee voor om iemand te wees wat hulle nie werklik is nie en wonder deurentyd of hulle werklik ander flous.

Wees trots op wie jy is, want jy is oukei

Ek vra eenkeer by ’n skool waar ek gepraat het vir die propvol saal om my ’n vraag te vra. Enige vraag. Skielik kon jy ’n speld hoor val. Uiteindelik steek ’n meisie in die voorste ry haar hand op en vra: “Oom, hoe oud is Oom?” Dit was ’n doodnormale vraag, maar die hele saal vol kinders bars uit van die lag. Ek vra toe: “Ekskuus tog, wat is die grap? Hierdie meisie is die enigste een wat die guts gehad het om ’n vraag te vra, en nou lag julle almal vir haar.” Is dit nie hartseer dat ons mekaar so kan beroof van waagmoed nie?

So dikwels wanneer kinders net hulleself is, dryf ander die spot met hulle. So word ons gekondisioneer om liewers niks te wees nie, want dan is ons veilig.

Daar is ’n gesegde wat sê: Die enigste manier hoe jy almal tevrede kan stel, is deur niks te doen, niks te sê en niks te wees nie. Die waarheid is dat mense jou selfs dan ook gaan kritiseer.

Jou doel op aarde is nie om mense tevrede te stel nie! Jy is hier sodat God kan trots wees op jou! Hy moet opgewonde wees oor jou!

Leer om positief oor jouself te dink

Elkeen van ons is deel van ’n Meesterplan op aarde. En dis vir seker nie om ander mense heeltyd te probeer tevrede stel nie.

Dis eerder om mekaar te beïnvloed en te ondersteun om te groei en beter te word. Die wêreld wil graag hierdie doel by mense steel. Daarom voel so baie mense bang en onseker in die lewe. Ek en my gesin het besluit om ’n stokkie hiervoor te steek. Wat my gesin doen, is om ons gedagtes met positiwiteit, krag, liefde en vertroue vol te maak.

Ons noem dit ons mindset-tyd van die dag. Vroeg elke oggend vir so 15 minute, vra ons vir mekaar vrae oor gister en bid dan saam. Daarna moet ons vir mekaar sê: “Wie is jy?” Elkeen spreek sy persoonlike confession uit waarin daar kragtige dinge bely word oor elkeen in die gesin se identiteit en waarde.

Elke keer as iemand klaar gepraat het, sal die ander sê: “Jinne, Pa, ons like Pa!” Stel jou voor wat die krag van so ’n oomblik is. Vrees en twyfel word by die agterdeur uitgedryf. Dis die teenoorgestelde van wat die wêreld met mense doen. Die wêreld verkondig net vrees en kommer en beroof mense van dit waarin hulle glo.

Om real te wees beteken om beheer te neem en positief te dink en te voel oor jouself. Gee jouself ’n kans – wees getrou aan wie jy is, en vier die unieke JY.

Jannie Putter, mentor en motiveringspreker

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie Putter.