Wees eerlik – eet jy régtig min?

0
14
kos.jpg

As jy by jou gunsteling restaurant geleer het van porsiegroottes, eet jy dalk heeltemal te veel …

Genoeg voel selde soos genoeg, of hoe? Jy kan nie genoeg kry as dit by kos kom nie. Met restaurantporsies wat tot super-grootte groei, lig jou wenkbroue as iemand ’n klein maaltyd voor jou neersit. By die huis kla jou man weer oor sy klein stukkie vleis en as jy nie jou poedingbak propvol skep nie, gee dit jou rede vir nog ’n bak.

Die hoeveelheid oorgewig mense in Suid-Afrika wys dat ons hopeloos te veel eet. Die regte grootte porsies sal beslis ’n verskil aan jou gesondheid en gewig maak. Dit is wat Izette Faul, dieetkundige van LaFerm oor hierdie gesondheidskwessie sê.

Kry jou eie La Ferm oefen-DVD’s.

Bepaal jou porsie-groottes sonder ’n skaal

Deur net ’n paar riglyne te volg, sal jy weet of die tafel onder jou bord se gewig gaan kreun.

Bordmodel Deel jou bord op in halwes en kwarte. Gebruik een kwart vir stysel, die ander kwart vir proteïene en vul die helfte van jou bord met groente en slaai.

Gebruik jou hand as riglyn vir porsies

Proteïene: Eet ’n porsie so groot soos die palm van jou hand, indien jy rooivleis, soos fillet of kruisskyf eet. Van hoender en vis kan jy ’n bietjie groter porsies eet. Meet hoender en vis se grootte as driekwart van jou hele hand. Gebruik jou pinkie as aanduiding van die dikte van die snit vleis. Onthou, gaarmaakmetodes is belangrik. Vermy vet, en ook braaimetodes wat kanker tot gevolg kan hê.

Stysel: Een porsie stysel is gelyk aan die hoeveelheid rys, baba aartappeltjies, koring en patat wat jy in jou bakhand kan hou sonder dat iets uitval. Gebruik jou oop plat hand as aanduiding van die hoeveelheid pasta wat jy mag eet. Pasop vir die versteekte kilojoules in kos. Lees die etiket.

Alkohol: Moenie te veel drink nie. Alkohol is vol kilojoules en dra by tot jou kilojoule inname. Een tot twee standaard drankies is voldoende. Verdun jou wyn met soda of ys en meng drankies met suikervrye koeldranke.

Eet soveel as wat jy wil

Eet onbeperkte hoeveelhede groente soos blaarslaai, komkommer, tamaties, uie, agurkies, soetrissie, sampioene, murgpampoentjies en spinasie. Doop rou groente in gewone jogurt of maaskaas, dit sal jou meer versadig laat voel. Jy kan meer kosse soos laevet kitssoppe of tuisgemaakte groentesop eet. Eet suikervrye jellie, en maak yslollies van suikervrye aanmaakkoeldrank.

Geniet laevet roomys of vries laevet jogurt as ’n verfrissende versnappering vir die somer. Maar eet net een bakkie daarvan.

Nog gesonde happies is twee tot drie vrugte per dag. Een daarvan kan ’n appel wees, neute en saad mengsels, lae GI-beskuitjies en laevet springmielies. Kies jou produkte eers na jy voedseletikette gelees het. Die totale vet moet minder as 3 tot 5 g per 100 g wees.

Moet nooit te veel hiervan eet nie

Voedsel wat hoog is in vet en/of suiker se energiewaarde (kilojoules) is hoër en dra meer by tot jou energie-inname. Jy moet jou porsiegroottes in ag neem indien jy daardie spesiale bederfie soos koekies, beskuit, enige gebak, sjokolade, nagereg, sout beskuitjie en pasteie geniet.

Die meeste nageregte bevat baie suiker en vet. As jy uiteet, vra vir ’n halwe porsie of deel met jou vriendin. Bederf jouself ook net een keer ’n week met poeding.

Het jy geweet?

Die tipiese restaurantmaaltyd bevat 60% meer kilojoules as ’n maaltyd wat jyself gekook het. Selfs al eet jy nie jou bord leeg in ’n restaurant nie, is die kanse goed dat jy steeds meer eet as wat jy moet. ’n Biefstuk wat in restaurante opgedien word is tot vier keer groter as wat aanbeveel word, en al eet jy net die helfte daarvan is dit steeds te veel. Die meeste restaurante bedien ook tot twee koppies pasta, terwyl ’n porsie eintlik ’n halwe koppie is. Moenie die porsiegroottes as korrek aanvaar nie.

Om minder te eet is beter vir jou gesondheid, en met kleiner porsies hoef jy ook nie jouself te ontneem van jou gunsteling lekkernye nie. Soos jou ouma gesê het: “Matigheid voor oë!”

Beteken dit jy mag nooit weer uiteet nie? Beslis nie! Só kies jy die beter ete by jou gunsteling restaurant.