Wees jou ware self

1993
jou ware self

Jy beny vroue wat presies weet wat hulle uit die lewe wil hê. Begin vandag met jou innerlike voorjaarskoonmaak en ’n fantastiese lewe kan die gevolg wees.

Jy beny vroue wat presies weet wat hulle uit die lewe wil hê. Begin vandag met jou innerlike voorjaarskoonmaak en ’n fantastiese lewe kan die gevolg wees.

Selfontdekking beteken om bewus te raak van jou potensiaal, karakter en motiewe. Die oomblik dat jy jou “oogklappe” oplig vir die lewe en vir ander, gebeur daar iets. Daar vind ’n oordrag van energie tussen jou en ander mense plaas. Jy is op pad om te word wie jy eintlik moet wees!

Wees eerlik oor jouself en jou verlede

Daar is talle indrukwekkende uitvindings – die wêreld is ’n opwindende plek! Maar wat help al hierdie ontdekkings as jy, die kroon van die skepping, jouself nooit leer ken en jou volle potensiaal uitleef nie? Myles Munroe het gesê: “Die belangrikste ontdekking wat jy ooit kan maak, is om jouself te ontdek.”

Ons is geneig om vas te klou aan ons stories. Jy laat toe dat die verlede ’n kamer in jou hart beset en jy gaan gereeld daar kuier. Dan vertel jy vir jouself daardie stuk sonde of onreg of onsekerheid is wie jy is. Maar dis nie waar nie!

Dit is belangrik om die baie stemme in en om jou stil te maak. Ruim tyd in vir jouself en geniet soms jou eie geselskap. Wees eerlik met jouself: Jou stories is jou stories. Wat gebeur het, het gebeur. Leer daaruit, en beweg aan.

Niemand is perfek nie, ook nie jy nie. Hoe beter jy jouself egter ken, hoe gelukkiger sal jy wees en hoe meer kan jy vir jou mense beteken. Kies doelbewus ’n ander manier van “wees”. Met ander woorde, ontwikkel vaardighede wat jy kan gebruik om jou sterk en swak punte beter te hanteer. Tydens ’n konfliksituasie kan dit help as jy agterkom wanneer jy oorsensitief is en hoekom dit dan jou gedrag beïnvloed.

Wees saam met mense wat vir jou lief is

Jy is miskien bevoorreg om familie en vriende te hê wat jou soms beter ken as wat jy jouself ken.

Die mense met wie jy baie tyd deurbring, kan dit vir jou makliker te maak om die beste weergawe van jouself te word.

Hierdie mense dra jou belange op die hart. Nog voordat jy besef jy jaag die verkeerde drome en doelwitte na, weet hulle dit reeds. Hulle weet ook dalk net hoe om met jou daaroor te praat sodat jy regtig hoor. Vertrou hulle!

Jy bring moontlik ’n groot deel van jou dag by die werk deur. Probeer dan om ’n beter verhouding met jou kollegas te kweek sodat julle mekaar kan ondersteun. Jy sal sommer beter vaar as jy probeer om dinge vanuit hulle oogpunt en perspektief te sien en te verstaan. As jy in ’n bestuursposisie is, kan jy vir jou ondergeskiktes keuses gee en mooi verduidelik hoekom jy raad of kritiek uitdeel.

Volg jou eie drome, want jy is uniek!

As jy jouself goed leer ken, en jou unieke persoonlikheid en waardes uitleef, word jy ’n buitengewone mens. Natuurlik verg dit moed. Jy moet voor die spieël gaan staan, na jouself kyk en sê: “Ek is my eie mens. Ek het my eie gedagtes, my eie woorde en my eie drome. Ek is nie soos ander vroue nie. Wie hulle is, hoef my nie te beïnvloed nie.”

Die belangrikste ding wat jy kan doen om jou ware self te vind, is om die regte doelwitte na te streef. As jy al jou energie bestee aan dinge wat nie weerspieël wie jy regtig is nie, gaan jy nie gelukkig of vervuld wees nie. Moenie dat ander mense vir jou besluit hoe jy moet leef of wat jy moet doen nie.

Kies vandag om, ten spyte van omstandighede of dinge uit die verlede, jouself beter te leer ken en jou uniekheid te vier. Wees genadig met jouself. Wees dankbaar vir die lesse van die verlede en droom oor jou toekoms. Jy is jý!