Wees lief

Cordelia se splinternuwe enkelsnit, “Wees lief”, is een waarin sy die siel agter haar sang in pragtige eenvoud blootlê – ’n diepgaande boodskap in ’n aangrypend mooi musikale pakkie!

Die hart van hierdie snit is iets wat al ’n geruime tyd in Cordelia klop: “Ek wil nog altyd meer as net sing en optree. Ek wil ’n verskil maak,” sê sy. “Die tipe verskil wat mense inspireer om hoop en liefde in alle omstandighede te kies en te lééf.”

Die snit groei van aanvanklik akoestiese snaarklanke en stem tot die byvoeging van ’n sterk bas- en simfonielyn, tot vol harmonieë en orkes met trom en selfs tegno-elemente. Nes die musiekvideo wys, werp dit ’n blik op die verskillende nuanses van liefde – van vriendskap en gesins- en familieliefde tot die onbreekbare band van jare lange, godgegewe liefde tussen man en vrou.

Dit sing van ’n liefde wat verstaan, bly staan, saamstaan deur alles, ander opbeur en red uit hulle donkerste tye met ’n “water van liefde”.

“Dit gaan oor ’n liefde wat op ’n amper kinderlik eenvoudige manier enige uitdaging, hoe kompleks ook al, te bowe kan kom,” sluit Cordelia af. “Dit gaan oor liefde vir jouself en liefde vir jou naaste, wat uiteindelik uiting vind in goeie dade, dade wat die lewens van ander ten goede te verander en hulle weer op hul beurt te help om lief te hê.”