Wees die verandering – Jesus die hoop in jou!

Ons is soveel maal geneig om te wag vir omstandighede om ons om te verander, maar die waarheid is dat verandering begin in jou.

Jy moet die verandering wees wat jy begeer en dan die oomblik wat jy verander, verander alles rondom jou outomaties!

Ons maak dikwels die fout om te dink dat guns en die seën van die Here op ‘n plek is, terwyl dit eerder in jou is. Die guns van die Here is nie op ‘n plek nie, maar jy dra dit elke dag in jou, waar ook al jy gaan. By die huis, in die werksplek, ongeag waar jy jou voet neersit, daar is Sy seëning, Sy goedheid en Sy guns in jou, want groter is dié Een in jou, as hy wat in die wêreld is.

Verandering is moontlik vir jou, ongeag waar jy jouself tans bevind. Begin met hierdie 4 basiese veranderinge om jou op die pad na ‘n nuwe begin te kry:

1. Neem Jesus as Here en Verlosser aan

Romeine 10:9-10: Glo in jou hart en bely met jou mond dat God Jesus uit die dood opgewek het en leef in Sy vryheid, gered en vrygespreek!

2. Die oue is verby, die nuwe het gekom

2 Korintiërs 5:15-17: Nou dat jy Jesus as jou Verlosser en Heer aangeneem het is die nie meer langer jy wat leef nie, maar Jesus Christus in jou. Hy het jou sonde op Hom geneem, sodat jy vry kan wees, maar die vryheid kom met verantwoordelikheid en aanspreeklikheid. Dus kan jy nie meer langer jouself meet volgens die wêreld se maatstaf, standaard en waardesisteem nie, maar moet jy jouself meet aan die Woord en die beginsels opgevat daarin.

3. Jesus in jou is die verandering

Deuteronomium 28:2-12: As jy volgens Sy voorskrifte leef, gaan Sy seën saam met jou waar ook al jy gaan, die Here self beveel Sy seën om oor jou te kom. Hy oorlaai jou met Sy goedheid. Hy beskerm jou teen die aanvalle van die vyand en maak daardie berge voor jou, groot paaie!

4. Wees sterk en vasberade

Josua 1:5-10:  Die Here het ons nie ‘n gees van vrees of angstigheid gegee nie. Moenie bang wees nie, Jesus Christus is in jou, by jou, vir jou en oor jou.. Daarom wees sterk en vasberade met die uitvoering van Sy Woord. Stap in die oorwinning van Jesus Christus. Stap in Sy bepalings en moenie daarby afwyk nie. Jesus sal jou nooit in die steek laat nie!

Maak dié begisels jou eie en sien hoe jy van krag tot krag groei in jou geloof!