Wees katvoet vir nuwe verhoudings

0
85
nuwe_verhouding.jpg

’n Gebroke huwelik beteken nie dat jy nooit weer sal lief hê nie.

Vandat ek geskei is, het ek al heelparty mansvriende gehad. Sommige is bloot wonderlike geselskap, ander heeltemal platonies en dan is daar dié met wie daar ’n definitiewe moontlikheid van ’n romantiese verhouding bestaan. Wanneer ek voor dié kruispad staan, dan herinner ek my daaraan dat dit waarskynlik ’n goeie idee is om ’n romanse te hê, maar beslis nie die beste idee in die stadium van my lewe nie. Om tans enkellopend te wees, is ’n doelbewuste bevestiging van my onafhanklikheid om vir eers alleen te wees.”

Maar Suzette weet ook dat daar ’n tyd gaan kom wanneer sy graag weer ’n verhouding sal wil koester met iemand met wie sy die toekoms tegemoet sal kan gaan.

“Met 40 wat in die toekoms wuif, sal ek jok as ek sê dat ek nie bang is om alleen oud te word nie.

’n Deel van my wil die laaste van my “mooi” en gesonde dae saam met ’n lewensmaat deurbring voordat tyd sy tol begin eis. Ek besef egter dat ek nie nou al gereed is nie en ook nie my kinders nie.”

Ek het onlangs met my eie twee kinders, Graydon (6) en Skye (4), oor dieselfde onderwerp gesels. Hulle wou weet of ek weer gaan trou en Skye wou weet of ma ’n boyfriend het?

Dit breek jou hart om te sien hoe vinnig egskeiding jou kinders in die grootmenswêreld insleep. Jy voel magteloos en skuldig omdat hulle weens die omstandighede by so ’n gesprek betrokke moet raak.

Ek kon egter sien dat Graydon onseker voel en antwoorde soek. Ek het bloot gesê dat ek nie op die oomblik met enigiemand spesiaal uitgaan nie. “Mamma geniet bloot haar vryheid, onafhanklikheid en die tyd wat sy vir haarself en vir julle het,” het ek vir Graydon gesê. “Maar,” het ek bygevoeg, “daar sal ’n tyd kom wanneer ek alleen gaan begin voel. Wanneer daardie tyd kom sal ek ’n behoefte hê om met mansvriende uit te gaan en iemand spesiaal te ontmoet.”

Dis eintlik ongelooflik hoeveel kinders verstaan. Ek dink hulle voel half skuldig en verantwoordelik omdat ek tans enkellopend is en bekommer hul, op hul kinderlike manier, of ek gelukkig is.

Wág voor jy weer trou

Die meeste vroue wat vir ’n tweede of selfs ’n derde keer in die skeihof beland, sê hulle het te gou weer in ’n verhouding beland na hul eerste egskeiding. Maar hoe weet ’n mens wanneer jy gereed is vir ’n volgende verhouding na egskeiding?

Lathicia Klackers, ’n kundige in “herstel na egskeiding”, sê dit is een van die algemeenste vrae wat sy kry: “Wanneer is ek gereed om weer te begin uitgaan?”

“Om te skei tas jou selfvertroue aan en daarom het jy tyd nodig om te herstel,” sê sy.

“Dit is wys om ten minste twee jaar te wag om van ’n gebroke verhouding te herstel,” sê sy. “Enige verhouding wat voor dié tyd aangegaan word, kan bloot as ’n susmiddel dien vir die vorige verhouding.

Dit is omdat egskeiding jou noodsaak om te verander; en verandering is nooit ’n maklike proses nie.

Wees reg vir huwelik nommer twee

Staan by jou beginsels

Wanneer jy weer begin uit gaan voel jy dat jy moet toegee aan emosionele of seksuele druk omdat jy dalk “vir ewig” enkellopend gaan wees. “Moet dit nie doen nie,” sê Lathicia. Staan by jou Christelike beginsels.

Hoe lank gelede was hy in ’n verhouding?

Dis waarskynlik dat jou nuwe liefde ook geskei is. Voordat jy tot so ’n verhouding commit, of ’n ernstiger verhouding oorweeg, wees seker dat daardie persoon ook sy tyd “uitgedien” het, dat hy sy egskeiding verwerk het. Anders raak jy in die bose kringloop van sy onopgeloste emosies vasgevang!

Moet iemand jou aanvul, of vervul?

Jy is gereed vir ’n nuwe verhouding indien jy besef dat die ander persoon jou moet komplementeer, nie vervul nie. Moet nie uitgaan omdat jy na ’n pa vir jou kinders soek nie, of omdat jy dit nie kan verwerk om alleen of enkellopend te wees nie.

Is jy gelukkig as enkellopende?

As jy gemaklik is met jou “alleenheid”, is jy gereed om weer te begin uitgaan. Dis egter belangrik om die nuwe verhouding baie stadig te neem. Probeer om die proses van “iemand-nuut-weer-te-leerken” te geniet en te koester.

Ken jou kinders in jou hartsake

Dis ongelooflik belangrik om met jou kinders te praat. Afhangende van hul ouderdom, vertel hulle dat dit vir jou belangrik is om ook ’n sosiale lewe te hê wat beteken dat jy soms met mansvriende sal uitgaan. Dis essensieel dat hulle weet dat hulle steeds die belangrikste mense in jou lewe is en sal bly, al is daar ’n ander persoon.

Neem soveel tyd as wat jy nodig het om jou seer hart en gemoed te genees! Jy sal goed weet wanneer jy gereed is om ja te sê wanneer iemand spesiaal op die horison verskyn.