Wees die beste ma vir jou kind

0
583
beste_ma.jpg

Kinders grootmaak is soos om ’n nuwe resep uit te toets: Jy weet nie hoe dit gaan smaak nie; jy kan net die regte bestanddele bymekaar probeer voeg.

Wat is die één geheime bestanddeel wat jou ’n suksesvolle ma maak? Die meeste mense glo dis ouers se werk om seker te maak hulle kinders word “goeie” mense. Maar as dit deel was van ouers se werk, sou dit beteken dat God drooggemaak het.

Die Tuin van Eden was die perfekte “huis”. In hierdie perfekte huis was daar twee perfekte mense, Adam en Eva. Hulle was God ‒ die perfekte ouer ‒ se kinders. Die reël in daardie huis was dat hulle nie van ’n sekere boom se vrugte mag eet nie, anders sou hulle sterf.

Jy ken die res van die storie: Adam en Eva het ’n dom besluit geneem en nie na God geluister nie. Ons sondige menslike natuur herinner ons aan daardie verkeerde keuse ‒ gemaak deur perfekte mense in ’n perfekte omgewing met ’n perfekte ouer.

Wat het God dan verkeerd gedoen? Hy het tog vir hulle leiding gegee oor hoe hulle moet lewe? Hoekom het Adam en Eva dan verkeerd gekies? Die antwoord lê in die woordjie “kies”. God het alles in Sy vermoë gedoen om hulle die regte pad te wys, maar hulle Godgegewe vryheid om te kies, het Adam en Eva laat sondig. En dieselfde geld vir ons kinders.

Jy wil dalk hê jou kind moet “goed uitdraai”. Jy wil die beste vir hom hê, om sý onthalwe. Maar dis nie jou werk nie. Ons moet seker maak ons verstaan wat ons moet doen. En ons moet seker maak ons doen dit goed!

Lees meer: Het jy ’n dankbare of gulsige kind?

Wat is ’n ma se werk dan?

’n Ma se belangrikste opdrag is om haar kinders te versorg. En dit beteken beslis nie net om kos te maak, doeke om te ruil of jou kind met sy skoolwerk te help nie.

Mari vertel hoe sy as nuwe ma gedink het dis haar werk om haar kinders te beskerm. Sy het egter deurmekaar geraak met wat versorging en beheer werklik beteken. Toe sy die eerste keer met haar baba gaan stap het, was daar skielik ’n losloperhond voor hulle in die pad. Sy het dadelik planne begin beraam om haar kind se lewe te beskerm: Sy het haar voorgestel hoe sy haarself oor die stootwaentjie sal gooi in ’n poging om sy lyfie teen die hond se skerp tande te beskerm. Maar toe hulle naderkom, het die hond sy stert begin swaai en ewe vriendelik weggedraf. Sy het gelag vir haar moederinstink.

Vandag besef sy dat balans beteken om deurgaans bewus te wees van die gesonde begeerte om haar kind vryheid te gun en haar Godgegewe behoefte om hom veilig te hou.

[pagebreak] ’n Ma wat werklik versorg, is meer as die “instandhoudingspersoon”. Sy hou nie net haar kind se magie vol en sy lyf skoon en droog en warm nie. Sy help haar kind om ten volle te ontwikkel deur ’n voorbeeld van vreugde en passie te wees. Om ’n kind te versorg beteken om lewe in hom te blaas, om hom emosioneel en geestelik te laat groei.

Om jou kind te versorg beteken nie om “alles” te doen nie. Dit beteken om die beste te doen wat jy kan, sonder om jouself in die proses te verloor. Jy moet ook tyd maak om na jouself om te sien. Jy sal nie jou kinders kan versorg as jy uitgebrand is nie!

Leer ken jou kinders as individue en bring die beste in elkeen na vore. Wees ’n voorbeeld van hoe om die unieke gawes wat God vir elkeen van ons gegee het, te gebruik.

Hoeveel versorging is nodig?

’n Ma se primêre werk is om haar kinders te versorg; ’n pa s’n om is erkenning aan hulle te gee. Kinders het versorging én erkenning nodig om in ’n gesonde volwassene te ontwikkel.

Wanneer ’n kind nie genoeg versorging kry nie, kan dit net so afbrekend wees soos mishandeling. Hoeveel is dan “genoeg”? Moet jy die perfekte ouer wees wat versorging van wêreldklasgehalte lewer? Nee! “Genoeg” hang af van kind tot kind, van persoonlikheid tot persoonlikheid.

Party volwassenes sê: “Ek weet my ouers het my liefgehad. Hulle het vir my die versorging gegee wat hulle op daardie stadium kon gee. Ek het meer daarvan gekry as baie ander mense.” ’n Bietjie is egter nie genoeg nie. Te min versorging laat ’n kind dalk nie fisies doodgaan nie, maar hy sal beslis emosioneel skade ly.

Al word ’n kind in ’n “Christelike huis” groot, maar Pa werk altyd, selfs al is hy by die huis, en Ma is depressief, kan daardie kind nie floreer sonder die nodige erkenning en versorging nie. Die kind is op haarself aangewys, want nie Pa of Ma het tyd vir haar nie. Sy maak dalk vir haarself kos, maak self seker haar huiswerk is gedoen, antwoord self haar vrae oor die lewe. Daar is niemand anders wat dit kan doen nie. En die kans is goed dat sy ook depressief sal raak. Om nie genoeg versorging te gee nie is soos om ’n plant sonder water te los.

Suksesvolle ouerskap gaan oor “genoeg”: genoeg liefde en versorging na gelang van die behoeftes van jou kind. Die eindresultaat is nie in jou hande nie. Maar maak seker jy gee vir jou kind die nodige toerusting deur haar emosioneel te versorg. Dít sal jou ’n suksesvolle ma maak.

Artikel vertaal en verwerk uit Losing Control & Liking It deur Tim Sanford.