Wees kundig en maak meer geld

2954
Wouter Snyman
Wouter Snyman

Die doel van welvaart is om meer geld in jou lewe te laat invloei deur middel van byvoorbeeld beleggings of ’n passiewe inkomste.

Toe ek net begin leer het oor finansies, het ek die volgende gedoen: Ek het heel eerste al my rekeninge betaal, dan het ek my leefgeld vir die maand opsy gesit en as daar dan iets oorgebly het, het ek dit gespaar. Dit klink tog logies, nie waar nie? Maar dis die verkeerde manier.

Betaal eers jouself en dan jou skuld

Jy moet jouself heel eerste betaal. Goed, eintlik tweede, want voor jy nog iets kry, het die Ontvanger klaar sy deel gevat. En natuurlik die mediese fonds en groepvoordele. Wat jy aan die einde van die maand kry, is jou netto salaris.

Die eerste ding wat jy moet doen, is om 10% van jou netto inkomste elke maand te spaar. As jy baie skuld het, sit dan die ander 20% eenkant om jou skuld mee af te betaal.

Die 70% van jou salaris wat oorbly, kan jy nou gebruik om van te leef. Sodra jy jou skuld klaar afbetaal het, moet jy die hele 30% spaar. David Bach skryf in sy boek The Automatic Millionaire dat as jy jouself eerste betaal, jy op pad is om ’n miljoenêr te word!

Verdien meer deur ’n kundige in jou veld te wees

Het jy geweet jy kan ’n inkomste verdien en tegelykertyd ’n belegging in iets maak? As jy byvoorbeeld belê in toerusting waarmee jy jou eie groente- en vrugtetuin kan aanlê, sal jy later op jou kruideniersrekening spaar. Jy moet egter jou tyd ook by die koste inreken, tensy die tuinwerk as oefening of ontspanning tel.

Ons probleem is nie noodwendig ’n gebrek aan geld nie, maar die waarde daarvan. Dit werk nou maar eenmaal so dat mense jou betaal vir die waarde wat jy toevoeg, en nie altyd die tyd wat jy daaraan bestee nie. Kom ons neem ’n kelner as voorbeeld. Ons almal weet dat wat inkomste betref hierdie werk redelik laag op die geldskaal lê. Hoeveel geld jy verdien, word bepaal deur die mededinging in die mark. ’n Kelner het nie ’n graad nodig nie, en daarom is daar hordes wat die werk kan doen.

Jou salaris word ook bepaal deur jou opvoeding en kundigheid. Jy moet darem ’n paar opgestapelde borde kan dra. Die laaste ding wat jou inkomste bepaal, is hoeveel mense jy kan bedien. As kelner kan jy ten minste twee of drie tafels tegelyk bedien.

Doen iets wat ander tot hoër hoogtes inspireer

Kom ons kyk nou na ’n neurochirurg. Hulle is baie skaars, gevolglik is die mededinging nie so straf nie. Hoekom? Want die kundigheid wat vereis word, is op ’n baie hoë vlak. Die chirurg kan ook net op een brein op ’n slag opereer.

Ernie Els is een van ons land se bekendste gholfspelers en een van die rykstes in die wêreld. ’n Mens skop nie ’n wêreldklasgholfspeler agter elke bos uit nie, en jy moet weet wat jy doen om ’n gholfstok op professionele vlak te kan swaai. Die voordeel van ’n gholfspeler is dat miljoene mense op een slag na hom kan kyk op TV, en daarom is die geleentheid om geld te maak soveel groter.

As die kompetisie in jou mark straf is, maak planne om jou kundigheid te verskerp. Hoe meer mense se lewens jy positief kan beïnvloed, hoe meer geld gaan jy verdien.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.